Wys my 'n goeie mens

Wys  my 'n goeie mens
Foto deur Vimal S / Unsplash
Illustrasie: ANGELA TUCK

Liewe feesvierendes

Ons kyk korreloog na die nuus en sien Epstein en sy hoë vriende, grinnikend in stralers met sjampanjeglase en minderjarige meisies. Jagse perverte, meedoënlose roofdiere. En Israel wat Palestynse huise naby Jerusalem platslaan vir 'n nuwe Joodse nedersetting. Venezuela wat krepeer. Rusland wat Oekraïene weer bombardeer. 'n Seun wat sy ouers se kele afsny. 'n Man wat sy eksvrou reeds vyftien jaar bedwelm en verkrag. Nóg een. Ensovoorts.

Evangelie beteken "goeie nuus". Dis wat ons soek. Ek wil nie preek nie; ek wat nie meer kerk toe gaan nie. Maar ek hóú van Liewe Jesus. Vromes sal aandring op die volle titel: Die Here Jesus, maar wat my oorrompel is sy menslikheid. Ek het 'n ingebore verlange na 'n regvaardige man. Nie iemand soos Bart Nel vol egoïsme, trots en steekse hardkoppigheid nie. 'n Nederige, goedhartige man. Gelukkig ken ek 'n paar van hulle.

Dis gaaf om te lees van iemand wat soos 'n wortel uit droë grond opgespring het, sonder gestalte, heerlikheid of voorkoms. 'n Man van smarte, bekend met krankheid, soos 'n lam ter slagting al het hy geen onreg gedoen en was daar geen bedrog in sy mond nie. Die Leeu van Juda, die Roos van Saron, die Blink Môrester, die Lelie van die dale.

Toe ek jonk was, het ek 'n pers flessie gehad met potpourri waarvan ek net soms die deksel oopgemaak het tot dit verslaan het. Die geur was lieflik. Die naam was Leletje der dalen. Ek kon dit nooit weer opspoor nie, maar dit was 'n oomblik in my lewe.

Sodom en Gomorra is vernietig omdat daar nie tien regverdige mense in die dorpe gevind kon word nie. Ek dink dis bykans onmoontlik vir mense om deurgaans regverdig te wees. Maar ons het ons oomblikke. Ek dink aan Ahmed al Ahmed wat dié maand een van die skieters in die Bondi Beach-aanval oorrompel en ontwapen het. Helper en redder. Hoendervel en trane.

Dís die stories wat ek in die Feestyd wil hoor; van die silwer randjies rondom gitswart wolke.

Ek weet Jesus is nie in Desember gebore nie en Kersbome is heidens soos die Paashaas. Ek weet Kersfees is 'n kapitalistiese komplot, 'n vals verbruikersidille. Ek weet Jesus is nie in Bethlehem in Suid-Afrika gebore nie want hulle kon nie drie wyse manne in die Vrystaat vind nie. Een van my gunsteling-memes wys drie wyse manne en 'n skare van derduisende wyse vroue. Drie wyse vroue sou aanwysings gevra en betyds opgedaag het met praktiese geskenke soos doeke, kos en wyn. Met erbarming.

Menslikheid is 'n problematiese term. As ons dan so verrot en ver van volmaak is, moet dit eintlik 'n skelwoord wees. Dierlikheid sou 'n groter kompliment wees, maar diere kan nie praat nie en hulle reputasie word gedurig aangetas. Diere is nie boos soos mense nie. Hulle maak dood om te eet en oorleef. Die natuur is wreed en effektief. En suiwer. Dierbaarheid dan, miskien?

Diere is suiwer soos engele.

Iemand vertel my die aarde het vir millennia aan virusse behoort. Dat mense maar ter elfder uur hier opgedaag en begin verniel het. En dat virusse ons sal oorleef. Ons is weerloos en efemeer, 'n blur in die truspieëltjie, 'n oomblik in die wind. Die dae is lank maar die jare is kort. Al wat ons kan saamvat – want ek glo nie ons hou op soos 'n lig wat afgeskakel word nie – is liefde.

Virusse lyk na Kersversierings. Rolling Stones / Shutterstock.com

Ongelukkig, lyk dit my, is diegene wat in die menslike samelewing oorwin en bo uitkom, ook virusse. Ek wil nie name noem en my blog besoedel nie. Wat sag is, vergaan en die venynigste oorleef. Dié met die minste meegevoel.

As ons maar net vir een dag sag en genadig kon wees, met naasteliefde. Maar die druk word juis in die Feesdae te veel vir aggressiewes met septiese wrokke en bose agendas. Geweld ruk hande uit. Die paaie is oorlogsones. Om die feestafels bars stokou swere oop. Ek is maar bly dis nie regtig Jesus se verjaarsdag nie. En ek bly hoop op joligheid.

Hoop jou Kersdag was sag en ek hoop volgende jaar hou minder verliese in. Ek wens ek kon die pers fles Leletje der dalen vir 'n paar sekondes oopmaak dat die viooltjieagtige geur die hele wêreld vul.

Liefde
Deborah

ek sal waak oor jou drome
ek spyker die vlieë teen die muur
ek wag gewapend vir die son
en die wind
en die reën
as jy lag sal ek lag
en as jy huil
klein beminde ...
moenie huil nie

Breyten Breytenbach


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe