Wraakengel en gayliefde

Ek het 'n huishoudelike noir en 'n jeugfiksieboek gelees. Laasgenoemde is nie iets wat ek in die boekwinkel sou optel nie, maar as boekeblogger lees ek alles wat op my tafel beland en dikwels is ek aangenaam verras.
Freida McFadden, met die ongewone spelling van haar voornaam en die onverwagse spanningsituasies wat sy opdroom, het reeds my oog gevang. Sy is 'n meester van snaarstywe storielyne. Hierdie noir beïndruk my omdat dit min of meer op een plek afspeel: 'n Hut in die woud. Daar is terugflitse na gebeure op ander plekke, maar dis hier in die woud waar die leser haar deurentyd bevind. Ek hou van eenvoud. Dit sal maklik verfilm.
Casey het uitgewyk na die hut nadat sy as onderwyser haar humeur verloor het. Een van die kinders is gedurig deur haar pa mishandel. Casey het dit aangegee, tevergeefs. Eendag toe die pa die kind weer in die parkeerterrein verskree, het sy sy motor met 'n bofbalkolf bygedam. Sy voel sleg daaroor, omdat sy weet dat die vernederde pa bloot sy aggressie op die kind gaan uithaal. Dit word later duidelik waarom kindermishandeling Casey so ontstel: Dis na aan haar vel.
Op 'n dag gewaar sy 'n gesig voor die hut se venster. Dis 'n tienermeisie wat weggeloop het. Eleanor is nors en swygsaam en verstrek geen inligting oor haar agtergrond nie. Sy dra 'n mes en sy het letsels op haar arms waar sy deur sigarette gebrand is.
Intussen, in alternatiewe hoofstukke, beleef ons Ella se moeilike lewe deur middel van terugflitse. Mishandeling en wegloop nadat sy die huis aan die brand steek met haar ma - 'n besope, venynige, obsessiewe pakrot - daarbinne.
Die leser begin verstaan wat gebeur het, of so dink jy. Wees gewaarsku: So eenvoudig is dit nie. Daar is 'n allemintige kinkel in die kabel. Onthou, die hoeksteen van huishoudelike noir is die onbetroubare verteller. Die leser staan in dryfsand.
Eleanor is op soek na haar pa wat haar en haar ma versaak het.
Heeltemal afgeleë is die boshut ook nie. Casey het 'n aantreklike buurman wat nogal danig is met haar, maar sy wantrou alle mans en moedig hom glad nie aan nie. Hy is boonop geheimsinnig oor sy verlede. Kan hy Eleanor se pa wees? Jy sal maar self moet lees.
Dis 'n boek wat jy op een reënerige aand tot diep in die nag sal verslind.
The Intruder deur Freida McFadden is deur Sourcebooks uitgegee en kos R290 by Graffiti.

Toe ek jonk was, was daar nie juis liefdesromans oor gay jongmense nie. Daar was amper-klassieke boeke soos The Well of Loneliness, oor twee vroue se liefde. Daar was Marlise Joubert se Klipkus wat my en vele jong meisies wat desperaat wou glo dat hulle straight was, vreemd begogel het. Vandag lyk die wêreld anders, dank die hemel.
You've Found Oliver is 'n liefdesverhaal, dis duidelik uit die romantiese voorblad wat spreek van aangetrokkendheid eerder as erotiek. Twee mooi jong seuns, die een vaagweg Oosters, hou mekaar se arms vas te midde van blare en bloeisels. Ek neem aan dis die verteller, Oliver, en die liefde van sy lewe, Sam. Hulle is van laerskool af maats. Sam is straight en gaan met Julie uit. Oliver kry nooit die kans om hom te vertel hoe hy oor hom voel nie, want Sam sterf in 'n motorongeluk.
Vir die volgende jaar troos Oliver homself deur WhatsApps te stuur na Sam se nommer, wat nog bestaan. Hy stort sy hart uit en vertel hom hoe hy voel. Eendag bel hy per ongeluk die nommer en iemand tel op. Iemand wat baie na Sam klink. Dis die nuwe eienaar van die nommer, Ben, 'n student in astronomie. Hy is gay, soos Oliver, en woon op 'n ander dorp.
Intussen het Oliver besties geword met Sam se meisie, Julie. Hy en Ben is aangetrokke tot mekaar en begin tyd saam deurbring.
Hulle spring nie in die bed nie, selfs hulle eerste soen word lank uitgestel. Daar is 'n paar raaiselagtige oomblikke waar dit lyk asof daar 'n gaping in die ruimte-tyd-kontinuum is. Die storie kry 'n droomagtige kwaliteit: Wanneer Ben vir hom kom kuier, dink Oliver dit is April, maar vind uit dis November. 'n Bakkery wat toegemaak het, is weer oop. Sy sleutel pas nie meer in sy koshuiskamer se deur nie en wanneer hy klop, maak 'n vreemde meisie die deur oop. Sulke goed gebeur telkens wanneer Oliver en Ben saam is, wat die leser laat wonder of hulle dalk parallelle werklikhede bewoon. Of het Oliver teruggereis in tyd? In welke geval daar sekere dinge is wat hy wil regstel voordat hy na die hede terugkeer.
In hierdie dromerige roman is kosmiese metafore ingeweef, soos:
Millions of light years away, two giant black holes have fallen in love. As they move closer together, they become locked in a celestial dance, creating invisible waves that spread throughout the universe ... Their energy travels for all of eternity, sending ripples across time and space, distorting the fabric of reality itself.
Nou-ja, tydreise is tydelik. Sal die twee verliefdes mekaar weer vind, in dieselfde tydsone? Lees self. YA (young adult) fiksie mag jou dalk net verbaas. Het jy geweet daar is 'n Anton Pannekoek Instituut vir Astronomie in Amsterdam?
Dustin Thao is 'n Viëtnamees-Amerikaanse skrywer wat in New York woon. Sy debuutroman, You’ve Reached Sam, is 'n topverkoper.
You've found Oliver is deur First Ink uitgegee en kos R299 by Amazon SA.


When I Heard the Learn’d Astronomer
When I heard the learn’d astronomer,
When the proofs, the figures, were ranged in columns before me,
When I was shown the charts and diagrams, to add, divide, and measure them,
When I sitting heard the astronomer where he lectured with much applause in the lecture-room,
How soon unaccountable I became tired and sick,
Till rising and gliding out I wander’d off by myself,
In the mystical moist night-air, and from time to time,
Look’d up in perfect silence at the stars.
Walt Whitman