Welkom, vriende

Welkom, vriende

Vrye Weekblad se Republiek van Boeke verskuif hierheen. Jy kan alles gratis lees.

Ek lees ook, wel teen 'n fooi, manuskripte, skryf leesverslae en sit hand by met manuskripleiding. Daar is nie 'n tariewetabel nie, want dit verskil van ms tot ms. Kontak my gerus hier.

Vandag deel ek 'n vriendin se storie - Mercia S. Burger is een van die mees onversadigbare lesers wat ek ken en boonop 'n bekroonde skrywer.


Mercia leer om in haar kop te lees

Op sewejarige ouderdom het my lewe onherkenbaar verander. My gesin is uitmekaar en my ouers het oor bergpasse, vinnig vloeiende riviere en provinsiale grense gevlug om so ver as moontlik van mekaar af weg te kom. Met die latere hergroepering van kinders, troeteldiere en huishoudelike apparate was ek daardie jaar in drie verskillende skole, waar ek iewers tussen leerplanne deurgeval en ’n paar lesse verloor het. Teen Oktober, toe ek as nuwe leerling by my laaste skool van die jaar instap, was ek salig onbewus dat ek nie kon lees nie.

Tot vandag toe vind ek dit vreemd – dat ek nie besef het dat ek veronderstel was om te kon lees nie, totdat dit my beurt in die klas was. Ek het na die bladsy gestaar en daar was niks nie, nie ’n enkele woord wou sin maak nie. Ek was stom en verslae. En net so het ek die enigste kind in my Sub A-klas geword wat nie kon lees nie, amptelik ongeletterd, die dom een wat die Juffrou gedurende klasgeselsies liefs sou oorslaan.

So onthou ek ook die presiese oomblik toe ek gesnap het hoe om te lees. Dit was op ’n Sondagoggend waar ek tussen my pa en ouma in die Dopperkerk gesit het, ’n stewige hoed op my kop geplant en my eie psalmboek, oop op die regte plek. Ek het die gegewe psalm uit my kop geken, O goedheid Gods, maar gemaak asof ek uit die boek lees en sing. En net so, in die heilige Dopperkerk, terwyl ek sing, vang my oog ’n paar letters wat ek herken en uitklank – tot my verbasing dieselfde woord wat die gemeente trekkerig sing. Net daar besef ek dat al wat ek moes doen, is om vinnig te klank en al die klanke in ’n ry maak dan ’n woord. Tot my lieflike verligting en dankbaarheid het ek skielik geweet ek kan lees.

Ten minste het die Dopperkerk tot hierdie een en enigste goeie ding in my lewe gelei, nè.

Vandaar het ek alles gelees en uitgeblaker – van die gewraakte Sus en Daan tot die swaaiende Boet en Saartjie, die perfekte paartjie (’n shout out daar vir Biggy). Nadat ek almal om my mal gelees het, het ek besef ek kan dit stilweg in my kop ook doen, soos ’n geheim.

Dit is hoe ek steeds lees. Met dieselfde lieflike verbasing, met ’n lig wat steeds verligting bring. Soms sing die woorde weer soos daardie eerste keer, hard en duidelik, en ander kere is dit my geheim. En ek het aangehou lees omdat ek kon. Met die laaste paar dae van Vrye Weekblad op hande, is dit wat ek elke leser vir oulaas toewens.

Mercia S Burger

Mercia en die Brooklynbrug. Kunswerk: Angela Tuck

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe