Wat lees ons?
Read this story in English on this page.
Ek dink soms ek verstaan waarom vroue nie toegelaat is om romans te publiseer in die nare ou dae toe die wêreld aan mans behoort het nie. Mans het waarskynlik gedink: Hou hulle liewer stil; sê nou hulle vertel hoe ons hulle behandel? Dit dink ek terwyl ek stapels boeke deur vroueskrywers lees waaruit mans nie so glorieryk na vore tree nie. Waar hulle totale kakke is – manipulerend, intimiderend, brutaal, gewelddadig en kinderagtig, onder andere.
Gelukkig ken ek ’n paar uitstekende mans. Een van hulle het hulpeloos toegekyk terwyl ek grootgemaak is. Nou, sal jy vra: watter soort mens kyk hulpeloos toe terwyl iemand dag en nag haar wil op sy kinders afdwing? Die soort pragmatiese mens wat weet: dis of dít of konstante chaos, ’n oorlogsituasie. Daar is mense, en ja, vroue, wat geen teenstand duld nie. Nou het ek so ver afgedwaal dat ek net sowel kan rapporteer: sy leef nog, en met dié dat haar mag getaan het, het sy heel inskiklik geword. Punt in haar guns: sy is ’n onversadigbare leser.
My slotsom: Ménse is manipulerend, wreed, gewelddadig, beherend. Omdat mans so lank die hef in die hand gehad het en die narratief beheer het, is dit nou vir vroueskrywers bevrydend om hulle vergrype aan die groot klok te hang. As ’n sisteem sekere mense bemagtig, sal hulle dit uitbuit, lyk dit my.
Die eerste boek wat ek vandeesweek gelees het waarin mans hulle sleg gedra, was Book People deur Paige Nick. Ken jy vir Paige? Sy is van hier, het naam gemaak as rubriekskrywer in Sunday Times en in die advertensiewese. Sy het al ’n hele paar boeke geskryf. Nick het ’n wonderlike oog vir satire en spot met bombasme. Sy modereer ook die Facebook-blad The Good Book Appreciation Society, wat ’n rol speel in die roman.
Die roman speel in Londen af. Norma Jacobs is van Suid-Afrika en ’n rekenmeester, maar haar liefde is skryf en boeke. Sy woon saam met ’n werklose lummel wat vir jare al voltyds aan sy boek skryf, glo. Sy betaal al die rekeninge terwyl hy heeldag op Playstation rondhang, bier drink en aaptwak rook. Hy is lui en ongeskik en uiters geïntimideer toe sy stil-stil, tussen al haar werk en huiswerk deur, ’n boek skryf. Hy lees die manuskrip en skiet dit heeltemal af net om haar te ontmoedig. Skryf is immers SY terrein. Hy gedra hom selfs slegter, maar ek wil nie alles hier weggee nie.
Norma is 'n bleeksiel. Sy dra ’n bril, is effens oorgewig en sukkel met konflikhantering. In ongemaklike situasies begin sy popliedjies neurie. Maar sy is ’n raakvatter. Haar Facebook-blad, The Good Book Appreciation Society, ruk ook hand uit nadat iemand (wat agter die identiteit van ’n bejaarde vrou skuil) ’n besonder stink resensie skryf oor die boek van een van die skrywers op haar blad, Harry Shields. Harry is nog ’n man wat hom uiters sleg gedra. Hy is opgeblase, arrogant en lief daarvoor om sy eie beuel te blaas. Hy kan geen kritiek hanteer nie. Sy arme, geduldige vrou is ’n chirurg. Hy rafel toenemend uit en maak almal mal met sy wraak-obsessies. Dan word die bejaarde vrou in wie se naam die resensie geskryf is, beseer in ’n tref-en-trapongeluk.
Intussen het Norma bedank en sy probeer haar vestig in die boekewêreld, as intern by ’n uitgewer en in ’n boekwinkel, waar haar bestuurder ’n derde man is wat hom klaaglik gedra. Jy moet dit self lees – dis snaaks en spannend en ’n verfrissende kykie in die wêreld van skrywers, lesers en boeke. Ek beveel dit hoog aan.
Book People deur Paige Nick is deur Pan Macmillan uitgegee en kos R271 by Amazon SA.

Ek het nog ’n boek gelees waarin ’n man hom soos ’n poephol gedra. Adeleide deur Genevieve Wheeler is ’n debuutroman. Dis soos ’n moderne Rebecca: Adelaide is ’n Amerikaanse meisie, so ’n Sylvia Plath-tipe: briljant, perfeksionisties, effe bipolêr, hiper, met ’n groot hart en eindelose vrygewigheid; die soort mens wat liefhet sonder brieke.
Rory Hughes is ’n lang, aantreklike Brit. Sy ouers het verongeluk toe hy klein was en hy het kwessies. Hy gee nooit te veel van homself nie, hy is altyd ongeërg, verdwyn vir dae op ’n slag, antwoord nie WhatsApps of oproepe nie. Dan gaan sy vorige geliefde dood; ook ’n beeldskone, briljante vrou met ’n hart van goud. Hulle was vir jare saam, maar hy wou hom nie finaal aan haar bind nie. Nou is hy gebroke en Adelaide bederf, koester en troos hom om elke draai. Dit terwyl sy haar vestig in ’n uitdagende beroep.
Dis duidelik dat sy hom hartstogtelik liefhet en hy, wel hy hou van haar. Op sy terme. Sy mag byvoorbeeld nie by hom oorslaap nie, want sy slaap te rusteloos en hy het sy nagrus nodig.
Die leser kyk hulpeloos toe terwyl die engelagtige Adelaide (goed, sy kan emosioneel nogal uitputtend wees) haar afsloof en fisiek en geestelik uitrafel tot daar min van haar oor is. Jy moet self lees hoe dit uitspeel. Daar is elemente van ’n klassieke liefdesverhaal en van die heel eerste huishoudelike noirs, soos Du Maurier s’n.
Adelaide deur Genevieve Wheeler is deur Aria uitgegee en kos R376 by Amazon SA.

Vir afleiding het ek ’n Harlan Coben gelees. Coben stel nooit teleur nie. Hy is soos die Wimpy: jy weet presies wat jy gaan kry en dis altyd bevredigend. Min skrywers kan ’n misdaadstorie so pakkend vertel soos Coben.
Nobody's Fool deur Harlan Coben stel nie teleur nie. Die verteller, Sami Pierce, se ouers kom van Pakistan. Hy is kort, skraal en bruin maar skynbaar beskik hy oor die X-faktor, want vroue swig voor hom. Die roman begin toe hy op 20 in Spanje gerugsak het. Hy het Anna, ’n betowerende vrou, in ’n klub ontmoet en ’n lieflike vakansieromanse gehad, tot hy een oggend wakker word met bloed aan sy hande. Langs hom in die bed lê sy met ’n mes in haar bors. Hy het hom gou uit die voete gemaak en kwel hom lewenslank daaroor.
Tot hy haar een aand springlewendig gewaar, nogal by ’n klas wat hy gee. Sy hardloop weg, maar hy volg haar en met die hulp van sy vriende vind hy uit sy is Victoria, die dogter van ’n skatryk gesin. Sy is jare gelede ontvoer en het na meer as ’n dekade huis toe gekom, met geheueverlies.
Sami is intussen gelukkig getroud met ’n lieflike vrou. Hulle het ’n babaseun. Hy was ’n polisieman, maar is afgedank omdat hy nie altyd binne die lyne ingekleur het nie. Nou is hy privaatspeurder. Victoria se pa ontbied hom en vra hom om ondersoek in te stel: hulle sal graag wil weet wat destyds gebeur het. Hy skop ’n bynes oop en sy lewe, en sy vrou en kind s’n, is in gevaar.
Coben het ’n manier om ’n goeie Amerikaanse man se stem in te span, so ’n self-ironiserende, sensitiewe man met ’n skeut seunsagtigheid, wat baie onderhoudend is. Jy kan dit nie neersit nie. En ja, hier was ook ’n man wat hom sleg gedra het, maar ek kan nie sy identiteit verklap nie.
Nobody’s Fool deur Harlan Coben is deur Penguin Random House uitgegee en kos R350 by Graffiti.


Huurling
Aansoeke word ingewag om die betrekking
van huursoldaat vir 'n nog te beplande oorlog.
Vervoer kosteloos. Besoldiging so-so.
Vereiste kwalifikasies: diverse littekens,
vliesige herinnerings aan Kuba en Kataga
en op die voorkop die Biafraanse Kaïnsmerk.
Jong, hier's hy, kranige kolpolteur van die dood
met jou vossnorretjie, jou blaasvlamblou ogies
meneer raapskraap, meneer koelsmoel! Komaan!
Man, ou pang, ou afgetrede oud-alles, tuis pure
drel, maar boeta, sit hom tussen vlerke! Komaan!
Afgetakelde hiperheld, daar's 'n stryd te stry!
'n Stryd te stry, inderdaad, om die bladlose
woude van Suidoos-Asie waar stronke van bome
verrys bo laagliggende gasse, 'n stryd om die
melaatse ruïnes in Rotterdam, Dresden, Hirosjima.
Kyk hoe netjies roof ons held se geoefende hande
sy klein profyt in die groot gemanipuleerde profyt!
Toe komaan! Julle paens van poenskoppies!
Julle opgeruimde middeljarige adolessente,
ramkat, oooo, die bieliebaasloodse met die
strokiesprentglimlag en die plunderende blik!
Hier's jou kans, hier, verrimpelde Boy Scout,
hinkend op jou bene slepend swaar van sjrapnel.
Slaggereed die ereksies van projektiele,
strategies opgestel, en slaggereed en verseël
die duikbote, elegant in grys, net vir geval
die kolletjies ooloë, hier, daar, oraloor
soos velkanker sprei en sluit oor die verwese
gesig, en om die sku oë, van die eerste mens
Wilma Stockenström