Waansin & appeltert

Foto deur Pesce Huang / Unsplash

Ek bly verbaas oor die manier waarop die boeke wat ek in ’n bepaalde week lees, dikwels in ’n tema saamval. Twee boeke wat ek hierdie week gelees het, het geestesgesondheid as tema.

The Strange Case of Jane O deur Karen Thompson Walker is my soort boek: ’n sielkudige riller. Dit speel in New York af, ’n gunstelingspeelplek waar ek nog nooit was nie.

Jane O daag by ’n psigiater se kantoor op. Sy was blykbaar jare vantevore daar, maar hy onthou haar nie. Dr Henry Byrd is ’n wewenaar – sy vrou is deur 'n afleweringswa doodgery en hy maak sy dogtertjie alleen groot. ’n Goeie mens.

Hy raak redelik betrokke by Jane O se probleme. Sy is merkwaardig: een van daardie mense wat elke ding kan onthou wat ooit met haar gebeur het, in die fynste detail, dag en datum. Dit moet ontstellend wees as jou brein nie ’n filter het om van sekere onbenullige herinneringe ontslae te raak nie. Sy is perfeksionisties en gedrewe. Sy het ’n baba en sy ly aan depressie, angsaanvalle, hallusinasies en ’n gevoel van naderende onheil.

Sy ervaar eienaardige episodes waarin sy vir ’n paar dae uit haar eie lewe verdwyn en waarvan sy agterna niks kan onthou nie. Blykbaar is daar wêreldwyd opgetekende gevalle waar mense gaan brood koop en nooit huis toe kom nie. Jare later woon hulle in ’n ander staat onder ’n ander naam en kan niks van hulle vorige lewe onthou nie. Fugue states, word dit genoem. “Fuga staat” verskaf Google, maar ek weet darem nie.

Dis ’n verkenning van die ongekarteerde uithoeke van die menslike psige – absoluut fassinerend. Die karakters is volrond en die storielyn kry jou aan die nekvel beet. Dr Byrd is so betrokke by en selfs geobsedeerd met Jane O dat hy haar behandeling staak en haar na ’n kollega verwys. Maar dan verdwyn sy en haar baba spoorloos. Dis spannend en aangrypend. Ek beveel dit hoog aan.

The Strange Case of Jane O deur Karen Thompson Walker is deur Penguin Random House uitgegee en kos R374 by Loot.


Freida McFadden se Ward D is ook ’n sielkundige riller. Dit speel in een nag af, met heelwat terugflitse.

Amy is ’n mediese student wat vir ’n nag diens moet doen in ’n saal vir mense met ernstige sielkundige probleme. Daar is selfs iemand wat vasgeboei en toegesluit is soos ’n dier. Sy is uitermatig angstig oor dié nag en die leser vind spoedig uit waarom: Die laaste keer toe sy in daardie saal was, was dit om haar jeugvriendin te besoek en dié se woorde was: “Jy is die een wat hier hoort.” Wat het tussen hulle gebeur?

Tot haar verbasing is haar jeugvriendin weer in die saal opgeneem en hou haar stip dop. Gaan sy die versoeking kan weerstaan om haar eertydse vriendin se lêer te lees?

Dan begin dinge lelik skeefloop in Saal D. Dis ’n wipwarit en ek kon nie vinnig genoeg omblaai nie. Ja, daar is niks so onherbergsaam en vreesaanjaend soos die menslike psige wat ontspoor soos 'n wegholtrein nie.

Ward D deur Freida McFadden is deur Poisoned Pen Press uitgegee en kos R315 by Loot.

Don’t Believe a Word deur Susan Lewis is ook spannend. Ek luister nie podcasts nie. Daar is eenvoudig nie tyd nie – ek sal eerder lees. Nou het ek reeds drie boeke gelees waarin podcasts ’n sentrale rol speel. Dis ’n baie effektiewe manier om die storie te laat ontvou, amper soos ’n draaiboek, met baie dialoog. Onmiddellik, in die oomblik.

Hierdie is die tweede boek oor podcaster Christy Ward. In die eerste het haar man in die greep van ’n middeljare-krisis haar gelos vir ’n jong mamma by haar kinders se skool. Hy het spoedig besef dit was ’n groot fout, maar toe het hy en die nuwe bruid reeds ’n baba. Dit was nogal lagwekkend toe hy en die nuwe bruid altwee vir Christy probeer oorreed om hom terug te neem.

Maar Christy is sprankelend en mooi en sy het (in die vorige boek) betrokke geraak by David, ’n aantreklike, welgestelde man wie se onskuld sy deur middel van haar podcast bewys het – hy was aangekla van driedubbele moord. In hierdie boek is hulle nog saam, maar sy eksvrou, ’n beeldskone en manipulerde Parysenaar, kom kuier en dit lei tot misverstand en afstand tussen Christy en David. Haar eksman, Matthew, probeer met alle mag om veld terug te wen.

Hierdie podcast gaan oor ’n jong vrou, Sadie, wat die span nader met ’n kortverhaal wat deur haar oorlede tante geskryf is, oor twee susters wat ’n dogtertjie steel. Alles dui daarop dat dit die waarheid is en dat Sadie die dogterjie was, veral toe nog meer stories, dagboekinskrywings en briewe aan die lig kom.

Dis ’n lywige boek vol intrige en tergende raaisels wat stelselmatig ontknoop word deur die podcasters. Ligte ontsnappingsleesstof, humoristies en effe soet.

Don’t Believe a Word deur Susan Lewis is deur HarperCollins uitgegee en kos R299 by Loot.


Die laaste boek, The Trad Wife's Secret, het my op die puntjie van my stoel gehou. Ek het nie eens geweet wat ’n trad wife is nie – dis ’n neiging in Amerika (natuurlik) wat, soos in The Handmaid’s Tale, die horlosie wil terugdraai na ’n era toe die man koning en hoof van die huis was en vroulief ’n tuisteskepper en moeder, gedienstig en fleurig. Heelwat jonger vroue wil blykbaar nie meer ’n beroep volg nie, maar hulle toewy aan hulle man en kinders. Dit lei natuurlik tot allerlei vergrype en magswanbalans.

Madison March is trots tradisioneel – sy trek geblomde rokke aan en bak appeltert vir haar kroos. Toevallig is sy ook ’n influencer op Instagram: elke heilsame oomblik word verfilm vir haar volgelinge. Sy het honderdeduisende volgelinge en bring intussen baie geld in, wat reguit na haar man se rekening gaan. Sy laat hom voel dat hy die voorsiener is.

Gaandeweg merk die leser heelwat krakies in Madison se volmaakte beeld. Sy hou nie van kook en huiswerk nie, sy het handlangers wat alles doen, selfs ’n vriendin wat haar kinders baar. Haar man se oog begin dwaal omdat sy nie meer bloedjonk is nie en sy moet telkens die kinderoppasser afdank omdat hy hom vergryp aan die jong bokkies. Boonop staan sy volgelinge af aan jonger tradisionele vroutjies.

Nou begin een van haar volgelinge moeilike vrae stel en die leser begin vermoed dat daar etlike geraamtes in haar kas is. Sal sy haar blinkgepoetste beeld kan volhou? Dit raak uiters spannend, hoor.

The Trad Wife’s Secret is deur HQ uitgegee en kos R525 by Amazon SA.


A Bird, came down the Walk

A Bird, came down the Walk - 
He did not know I saw -
He bit an Angle Worm in halves
And ate the fellow, raw, 
 
And then, he drank a Dew
From a convenient Grass -
And then hopped sidewise to the Wall
To let a Beetle pass -
 
He glanced with rapid eyes,
That hurried all abroad -
They looked like frightened Beads, I thought,
He stirred his Velvet Head. - 
 
Like one in danger, Cautious,
I offered him a Crumb,
And he unrolled his feathers, 
And rowed him softer Home -
 
Than Oars divide the Ocean,
Too silver for a seam,
Or Butterflies, off Banks of Noon,
Leap, plashless as they swim. 

Emily Dickinson


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe