Vroueverneukers en hamerslaners

Read the article in English here.
In hierdie eindelose winter hou huishoudelike noirs en misdaadfiksie my warm. Ek het ’n uitstekende roman in elk van hierdie genres gelees.
Lisa Jewel is ’n juweel wat al amper twee dosyn domestic noirs geskryf het. Don’t Let Him In – onheilspellende titel – stel nie teleur nie. As jy moeg is vir mans of as jy veg teen misantropie, moet jy liewer nie hierdie boek lees nie. Jou bloed gaan kook.
Die sentrale skurk het vele name soos wat hy vele lewens het. Hy is ’n veelwywer wat gesinne jongleer. Hy antwoord nooit sy selfoon nie. Hy verdwyn sonder waarskuwing vir weke. Niemand weet iets van sy verlede nie.
Hoekom verduur die vroue hom? Omdat hy ’n geslepe psigopaat is wat presies weet wat elke vrou nodig het en dit vir haar gee. Hy is aantreklik en sjarmant en romanties en verloor nooit sy humeur nie. Maar daar is altyd ’n volgende vrou wat sy oog vang en wat hy moet inpalm – meestal ook omdat al sy geldmaakplannetjies vou. Hy hou van mooi, suksesvolle vroue met luukse wonings en stewige bankbalanse. Wanneer hy genoeg van hulle gehad het, is hulle selfvertroue en skoonheid geknou en hulle is diep in die skuld.
Die storie word om die beurt deur die vroue en deur die swerkater self vertel. Dis uiters onheimlik om in ’n kop soos syne tyd deur te bring: hy glo onwrikbaar dat hy spesiaal is en net die beste verdien. Ander mense bestaan nie werklik nie, hulle het slegs betekenis wanneer hy hulle kan gebruik. Hy is boonop ’n bekruiper wat jong vroue in die nag op straat volg net omdat hy geïrriteerd is deur die feit dat hulle so vol selfvertroue lyk. ’n Uitvaagsel.
’n Mens hou aan lees om te sien hoe hy aan die pen ry. Dit terwyl die spoeg dik word in jou keel. En jy jou skaam vir jou geslag wat so goedgelowig en siende blind is.
Die titel is wat sy slagoffers dink hulle vir hulle jonger selwe sou sê as hulle kon teruggaan in tyd: Don’t let him in.
Dis ’n boek om in een sitting te verorber, met kloppende hart. Dis ontstellend en uiters leesbaar.
Don’t Let Him In deur Lisa Jewel is deur Century uitgegee en kos R335 by Amazon SA.

Ek hou die beste vir laaste. Waarskuwing: As jy Not Quite Dead Yet deur Holly Jackson aanpak, sorg dat jy ten minste ’n hele nag tot jou beskikking het, want jy gaan dit nie regkry om op te hou lees nie. Jackson het bekend geraak met die A Good Girl’s Guide to Murder-reeks, wat ook ’n TV-reeks geword het.
Hierdie misdaadroman het ’n unieke invalshoek: In die eerste hoofstuk word Jet in haar huis aangeval en vir dood agtergelaat. Sy word van agter met ’n hamer oor die kop geslaan, twee keer teen die agterkop en een keer teen die kant van die kop. Daar is baie bloed. Sy oorleef wel, maar dokters reken daar is ’n skerf van haar skedel op pad na haar brein en dat sy hoogstens ’n week sal oorleef. Hulle kan onmiddellik opereer om dit te probeer verwyder, maar sy ly aan ’n nierkwaal en ’n operasie sal gelykstaande aan ’n doodsvonnis wees. Sy kies om ’n week te bly leef om haar eie moord op te los. Sy is koelkop met ’n donker humorsin en verwys telkens na haar moordenaar, omdat dit maar 'n kwessie van tyd is.
Soos dit gaan, laat die polisie hulle nie aanjaag nie en maak hulle nie juis deurbrake nie. Jet, in ’n resies met tyd, maak heelparty. Die boek het trekke van huishoudelike noir ook – Jet se gesin is hoogs disfunksioneel. Haar sussie, die skitterende ster in die gesin, het in die swembad verdrink en niks wat Jet doen is ooit goed genoeg vir haar ma nie. Haar broer het woedekwessies. Sy besluit om nie haar laaste dae onder hulle dak deur te bring nie. Sy trek by haar jeugvriend in; Billy wat die buurseun was en nog altyd hopeloos verlief is op haar. Hy word haar regterhand in die ondersoek. Omdat daar nie tyd is om te verspil nie, kleur sy nie altyd binne die lyne in nie. Sy word veel wys, ook oor haar en Billy se verlede.
Dis absoluut hipnoties en ’n mens lees al hoe vinniger namate Jet swakker word en die uurglas leegloop. Sy het gedurig hoofpyn, sukkel om te fokus, later word haar regterarm lam en haar een pupil vergroot. Nogtans beur sy voort. Natuurlik is daar ’n verdere aanslag op haar lewe en almal lyk opeens verdag. Selfs Billy.
Hierdie ewig-optimistiese leser het bly hoop dat die skedelskerf sal oplos en Jet met die skerp tong en groot hart sal oorleef. Lees maar self. Oor een ding het ek geen twyfel gehad nie: sy gaan haar eie moord oplos.
Dis ondraaglik spannend en ek het dit nie neergesit nie. Boonop is dit ’n aweregse liefdesverhaal. Ek beveel dit hoog aan. Ek haal Alex Michaelides se woorde op die agterblad aan: “Propulsive, unputdownable and unexpectedly heart-wrenching … a masterclass in thriller writing.”
Not Quite Dead Yet deur Holly Jackson is deur Penguin Random House uitgegee en kos R299 by Amazon SA.


Gielie Hoffmann lees Gerda Taljaard se gedig "Evolusie".