Vloek onder jou eie klere in

Vloek onder jou eie klere in
Foto deur Jasmin Ne / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Vroue en varke is nou hartlik sat vir al die negatiewe publisiteit en skelwoorde wat aan ons gekoppel word. Ek haat byvoorbeeld die d-woord wat ook vir kartonbokse gebruik word. Persoonlik verkies ek die gender-neutrale "poephol". Dis eintlik so 'n onskuldige woord as jy dit ontleed, amper kinderlik. Dit bevat lekker eksplosiewe klanke en pas rond in die mond. Natuurlik heers die patriargie nog vierkantig. 'n Voorbeeld: Kan jy jou indink die skok en verontwaardiging as jy dit sou waag om die uitdrukking "jou ma se p..." te verruil vir "jou pa se poephol"?Heiligskending.

Ek het nagedink oor vloekwoorde toe ek in Petrovna Metelerkamp se meesleurende outobiografie, Sjoe, lees oor Audrey Blignault. Toe Petrovna 'n bundel van Audrey se briewe, 'n Blywende vreugde, wou uitgee, was sy ligweg besorg oor 'n sekere aspek. Aan die etenstafel saam met Audrey en haar man Attie haal sy dit op. Sy verklaar versigtig dat hulle 'n paar woorde moet uitklaar: "Byvoorbeeld die woord 'kak'. Sal ons dit so los? In die boek?"

Audrey het uitgeroep: "Natuurlik!" en haar aangepor om nog beetslaai in te skep. Attie het in 'n sagte stem gesê: "Ja, wat. Waar sy bietjie aards raak, los ons dit so."

'n Sekere mevrou dominee X het later vertel sy het die boek baie geniet, maar dit het haar vreeslik lank geneem om al die godslasterlike woorde uit te tippex. Audrey se reaksie toe sy hiervan hoor: "My liewe Gottatjie, my liewe Heretjie! Kan 'n mens so kuis wees?"

Petrovna Metelerkamp. Audrey Blignault.

Lees gerus Petrovna se boek oor die ervarings van haar leeftyd. Dit het my dikwels hardop laat lag, soos toe prof. Elize Botha gevra is wat haar gunstelingaanhaling in die Afrikaanse letterkunde is en sy sonder aarseling antwoord: "Kaptein, ek kan hierdie kak nie meer vat nie!" Dit kom uit Onse Hymie, van Etienne Leroux.

"Kak" is meer kreet as woord, soos 'n hoes, nies of hik. Die woord word met ligte verbuigings redelik universeel rondgeslinger. Latyns: cacō (grond; om grond af te skei) - Middelnederlands: cacken (om te ontlas) - Nederlands: kakken.

So ook "fok". In Afrikaans het die mees effektiewe knope net drie letters, anders as in Engels, waar daar na hulle as vierletterwoorde verwys word.

Middelnederlands: focke (om te teel) - Nederlands: fok.

In Afrikaans word die woord selfs positief ingespan:

'n Derde drieletterkragwoord wat dikwels gebesig word, dra vir my te swaar aan bagasie en emosie: die naam van die Heer. Ook die knaende Amerikaanse tussenwerpsel "ohmygawd" irriteer my.

Vloekwoorde is intens persoonlik. Ek ry eendag saam met 'n Duitse vriendin. Sy is agter die stuur en snou nou en dan ander bestuurders "arsehole!" toe. Ek laat val die Duitse ekwivalent wat so bars uit die keel ontplof: "Arschloch!" en sy sidder kuis. "O, nee, dit kan ek nie oor my lippe kry nie."

Gekruide taal moet oordeelkundig gebruik word. Waarom jou gehoor grief en antagoniseer?

Toe ek 'n kind was, mag ons nooit gevloek het nie. Jy mog nie eens jou broer 'n vark genoem het nie. My ma het net agter die stuur geswets en altyd in Engels: "Stupid bloody fool!" Ek het intussen besluit woorde is bloot klanke, maar ek verkies meer beskrywende, minder geykte uitdrukkings.

Hertzogpryswenner Johan Myburg het by geleentheid gesê: “Die juisste woord is, soos ek dit sien, die woord wat kwalik vervangbaar is, wat ’n spesifieke lading dek en wat reg op die tong lê ... Swets – ek weet nie of ek vloekgerig is nie – is deel van ’n woordeskat en ek sou nie huiwer om ’n woord uit daardie ‘register’ te gebruik as dit die juisste woord is nie. Ek wil graag woorde gebruik wat die juiste én die juisste is. Of dit nou argaïsmes, leenwoorde, kragwoorde of anglisismes is.”

Daar is eenvoudig situasies wanneer jy nie in staat is tot 'n woord van meer as drie letters nie. Die lewe is nie jou maat nie. Wat die p-woord betref wat rym met "hoes"; ek hou ook nie daarvan nie. Dis vrouevyandig. Dis maar oes, soos die meer onskuldige "poep" wat soos 'n aspersie verlep in die mond.

Ek los jou hiermee, want Januarie is lank en daar is heelwat werk om in te haal ná die geleeglê en bras van Desember. 'n Vriendin stuur die volgende grap:

'n Dokter staan by 'n pasiënt se bed en sê: "Jy was in 'n koma vir 65 dae, welkom terug." Waarop die pasiënt vra: "Is dit nog steeds Januarie?" En die dokter antwoord: "Ja."

Mag hierdie jaar minder kak wees as 2025, en mag jy in verkeersknope meer kreatief en kleurvol swets.

Liefde
Deborah


Gelade

Hoe kon ons daarvan droom
om ons met taal op te hou in stede
van 'n onwêreldse gegrom
om vleis, vlees; weg te kom van pyn.
Soos 'n pypbom in hierdie drukgang
na sy eksplosiewe. "Loop lig,
of stom," moes 'n toornige god
donder donkiejare voor die Babelse
verwarring. Neuk nie met woorde
alvorens jy jou knikker oor-
bedraad, 'n vonk die kasarm
in ligte laaie van binne af laat op-
gee, wat nog te sê 'n bliksem genade.

Fourie Botha


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe