Vertroude vreemdheid

Vertroude vreemdheid

Vriende, medereisigers

Word jy ook van altyd af bloots gery deur déjà vu? Kleintyd, toe die meeste gewaarwordings en indrukke nog splinternuut was, het ek soms skielik besef: Hier wás ek al. In daardie huis agter die suurlemoenboom het ek gewoon. In ’n ander lewe. Deesdae, omdat my omgewing reeds so vertroud is en ek alles al soveel keer gesien het, is dit rustiger. Maar reis krap dit oop: die rustelose amper-onthou.

Intussen het ek verval in ’n Mediterreense loomheid. Woorde waai weg soos papierservette. Dis die eerste keer hierdie week dat ek my laptop oopslaan. Dis alles te veel. Hoe verwoord ’n mens oorweldiging? Ek fikseer maar op oomblikke. Die plotselinge herkenning: hierdie ruwe groen heuwel met yl denne soos skewe kerse, hier het ek meermale gedwaal, in ’n ander inkarnasie. Ek ken elke grashalm, die speelse swiep van die wind. Die lang skadu’s van die agtermiddag.

Selfs die onverstaanbare tale val bekend op my oor. Ek wil-wil verstaan.

Ek het my ideale staat ontdek: beweging. Met verskuiwende landskappe, kantelende horisonne, met seestrome wat hipnoties sirkel. Son op water wat glinster soos ritse en ritse blinkers.

Die lewe op ’n skip is onwerklik soos slaapwandel. Ons was een nag staties, vasgemeer neffens Mykonos. Ek kon glad nie slaap nie, en dit was nie weens die uitbundige partytjiemusiek wat op die wind van die eiland oorwaai nie. Sien, ek is reeds verslaaf aan die suising van die wind, aan die klap van water wat geklief word. Aan ’n bewegende bed.

In hierdie lewe wil ek hang, met voete los van die aarde. In die hangmat op die balkon van ons kajuit swaai ek stadig met ’n oog op die wasige einders. Die hele ervaring is 'n seepbel. Kan die see so blou wees? Om te hang en wieg is soos die voorgeboortelike staat, drywend in vrugwater. Jy weet nie eens genoeg om op iets te wag nie, jy ken niks anders as die eindelose oomblik nie. Daar ís niks meer nie. So dryf ek nou.

Wanneer ons aan wal gaan, word ons deel van ’n malende mensemassa – vasberade toeriste op pad na onmisbare besienswaardighede. Attraksies op die agenda. Ek registreer hier ’n kerk, daar ’n opgrawing of ruïne. Alles vloei ineen in 'n trillende lugspieëling. Ek weier om anders as deur osmose in te neem. Oorgestimuleer, bewend en op die rand van trane wil ek terug kajuit toe, waar dit koel en donker is en die oseaan klots teen die buik van die skip. Ek het 4000 trappies geklim na die stadsmuur van Dubrovnik. By uitkykpunte op duiselingwekkende hoogtes oorrompel die begeerte om te vlieg my, met eie arms. Dringend soos 'n herinnering.

Ek wou dit gesien het, ek wil hier wees, maar ek kan dit nie vir jou oorvertel nie.

Ons het die skip bemeester soos ’n rekenaarspeletjie. Ons ken die vloerplan, die verwarrende draaie en gange, die uitleg van sestien dekke. Deure gaan vanself oop wanneer jy naderkom. Ek het my gunstelingmaaltye: salm of tuna poke bowls vir middagete op die sestiende sondek waar Oosterlinge blitsig vars bestanddele opdis. En die nuwe liefde van ’n ontdekking: firecracker popcorn – bloedrooi, soet en taai en dit brand soos die hel.

Ons seevaart is ’n geskenk – ons sou dit nie vir onsself gun nie, want die rand is so swak en gaan ek ooit weer werk?

Die personeel, van alle uithoeke van die aarde, is hipervriendelik en hulpvaardig. Daar is ’n hele paar Suid-Afrikaners wat met jou Afrikaans praat. As jy wil kan jy deelneem aan allerlei lawwighede, maar ek en my mens is nie juis kuddediere nie.

Gisteraand het ons geluister na ’n duo uit Australië terwyl ons teug aan peperduur mengeldrankies. Daardie sitkamer het so ’n uiters bekende 70’s-gevoel - uitgerafelde sonsoekers uitgedos in aandklere leun terug in diep stoele in die ligpoel van oranje lampe. Die musikante herinner my aan vriende wat in kroeë en restaurante hulle heil gesoek het. Ek was al daar, in daardie oomblikke.

In hierdie magiese wagkamer, hierdie loslit limbo, geld ’n ander ritme. ’n Mens werk aan jou aptyt. Ons lê op die bed en kyk flieks op die TV. Op die tablet wat as afstandbeheer dien, kan jy kliek op “activate cinema mode” dan gaan die ligte af en die digte gordyne na die balkon skuif toe. Ons het Alfred Hitchcock se Psycho gekyk en natuurlik ken ons die storielyn so goed dat dit nie bangmakend is nie, eerder naïef en dierbaar soos ’n ou vriend.  

Ek het hierdie week amper niks gelees nie, want my brein is tegelyk in screensaver mode en intens besig met beuselagtighede. Elke gedagte word voltooi, ontknoop tot in die kern, klaargedink.

W.B. Yeats het die aktivis Maud Gonne lewenslank bemin en gewonder hoe sy lewe sou verloop het as sy liefde beantwoord was:
That had she done so who can say
What would have shaken from the sieve?
I might have thrown poor words away
And been content to live
.

So is dit met lees en skryf. Ek lees om te ontsnap na wêrelde sonder einders. Om alfastaat te bereik, daardie neurologiese nirvana waar alles wieg. Maar wanneer ek my reeds in daardie ruimte bevind, wat word van boeke, en waarom nog soek na woorde?

Ek hang soos ’n insek in ’n waterdruppel. My saamgestelde oog herhaal alles duisendmalig soos die krale in ’n kaleidoskoop. Dis rook en spieëls, betowering en oëverblindery. Dit mesmeraais en ontroer.

Vir solank ek leef sal ek weet: ek was eenmaal vir tien dae op die see. Vaste aarde sal vir ewig ligweg wieg.

Foto: Danie du Plessis

Ek is diep dankbaar dat ek soveel weelde en verwondering kon ervaar.

Liefde
Deborah


Sea-Fever

I must go down to the seas again, to the lonely sea and the sky,
And all I ask is a tall ship and a star to steer her by;
And the wheel’s kick and the wind’s song and the white sail’s shaking,
And a grey mist on the sea’s face, and a grey dawn breaking. 

I must go down to the seas again, for the call of the running tide
Is a wild call and a clear call that may not be denied;
And all I ask is a windy day with the white clouds flying,
And the flung spray and the blown spume, and the sea-gulls crying. 

I must go down to the seas again, to the vagrant gypsy life,
To the gull’s way and the whale’s way where the wind’s like a whetted knife;
And all I ask is a merry yarn from a laughing fellow-rover,
And quiet sleep and a sweet dream when the long trick’s over.

John Masefield


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe