Varksige beheervrate

Varksige beheervrate
Foto deur Tim Mossholder / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the story in English here.

As jy graag huishoudelike noir lees, begin jy kort voor lank dink die ganse manlike geslag is verdag. Dis asof die manlike hoofkarakters in elke roman saamvloei tot een afskuwelike collage van menswees: narsisties, selfsugtig, bullebakkerig, afknouerig, vals en verneukend. Aanvanklik romanties en bedagsaam, en weer vir 'n kort tydjie wanneer die vrou wat hy teister terugkom van een van haar gemiddelde sewe pogings om hom te los. Maar weldra kom nog sewe bose geeste saam terug.

Is daar werklik soveel sulke mans, of is hulle bloot die brood en botter van huishoudelike noir? Dis immers nie romanzas nie.

Ek het verlede week twee noirs gelees waarin Mr Hyde kop uitsteek. Die eerste is nogal 'n debuut: The Names deur Florence Knapp. Dis ongelooflik knap. In die proloog gedra Gordon hom reeds soos 'n agterent. Hy het 'n vername werk en sy vrou, huisvrou en moeder, moet stap (let wel, te voet) om hulle babaseun te gaan registreer. Hulle dogtertjie stap saam. Die plan, soos bepaal deur Sy Edele, is dat die baba sy naam kry: die familienaam, Gordon. Maar sy vrou, Cora, het haar bedenkings. Wil sy die seun opsaal met die naam van afknouers en boelies, 'n lang en reguit lyn van hulle? Sy wil die kind Julian noem, wat Sky Father beteken. Haar dogtertjie, Maia, hou van die naam Bear.

In die eerste hoofstuk rebelleer Cora en besluit om die kind as Bear te laat registeer: haar angstige dogtertjie verdien om gesien te word en dat haar wens bewaarheid word. Maia straal. Tuisgekom blaas Gordon 'n gasket, soos 'n mens verwag het. Hy stamp haar kop aanhoudend teen die yskas oor haar ongehoorsaamheid. Hy slaan haar vloer toe en storm op haar af. Vir een keer in haar lewe gil sy lank en aanhoudend. 'n Buurman verskyn op die toneel; 'n saggeaarde man. Hy probeer om Gordon van haar af te trek, maar laasgenoemde stoot hom deur die patiovensters en hy val hom dood. Binnekort is die polisie daar en Gordon word in hegtenis geneem.

Die volgende hoofstuk is 'n alternatiewe scenario: Cora besluit om die kind as Julian te laat registreer. By die huis stamp Gordon haar gesig in die bord pasta en dreig dat hy dit nie daar sal laat nie. Sy kyk in die baba se blou oë en weet dat hy eendag beter as sy pa sal wees.

In die volgende hoofstuk speel nog 'n moontlikheid uit, en moontlik die hartseerste: sy laat die kind registreer as Gordon en voel van daar af niks vir die baba nie. Gordon senior eis hom op en vervreemding groei tussen ma en kind.

So volg die hoofstukke mekaar op: Bear, Julian, Gordon. Afwisselend speel die gevolge van elke besluit af. Sewe jaar later is Gordon nog in die tronk vir moord, en woon Cora, Maia en Bear in hulle eie woonstel, ondersteun deur haar vriendin en dié se man. Die kinders is gelukkig en uitbundig, en Cora dink: "Oh. We're actually doing it. We're all here, and we're doing okay."

Sewe jaar later woon die kind wat as Julian geregistreer is, saam met sy sussie Maia by hulle ouma in Ierland. Hulle pa het hulle ma vermoor. Hy is in die tronk en die kinders ly aan posttraumatiese stres. Hulle is na aan mekaar, en hulle ouma, wat deur hulle pa weggehou is van hulle, is lief vir hulle.

Sewe jaar later is die seun wat Gordon gedoop is, net so wreed soos die pa wat hy verafgod. Sy pa moedig hom aan om sy ma te treiter. Maia is darem aan haar kant. Cora is 'n verslae slaansak en beraam planne om weg te loop. Maar sy kom telkens terug.

En so verloop die boek oor dekades heen. Drie stories met dieselfde karakters, die gebeure bepaal deur een besluit. Dis 'n fassinerende boek wat my beetgepak het en nie laat los het nie. Ek beveel dit hoog aan.

The Names deur Florence Knapp is deur Orion uitgegee en kos R455 by Loot.


In die tweede boek se proloog sit drie eensame vroue in verskillende vertrekke naby 'n rivier en TV kyk: Lauren, wat goedkoop witwyn drink, Alex, gehawend van nageboorteskok en Nancy, ouer. Dit is nie duidelik wat die verband tussen hulle is nie, indien daar enige verband is. Iets kom uit die rivier na vore en die vroue voel siek en beangs. Dis 'n swart skadu met nat pote wat weer wegsluip.

Om die beurt leer ons die vroue ken. Alex het 'n man, Paul, wat haar mishandel, doodsmoor en verneder. Die leser leer hom ken waar hy 'n poedingbak teen die muur stukkend gooi omdat die vla klonterig is. Om haar verder te straf, kom hy haar op die rusbank by. Sy smeek dat dit nie 'n veilige tyd is nie, dat sy nie gereed is vir nog 'n baba nie. "He whispered she wanted it, it would do her good. Alex was silent. She didn't want to wake Izzy."

Die volgende vrou wat ons leer ken is Lauren: jonk, te maer, soort van mooi, ongetroud met twee seuntjies, 'n ongeslypte diamant. Sy word betrap as winkeldief en moet gemeenskapsdiens doen. So beland sy in 'n liefdadigheidswinkel waar die bestuurder vir haar ogies maak. Hy koop vir haar geskenke en neem haar uit vir duur etes. Dit word algaande duidelik dat hy niemand anders as Alex se Paul is nie.

Die derde vrou is Nancy. Haar seun Pip stop haar in 'n (weliswaar luukse) ouetehuis en kom kuier min. Hy het sonder haar toestemming haar huis verhuur om vir die tehuis te betaal. Sy is trots en onafhanklik en pas glad nie in nie. Sy mis haar hondjie, Ruby, wat by Pip en sy vrou moes agterbly. Sy maak planne om weg te loop. Die leser begin wonder of Pip ook Paul kan wees.

Al drie vroue woon naby die rivier en word soms bewus van 'n bose teenwoordigheid, 'n skaduwee wat huiwer.

Ek wil nie meer weggee van die gebeure nie, maar die vroue se wentelbane beweeg algaande nader aan mekaar. Alex is natuurlik weer swanger en dis 'n uitmergelende swangerskap. Lauren gaan lenings aan en mors geld. Nancy maak moeilikheid in die outehuis. Die skaduwee grynslag.

Dis 'n spannende, atmosferiese noir en die manlike hoofkarakter is 'n verfoeilike slaphakskeen. Ek beveel dit hoog aan.

It Comes from the River deur Rachel Bower is deur Bloomsbury Publishing PLC uitgegee en kos R465 by Exclusive Books.


To the River

Fair river! in thy bright, clear flow
Of crystal, wandering water,
Thou art an emblem of the glow
Of beauty—the unhidden heart—
The playful maziness of art
In old Alberto’s daughter;

But when within thy wave she looks—
Which glistens then, and trembles—
Why, then, the prettiest of brooks
Her worshipper resembles;
For in my heart, as in thy stream,
Her image deeply lies—
His heart which trembles at the beam
Of her soul-searching eyes.

Edgar Allan Poe


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe