Tweede kanse en spoke

Read the story in English here.

Is alles wat jy lees, eintlik jou eie storie, soos elke karakter in jou droom jyself is? Soms dink ek so. Boeke is spieëls wat jou lewe terugkaats, karakters is avatars deur wie se oë, met wie se lyf, jy situasies ervaar. In hierdie deurmekaar dae het The Emperor of Gladness lank op my rak gestaan, tot ’n vriendin dit leen en mal is daaroor. Ek vertrou Diane se oordeel, toe trek ek dit ook nader. En wat ’n reis.

Die eerste hoofstuk is ’n liriese ode aan ’n lelike dorp, East Gladness. Dis soos ’n lang gedig. Dit herinner aan Mary-Chapin Carpenter se song “I am a town”.

0:00
/1:02

Dis lieflik en atmosferies, maar skep ’n wanindruk van die res van die boek, wat nogal storielyn- en karaktergedrewe is.

Ek sou persoonlik met hoofstuk 2 begin, waar 'n seun op 'n brug staan en mik om te spring.

Die hoofkarakter, Hai, ’n Amerikanerseun van Viëtnamese afkoms, sukkel om ’n helse lot pyn te verwerk. Sy eerste boyfriend en tweelingsiel is dood aan ’n oordosis. Soos Hai by homself dink: Hy wou meer as een gevoel op ’n slag ervaar. Soos hulle in country-musiek sing: It’s gonna take a whole lot of whiskey to make this heartbreak go away. In Hai se geval is dit pille.

Wanneer hy op ’n brug in die reën op die punt is om te spring, roep iemand na hom. Dis ’n bejaarde vrou van Litause afkoms, Grazina, wat teen die heuwel aan die rand van die water woon. Sy roep hom nader. Grazina is ’n heerlike karakter: verkeerdeveer, aweregs, half-dement met helder oomblikke en ’n donker humorsin. Sy herdoop hom Labas (Litauies vir “Hallo” na aanleing van sy naam, Hai). Sy deel met hom “the secret to getting rid of every sorrow known to man” en dadelik sit ek regopper. Grazina het honger gely in die oorlog en haar terapie is om buite in die erf broodrolletjies op die grond te gooi en te vertrap. “Anytime I feel my soul going dim … I just step on some rolls and it’s like a magic spell.”

Hai oorleef en hy word haar versorger, omdat hy al sy opsies opgebruik het. ’n Sonderlinge band ontwikkel tussen hulle. Geld is skraps en hy kry werk by ’n kitskos-franchise, The Homemarket. Dis eerder ’n disenfranchise, want almal wat daar werk is randfigure en vreemdelinge. Hai se neef Sony is ligweg gestrem en ver op die spektrum, die bestuurder is ’n blok van ’n gay vrou wat in haar vrye tyd stoei, die braaier is ’n melankoliese swart man, op die til is ’n besope vrou en daar is ’n Rus wat werk om sy suster in rehab te hou. Hulle word soos familie. Intussen het Hai op Grazina se oorlede man se opoïedes afgekom en hy sweef deur die dae.

Grazina begin ook dwaal en haar halfvervreemde seun dreig om haar huis te verkoop en haar in ’n hoësorgeenheid te plaas.

Dit handel oor herinneringe, en mense wat steier daaronder:

Because to remember is to fill the present with the past, which meant that the cost of remembering anything, anything at all, is life itself. We murder ourselves, he thought, by remembering.

Alles staan onder die teken van verlies en dis redelik donker, maar daar is reddende humor, soos die spannetjie wat in ’n minibus optrek om na ’n stoeigeveg te gaan kyk. Daar is nagmerrietonele soos die dag toe die span vir ekstra geld gaan hand bysit om honderde varke te skiet en te slag.

Dit kulmineer in ’n onvergeetlike road trip met ’n sonderlinge sending. Daar is eggo’s van Haruki Murakami, John Irving, Markus Zusak, Anthony Doerr, Michael Cunningham en elke skrywer van wie ek hou. Dis ’n dik boek – 400 bladsye – maar ’n mens lees ál stadiger. Ek gaan vashou aan hierdie een.

Ek wil graag iets op die agterblad aanhaal wat die toonaard van die roman uitstekend saamvat:

Formal innovation, syntactic dexterity, and the ability to twin grit with grace through tenderness – are on full display in this unforgettable story of unexpected friendship and how far we would go to possess one of life’s most fleeting mercies: a second chance.

Ocean Vuong is ’n digter en nou moet ek sy bundels in die hande kry: Night Sky with Exit Wounds en Time is a Mother. Hy is ook die bekroonde skrywer van ’n roman, On Earth We’re Briefly Georgeous. Hy het glo as kitskosbediener gewerk, soos Hai. Hy is in Saigon gebore. Ek wil elke woord lees wat hy geskryf het.

The Emperor of Gladness deur Ocean Vuong is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R329 by Amazon SA.


Om tot verhaal te kom, het ek die nuwe Charlie Parker-roman van John Connolly nadergehark. Charlie is miskien ’n aangeleerde smaak, of ’n intuïtiewe een. Ek is mal oor Charlie. Hy praat met dooie mense. Sy vrou en dogter is vermoor en die dogter waak oor hom. Hy is ’n privaatspeurder, word gereeld opgevoeter en beleef nie ’n dag of nag sonder pyn nie. Hy is ’n regverdige man en geen drinker nie. In The Children of Eve help hy ’n eksentrieke beeldhouer om haar kêrel wat spoorloos verdwyn het, op te spoor. Natuurlik skop hy ’n bynes oop in die natuurlike sowel as die bonatuurlike realm.

Kyk, as jy nie glo in die onsienlike nie, het jy ’n groot knyp gewillige opheffing van skeptisisme nodig vir Connolly se romans. As jy, soos ek, in alles onder die son glo is dit fassinerende leesstof. Ek het probeer tel en dit lyk my daar is reeds 22 Charlie Parker-romans. Donker, grinterig, onheilspellend en spannend. Ek beveel dit hoog aan.

The Children of Eve deur John Connolly is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R412 by Amazon SA.


0:00
/0:55

Gerda Taljaard lees haar gedig "Nighthawks 1942" uit Merang.


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe