Trap sag want jy loop op drome

Trap sag want jy loop op drome
Foto deur Ingmar / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Die dae jaag mekaar soos sandkorrels in ’n uurglas, volspoed op pad na die vergetelheid. Oktober is reeds ’n ligpers waas in die hoek van my oog. Krismisliggies knipoog oral soos 'n moeë prostituut wat lipstif aanwend vir nóg 'n aand op straat.

Dit word donker. Soms dink ek ek het heeltemal te laat op aarde aangekom. Maar dis nie waar nie. Toe ek ’n kind was, in die 1960’s, kon klimaatverandering nog op sy kop gekeer word. Daar was reeds waarskuwings gefluister. As Groot Industrie maar wou luister. Hulle wil nou nog nie.

Nou voel die planeet soos die einde van ’n fees: Tentpenne word uitgetrek, stalletjies word opgepak, die terrein is leeg en vol rommel. 'n Verdwaalde plastieksak dans in die wind. Though the carnival is over, I will love you till I die.

Oral gaan die ligte af. En die badwater word al warmer. Die wêreld se oseaanvloer was ’n onderwater fees van kleur en lewe. Nou word dit ’n verbleikte landskap oorheers deur seewier. Hoë watertemperature dreineer die koraalriwwe van kleur.

Het ons die planeet se pigment gesteel?

Moeder Aarde se onontbeerlike sisteme, soos reënwoude en poolseë, dreig om ineen te stort, met ’n katastrofiese uitkringeffek dwarsoor die planeet. Wat het ons gedoen?

Ons was swak huurders, die soort wat op die sitkamervloer vuur maak, die koperkrane afsteel vir dwelmgeld, gate in die deure skop, bome afkap, die gras laat verdroog en die beddings verwaarloos. Die soort wat honde in die agterjaart aan ’n ketting vasmaak en karre ry tot swart rook uitborrel. Kommin kakke.

Ons is vernielers. Gebruikers. Gifmoordenaars. Elkeen wil nog sy internasionale reise geniet, sy koolstofspoor diep trap en die nageslag maar self laat opsnork. Ek praat van myself ook.

Waar lê die fout in die mens se ontwerp? Om te kon oorleef, in die skemering van ons geskiedenis, moes ons opgaar. Dag en nag. Ook moor. Bloedbevlek en oorlaai het die jagter grot toe gesteier. Triomfantlik.

Omstandighede het verander, maar daardie versamelmanie is ingebed in ons chromosome. Meer, méér, myne, mýne. Niks is ooit genoeg nie. Noam Chomsky het gepraat van – ek vertaal vry – mense wat die voortbestaan van georganiseerde menslike lewe opoffer om ’n paar ekstra dollars te stop in hulle sakke wat reeds tot barstens toe vol is.

Die bose vetkatte. Ek probeer dit verstaan. Jongmense besiel met ambisie om die wêreld te verbeter deur kuns, snap nie die mag van geld nie. Hulle beskou dit as vulgêr en omhels edel armoede. Dis ook oordrewe, want op jou oudag benodig jy ’n ruim neseier en ’n mediese fonds.

Ek het self ’n paar versamelmanies. Soos klippe. My kop haak uit as ek op ’n strand vol gespikkelde, gekleurde klippe staan. ’n Waansin pak my beet. Ek sou sakke volpak en wegsleep as ek kon. Ek kan nooit genoeg hê nie. Ek wil hê en hê. Boeke ook. My lessenaar lyk soos die sitkamer van 'n pakrot; net hier en daar 'n paadjie tussen die stapels deur. Uiteindelik moes ek begin boeke weggee.

My precious!

As geld jou obsessie is, gaan die waansin jou ook nie laat los nie. Laat die toekoms vir homself sorg. Jy het een lewe om skatryk te word en jou stempel af te druk op die wêreldekonomie. As grondbesit jou gier is, gaan jy buurlande binnevaar en annekseer en die koors gaan nie bes gee nie. Jy is geprogrammeer.

En daar is geen enkele sisteem wat werk nie. Kapitalisme is glo die mindere euwel. Tog wás daar iets wat gewerk het: Sogenaamde primitiewe inheemse kulture op veraf vastelande en eilande. Nomadies, vredeliewend, met groepsbesluitneming, in pas met die natuur, met ontsag vir die aarde. Draf daglank om te kan eet. Net genoeg vir vandag. Maar sulke kulture is voor die voet verdelg om plek te maak vir grootskaalse industrieë wat die aarde verkrag. Pyl en boog het vetgevoerde teelvee uitgedun. ’n Volk wat nie grensdrade en persoonlike eiendom respekteer nie, kan nie geduld word nie. Sit hulle in kampe, hef belasting, laat hulle betaal vir water. Gee vir hulle dop. Laat hulle in jou kombuis werk of diep in die buik van die aarde grawe. Oorheers en onderwerp. Kyk vorentoe en wees voorspoedig. Goedkoop arbeid is immers die hoeksteen van kapitalisme.

Mal diktators en selfs van my Facebook-vriende spot smalend met Greta Thunberg. Op 'n dag sal die lag in hulle kele stol. Vir ontkenners wens ek 'n permanente screensaver van 'n uitgeteerde ysbeer toe.

Ons kan steeds iets doen, mits ons ophou om mekaar te uit te moor en die aarde te verskroei uit hebsug. Die son sak vinnig. Sal die laaste een wat wakker is, asseblief die ligte afskakel?

Woorde is goedkoop, maar dis al wat ek het. Ek preek vir bekeerdes en huil maar so 'n bietjie hier tussen vriende.

Kliptomaan, pasifis en leunstoel-aktivis
Deborah



Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe