Tatta, beskawing

Tatta, beskawing
Foto deur Lianhao Qu / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe medelesers

Vroeër in my lewe kon ek 'n dag in 'n biblioteek verwyl. Ek onthou die gewyde stilte, die asemhaling van rakke vol blaaie, die fluistering van kennis. Ek het agter my neus aan gelees; een boek lei na 'n volgende. Ek raak geïnteresseerd in 'n sekere figuur, era, beweging of kliek en lees alles wat ek kan opspoor daaroor.

Dis heelwat anders nou. My lidmaatskapkaart het verval. Op die internet versamel ek inligting eerder as kennis. Dis maar bolangs en nie altyd betroubaar nie. Boonop word geskiedenis gekureer en gesensasionaliseer. Dit word drasties vereenvoudig en soms eensydig aangebied ter wille van maksimale klieks op sosiale media-blaaie. So lees ek op Facebook van 'n Poolse ekoloog en bioloog wat in 1975 'n enkele rugsak gepak, die Bialowieza-woud ingestap en vir meer as dertig jaar daar gewoon het, onder die radar, sonder elektrisiteit of water. Sy is as 'n heks bestempel omdat sy met diere gepraat en haar bed gedeel het met 'n reusewildevark, 'n lynx (in Afrikaans 'n los) en 'n astrante kraai. Bome troon hemelwaarts en wolwe huil in die nag.

Hoe romanties, het ek gedink. Daar is mooi foto's ook. Maar wie het haar gefotografeer en alles gedokumenteer? Ek vertel jou nou-nou die volle verhaal wat ek tussen verskeie webwerwe uitgepluis het. Natuurlik weet ek steeds amper niks van haar nie. Daarvoor moet 'n mens boeke lees.

Daar kom dae waar ek soos Joni Mitchell hunker na 'n rivier om op weg te skaats. 'n Woud om in te verdwaal. 'n Bos vol kwetterende voëls. 'n Berghang waar dit teen vieruur namiddag donker word. Verlos my van die rompslomp en die halfrond van die kopspeld. Dis 'n algemeen menslike behoefte: om onder die radar te vlieg; om twee lengtes onderwater te swem waar hoor en sien vergaan.

Mense het dit al probeer en weer opgegee, soos Henry David Thoreau wat vir twee jaar in 'n hut in die woud op die oewers van Walden Pond geleef het. Hy het gesê:

Ek is woud toe omdat ek doelbewus wou lewe, slegs die noodsaaklike feite van die lewe wou konfronteer, om te sien of ek nie lesse uit die natuur kon leer nie, sodat ek nie, wanneer ek doodgaan, uitvind dat ek nooit gelewe het nie.

Ek het sy boek Walden gelees toe ek jonk was. Ek weet nie of ek dit weer moet lees nie - waarskynlik sal dit nou vir my na mansplaining klink. Wat my bybly is sy uitspraak dat jy nie klippe moet versamel en in jou huis uitstal nie, want hulle vergader stof. In die natuur hou wind en water hulle skoon. Ek het nie geluister nie. Hy het ook gesê mense leef lewens van stille desperasie.

Hy was 'n dwarstrekker wat geweier het om belasting te betaal omdat hy nie met die regering se beleid saamgestem het nie. Maar miskien was hy maar 'n bietjie van 'n fake, want soos dit gaan met bevoorregtes, het 'n tante sy belasting vir hom betaal nadat hy net een nag in die tronk deurgebring het.

Ek dink Simona Kossak was liewer vir die natuur en die afgesonderde lewe as Thoreau. Die Bialowieza-woud is die laaste oorblyfsel van die oerwoud wat eens die ganse Europa beslaan het; antiek, ongerep, ouer as gedokumenteerde geskiedenis. Simona het vir die Soogdiernavorsingsinstituut in die woud gewerk en versoek dat 'n versaakte hut genaamd Dziedzinka aan haar toegeken word as stafbehuising.

Illustrasie: Vulgar Advice

Die volle verhaal is dat sy nie alleen was nie. 'n Natuurlewe-fotograaf genaamd Lech Wilczek het toestemming van die parkeraad gekry om die helfte van die hut te betrek. Simona was eers vies, maar Lech het haar minnaar geword nadat hy 'n boswesie, 'n baba-wildevark huis toe gebring het. Deur sy lens is haar bosbestaan goed gedokumenteer. Hulle het die varkbeer Zabka genoem, wat "padda" beteken, en hy het kolossaal geword. Hy het van die tafel af geëet.

Simona en Zabka.

Simona en Lech het allerlei wilde diere bevriend. Simona het haar beste lewe geleef en soos 'n besete nimf op 'n motorfiets deur die woud gejaag. Op foto's lyk sy so gefokus soos Greta Thunberg, kinderlik.

Hier is iets wat sy gesê het:

Man is also a part of nature, and there are no more [or] less important parts in it. A flower, a star, a stone, a man is permeated with the same divine spark. Those who learn to sympathize with plants and animals can understand others and will be better for themselves, that is, they will do nothing against their nature.  

Dis te danke aan die hardegat-aktivis Simona dat daardie oerwoud nog bestaan.

Wanneer ek vorms moet invul en in virtuele toue moet wag terwyl hysbakmusiek speel, dink ek aan Simona. Sy het 'n betekenisvolle lewe geleef, met min rompslomp. Sy het met diere gepraat, ander verstaan en was goed vir haarself. Sy het 'n oerwoud gered.

Liefde
Deborah

'n Fragment van "River" deur Joni Mitchell

0:00
/0:51

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe