Swart smart en wit kraaie

Ek is darem weer aan die lees. Gelukkig is daar soveel verruklike boeke op aarde. Finding Grace deur Loretta Rotchchild het my aandag behou. Die verteller is Honor, wat reeds dood is maar nog op aarde rondhang. Niks ontgaan haar nie. Sy kyk terug op haar laaste lewensdag: Sy en haar aantreklike, suksesvolle, vrygewige man was in die Ritz-hotel in Parys saam met hulle dogtertjie, Chloe. Hulle het die perfekte lewe, al werk Tom dag en nag. Honor is ’n suksesvolle kinderboekskrywer en Chloe is begaafd en oulik. Maar hulle prentjiemooi huwelik word bedreig deur Honor se obsessie om nog ’n kind te hê. Na ’n histerektomie is dit nie meer moontlik nie. Sy is op soek na ’n eierskenker en fynkam die kandidate se lewensgeskiedenis.
Uiteindelik vind sy iemand by wie se besonderhede sy aanklank vind. Toevallig lyk sy en Grace ook merkwaardig eenders. Sy en Tom kry ’n surrogaatma vir die embrio en Honor wil tydens hulle Parys-naweek knaend bel om te hoor of sy swanger is, maar dis nog te vroeg om seker te wees. Sy hou aan obsesseer daaroor – dit lei tot ’n rusie tussen haar en Tom, wat haar aanraai om die naweek te geniet en eerder aandag te skenk aan die kind wat sy wel het. Sy los hom in die hotel se badkamer en storm (met Chloe aan die hand) uit om ontbyt te gaan eet. In die foyer van die hotel beëindig ’n selfmoordbomaanvaller haar en Chloe se lewens. Die volgende dag hoor Tom dat die surrogaatma swanger is met sy baba.
Tom tree af – hy het genoeg geld – en wy hom aan die opvoeding van sy seun, Henry. Honor hou hom fyn dop. Hy kom af op die DVD wat die skenker, Grace, aan die agentskap gestuur het. Hy sien haar naam en dat sy so sterk op Honor trek. Sy is ’n weduwee. Hy mag haar nie kontak nie, maar begin haar wel agtervolg. Hulle begin ’n verhouding.
Grace is onmiddellik lief vir Henry en vreemdelinge neem aan dis haar seun. Tom wil niks verongeluk nie en stel dit uit om haar te vertel hoe hy op haar afgekom het en wat haar rol in hulle lewe was. Hy stel uit en uit – met die blinde optimisme van sekere mense, en die smagting na die vermyding van konfrontasie. Jy moet maar self lees hoe dit uitspeel en hoe die ontslape Honor daaroor voel.
Dis goed geskryf en kom nie onwaarskynlik voor nie. Dis my soort boek, waar die menslike psige die verhoog is, die dinamika tussen karakters die slagveld. Lees dit gerus.
Finding Grace deur Loretta Rotchchild is deur John Murray Publishers Ltd uitgegee en kos R678 by Amazon SA.

Die tweede boek waarvan ek jou wil vertel is een van daardie lieflike romans wat onder die oppervlak van jou bewustheid bly swem. Dit speel in Wallis af en ek onthou hoe liries en lieflik die roman/memoires How Green was my Valley vir my as tiener was.
Dit begin op ’n tragiese noot – die negentienjarige Iona kom lank na haar aandklokreël by die huis – sy het seks gehad met haar eerste liefde – en tref haar ouerhuis, op die oewer van ’n rivier, oorspoel aan. Haar ma, suster en broer is dood en haar pa is weg. Boonop is daar ’n vreemde jong meisie in haar bed, ook dood. Hulle is vermoor – haar ma, broer, suster en die vreemde meisie.
Die hoofverdagte is natuurlik haar pa, ’n eiesoortige, broeiende professor wat totaal verdiep was in sy projek om ’n ensiklopedie oor Wallis te skryf. Hy het dit oënskynlik laat vaar en was besig met ’n meer persoonlike dokument, ’n soort outobiografie, ook in ensiklopedievorm, handgeskrewe. Sy kom daarop af. Dit het heelwat waterskade en haar pa se handskrif is taamlik onleesbaar, maar dit is duidelik dat iets in sy verlede hom bloots ry en dat daar donker spelonke in sy siel is.
Ek wil nie te veel verklap nie. Iona gaan woon by haar pa se eksentrieke suster, wat beslis op die spektrum is. Sy smee ’n sonderlinge vriendskap met ’n jong man wat in ’n lyskhuis werk en wie se lewe ook deur tragiese gebeure gevorm is. Hulle probeer haar pa se dagboek ontsyfer en hom opspoor.
Dis ’n digterlike dokument van verlies en die krag van die menslike gees. Daar is veel om oor na te dink, veral in die geskrifte van Iona se gefolterde, briljante pa, Eurov Griffri:
Isn’t it essential to know what people are hiding, what their weaknesses are, rather than what is readily known about them, in order to arrive at something that resembles accuracy? Beneath the facts, there is always a different story.
Dis ’n raaiselroman wat my eindeloos gefassineer het, huishoudelike noir vol kompleksiteit en poësie en die eggo van ’n hartstogtelike taal wat aan die uitsterf is.
The House of Water deur Fflur Davydd is deur Hodder & Stouhgton uitgegee en kos R545 by Amazon SA.
Die derde roman wat my aan die lees gehou het is klinkklare misdaadfiksie deur ’n meester van die genre, Michael Robotham. Wat my aandag behou, is die klem op karakterisering en die dinamika tussen karakters. Philomena McCarthy (wat reeds in ’n ander Robotham-roman verskyn het) is ’n konstabel in Londen. Haar pa en ooms is ’n misdaadfamilie; outydse jintelman-kroeks. Haar ooms het al tronkstraf uitgedien, maar haar pa se rekord is skoon. Sy distansieer haar van hulle en wil aan die anderkant van die dun blou lyn staan. Maar sy sukkel om haar verlede af te skud, en die agterdog waarmee sy bejeen word.
Een nag aan diens, uitgeroep na ’n misdaad, sien sy ’n kind in haar truspieëltjie. Sy vra haar partner om die misdaad te gaan ondersoek en volg die kind te voet. Daisy is in haar nagklere en vol bloed. Sy neem Philomena na haar huis, waar sy nie haar ma kon wakker kry nie. Philomena gaan sonder ondersteuning in, want sy wil nie kosbare tyd verloor nie. Daisy se ma is aan ’n kombuisstoel vasgemaak, met ’n plastieksak oor haar kop. Dood.
Jy moet maar self lees hoekom Philomena ’n verdagte word en hoe sy geskors word en desnieteenstaande die saak bly ondersoek en veel meer as die polisie wys word. Dis wonderlike ontsnappingsfiksie, met snaarstywe spanning en aweregse karakters. Ek beveel dit aan.
The White Crow deur Michael Robotham is deur Little, Brown uitgegee en kos R347 by Loot.

Ballade van die bose
Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?
Wanneer jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.
*
Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;
en die snelles vlug,
waarheen? vir wie?
ek is nie skoon
of aaklig nie,
en waar hulle vlug,
daar dra hul my mee
in die grys-wit groewe
van die senuwee.
Ek is ín jou
gevleg, gerank
soos 'n wortel in
in die donker bank,
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in.
Weet jy genoeg:
wat God vereen het,
hoort saamgevoeg?
*
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos 'n goeie hond.
Toe God die aarde,
die silwer bal,
in vreugde en spel
uit sy hand laat val,
was ek die baaierd
waarin dit weeg,
die vormlose,
en woes en leeg.
Toe 'n stil vroeë water
- voor vis of net -
tot die eerste wit kiem
geëtter het,
was ek die donker
wat onder skuil:
die koue grond en
swart klip van die kuil.
Ek was die skaduwee
van Gods gang:
ál wat Hy verlaat het,
het ek gevang;
en nou dat jy groei
om die baasskap te hê,
is ek die rooi naelstring
waaraan jy lê.
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap jou spoor
soos 'n goeie hond.
Wil die kennis nou kom:
ek is die grond
al is jy die blom?
*
Al is julle helder
en slank en vry
moenie dink dat julle
my dood sal kry,
of my strenge gang
op my baan sal stoor:
al is ek die hond,
ek hou die spoor,
ek blaf teen elke
horison
en as Gods Gees
voor die suiwer son
tot skoner gestalte
as julle is, skry,
sal ek weer helder wees,
slank en vry.
O waar sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand.
Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?
N.P. Van Wyk Louw