Straatkatte en rooi eiers

Read the article in English here.
Ek is wel ’n misdaadfiksievraat, maar ek lees Jo Nesbo eintlik ter wille van die karakters en die dinamika tussen hulle. Die hoofkarakters is so wydsbeen-butch soos straatkatte, maar hulle besit ’n sensitiewe kant en ’n waardering vir vroue.
Ontmoet speurder Bob Oz. Hy is veertig en nie juis aantreklik nie, met sy vierkantige kop, dik rooi hare, gesonde tande en blou oë, maar darem redelik goed gebou omdat hy in sy jeug atleties was. Sy kollegas het hom One Night Bob genoem omdat hy so ’n rokjagter was en net een nag saam met elke vrou deurgebring het. Dit het alles verander toe hy verlief raak op Alice en hulle trou. Toe was hy One Woman Bob. Hulle was gelukkig en sy het hom verstaan tot ’n tragedie – die dood van hulle kind – hulle laat uitmekaar dryf het.
Alice is nou weer getroud en swanger en Bob sukkel om emosioneel kop bo water te hou. Hy is van aktiewe ondersoeke onttrek omdat hy emosioneel ’n wrak is. Hy doen nou net papierwerk. En probeer die verlange na sy vrou besweer met terloopse seks. Maar toe hy nog homself was, het hy meer sake opgelos as enigiemand anders.
Dis ’n storie binne ’n storie. Een karakter, Holger Rudi, is ’n Noorweegse skrywer wat na Minneapolis reis om navorsing te doen vir ’n boek wat hy skryf oor ’n ware moordsaak dekades gelede. ’n Misdaadbaas is by die voordeur van sy hotel doodgeskiet. Die sluipskutter was in die woonstelblok oorkant die straat. Hy slaan weer toe, die sluipmoordenaar wat as die wolf bekendstaan.
Oz is nie veronderstel om ondersoeke te lei nie, maar natuurlik is hy warm op die spoor van die wolf. En in sy visier. Daar is al die elemente wat Nesbo-aanhangers bly maak: ’n nare bevelvoerder wat moontlik korrup is, ’n onvergeetlike vrou, ’n speurder met ’n skadukant en vele demone. ’n Ambivalente skurk. Grinterige stadskappe. Snaarstywe spanning. Droë humor. Dis deur Robert Ferguson in Engels vertaal en ek hoop Bob Oz wys in ’n volgende boek gesig.
The Wolf Hour deur Jo Nesbo is deur Vintage Publishing uitgegee en kos R390 by Exclusive Books.


Karin Slaughter is ’n internasionale topverkoper, die koningin van misdaad en polisieprosedure. Ek het al heelwat van haar boeke gelees en vergeet. In die oomblik behou dit jou aandag omdat sy haar so goed van haar taak kwyt.
Hierdie roman speel in ’n klein dorpie af. Emmie Clifton het haar hele lewe hier deurgebring. Sy behoort tot ’n vername gesin maar het ’n loopbaan in die polisie gekies, soos haar pa. Haar beste vriendin se dogter Madison is ’n probleemtiener, veral omdat sy en Cheyenne onafskeidbaar is. Cheyenne doen vir seuns gunsies vir geld en verkoop moontlik dwelms. Sy is betrokke by ’n ouer man. Die meisies spaar om weg te loop. Dan verdwyn hulle een aand.
Emmie voel verantwoordelik omdat Madison vroeër die aand, by ’n vuurwerkvertoning, met haar wou praat. Madison het bekommerd gelyk. Emmie was egter so woedend vir haar nikswerd-man wat nie eens vir ’n oomblik hulle kind kan dophou nie, dat sy weggestorm het toilette toe. Dit was die laaste sien van Madison.
Waarby was die meisies betrokke en wat is alles aan die broei in die vervelige dorpie? Allerlei geheime tuimel nou uit die kas en Emmie is vasberade om agter die kap van die byl te kom en hopelik vir Madison te red.
Dis spannend en die perfekte leesstof vir ’n warm somersaand.
We Are All Guilty Here deur Karin Slaughter is deur HarperCollins uitgegee en kos R399 by Exclusive Books.

Ek het die beste vir laaste gebêre. Saam met The Homemade God een van my boeke van die jaar – The Impossible Thing deur Belinda Bauer. Dis ’n buitengewone raaiselroman. Die misdaad wat ter sprake is, is die diefstal van voëleiers. ’n Venster word oopgemaak op ’n wêreld wat ek glad nie geken het nie.
Dit begin in die 1920’s in Yorkshire, Engeland. Die Sheppards huur ’n onherbergsame plaas en bly net-net aan die lewe. Dan loop alles skeef en alles is Celie se skuld. Sy is ’n onvergeetlike karakter wat ruk aan die hartsnare. Anders as haar sibbe is sy wasbleek met blonde hare en blou oë – haar donker pa gee met haar geboorte haar een kyk en vat die pad. Nou sukkel die gesin om kop bo water te hou.
Almal verstoot Celie. Sy is klein en tingerig en werk van kleins af soos ’n arbeider. Daar is een mens wat na haar omsien: Robert, die idioot, soos hulle hom noem omdat hy nooit praat nie. Hy is ’n weeskind en min of meer die gesin se slaaf.
In die berg trek voëleierstelers jaarliks saam om die besonderse eiers onder die arme voëls uit te steel op die kranse. Die eiers is veelkleurig, sommige het patrone op en versamelaars betaal goeie geld daarvoor. Hierdie versamelmanie resoneer by my. In my geval is dit klippe.
Op die plaas waar die Sheppards woon, Metland Farm, is ook ’n kranslys waarop voëls broei, maar niemand kan die eiers bykom nie, die krans is onder ’n oorhang. Daar is wel ’n klein skeur waardeur Celie in ’n harnas glip terwyl Robert bo die tou vashou en haar ophys nadat sy die eier onder die pikkende voël weggeraap het. ’n Vername versamelaar kom daarvan te hore en bied haar ma ’n kontrak aan: As Celie elke jaar die rooi eier van daardie spesifieke voël vir hom gaan haal, sal hy twintig pond betaal, en hulle met geskenke oorlaai. So word Celie eintlik die broodwinner, hoewel sy steeds nie geag is in die gesin nie.
Die ander storie speel in die hede af. Patrick is ’n ewe onvergeetlike karakter as Celie. Hy is op die spektrum: hoogs intelligent en manies gefokus. Sy obsessie is teelepels. Hy kan mense nie lees nie en het een vriend: die buurseun, Crazy Nick. Nou is hulle groot, maar elk woon nog by sy ma. Nick is ernstig oorgewig en sy obsessie is ’n spesifieke rekenaarspeletjie. Hy spaar om vir hom ’n speletjiestoel te koop.
Dan is daar ’n inbraak by Nick en sy ma. Hulle word vasgebind. Al wat gesteel is, is ’n rooi eier in ’n mooi kissie wat Nick op die solder gekry en op eBay te koop aangebied het. Die advertensie is amper onmiddellik afgehaal, want dit het intussen onwettig geraak om voëleiers te versamel of te verkoop. Maar dit het iemand se oog gevang.
Nick wil sy eier terugkry en oorreed die teësinnige Patrick om hom te help. Hulle paaie kruis met gevaarlike karakters. Ja, voëleiers is steeds gesog en mense moor om hulle in die hande te kry. Daar is steeds versamelings in museums, maar hulle kan nie meer besigtig word nie.
Bauer se karakterisering gryp aan die hart. Celie en haar ma gaan betaal die huur in kontant, noudat hulle soms geld inkry. Celie is skoongeskrop vir die uitstappie, maar haar rok is te groot en haar hare verwilderd. Haar ma is ook heeltemal uit haar diepte. Die grondeienaar se vrou maak vir hulle tee in fyn porseleinkoppies. Celie het nog nooit iets so mooi gesien nie: die koppie is so dun dat sy die son daardeur kan sien skyn. Sy staar net na die koppie en toe die gasvrou vra of sy nie van tee hou nie, wys sy na die koppie en sê: “Mayhap he brek.” Waarop die vrou die tee vir haar oorgooi in die koppie van ’n popteestel. Sy gooi twee blokkies suiker daarin en dis die lekkerste iets wat sy nog ooit gedrink het. Die leser kry trane in die oë, soos met Dalene Matthee.
So volg ons om die beurt die res van Celie se lewe en die twee vriende se speurtog na die rooi eier. Dis ’n boek vol verwondering, aangrypend verwoord. Ek het al stadiger gelees om dit te laat hou. Ek beveel dit hoog aan, dis eenvoudig lieflik.
The Impossible Thing deur Belinda Bauer is deur HarperCollins uitgegee en kos R339 by Amazon SA.


Petronel Baard sing Boerneef se gedig "Die berggans het 'n veer laat val."