Sonder uitsondering

Liewe vriende
By ons reën dit al dae lank en die hele wêreld is groen. Dis weer wat stem tot nadenke, kaggelvuur en rooiwyn. Wat jou laat verlang na plekke waar jy nog nooit was nie. Almal ken Heimweh, maar daar is ook Fernweh - verlange na die vreemde.
Ek lees 'n woord raak wat so bekend lyk omdat ons dit gereeld in Afrikaans gebruik. In Afrikaans beteken dit "by gebrek aan": Sonder. In Engels is dit 'n neologisme wat gemunt is deur John Koenig in sy Dictionary of Obscure Sorrows. Koenig se definisie is: Die besef dat elke mens by wie jy toevallig verbystap, 'n lewe leef wat net so helder en kompleks soos joune is, bevolk deur hulle eie ambisie, vriende, roetines, bekommernisse en oorgeërfde waansin - 'n epiese verhaal wat onsigbaar rondom jou ontvou soos 'n miernes wat sy oorsprong diep ondergrond het, met uitgebreide gangetjies na ander lewens wat jy nooit geweet het bestaan nie, lewens waarin jy dalk net een keer verskyn, as 'n ekstra wat in die agtergrond koffie drink, waar jy vervaag soos verkeer op die hoofweg, verskyn as 'n verligte venster in die skemer.

"Sonder" is wat skrywers aan die skryf hou: Die behoefte om karakters te skep en vir hulle wêrelde en lewens op te droom. Ek dink aan Paul Simon se liedjie "Lyrics":
Laughing on the bus
Playing games with the faces
She said the man in the gabardine suit was a spy
I said "Be careful, his bowtie is really a camera".
Ek speel graag daardie speletjie. Versin omstandighede en lewens vir gesigte in die verbygaan. Ek het iemand geken wat vir haar honde geheime lewens uitgedink het: Hoedat hulle bedags as sy by die werk is, aantrek en vertrek na werke. Een het in 'n bank gewerk, die ander was 'n geheime agent.
Toe my dogters klein was, was hulle lief vir 'n rekenaarspeletjie, The Sims, waar jy karakters skep, vir hulle huise bou, dit meubileer, vir hulle uitrustings, persoonlikhede en vriende saamflans. Hulle het gou agtergekom, soos skrywers, dat karakters 'n wil van hulle eie het, dat jou skepsels ongehoorsaam en eiewys is.
Ek het nog 'n woord raakgelees. Dit klink soos assegaai: Ikigai. Dis Japannees. Ek het daarvan gelees in 'n artikel oor Blou Sones, plekke waar mense lag-lag 100 jaar oud word. Mense in hierdie streke deel sekere gewoontes: Hulle eet baie groente, vetterige vis en seewier en drink groen- of jasmyntee. In Japan slaap, eet en kuier hulle op die vloer, en om in jou tagtigs gereeld van die vloer af op te staan, maak jou soepel en sterk. Hulle neem middagslapies en bly aan die beweeg. En hulle het 'n doel in die lewe: Jou ikigai is jou ding, dit wat jy doen, dit wat jou in die oggend uit die bed laat opstaan. Dit kan tuinmaak wees of boerdery. Dis gewoonlik fisieke werk, as jy so oud wil word.
Toe lees ek oor die Counterclockwise Experiment deur Ellen Langer van Harvard. In 1979 het sy agt bejaarde mans vergesel na 'n oord wat soos 'n tydmasjien was, ingerig om te lyk soos in 1959. Sy het gewonder: As 'n mens die horlosie psigologies kan terugdraai, kan jy dit ook fisiologies doen?

Die ou mans moes hulle eie swaar bagasie dra. Hulle was 'n week in isolasie en moes in die teenswoordige tyd praat oor die verlede. Hulle het 1959 herleef; geluister na musiek uit die era en na ou programme op 'n swart-wit TV gekyk. Hulle het sake van die dag bespreek, ou flieks gekyk, deur tydskrifte van 1959 geblaai en selfs aangetrek soos in daardie era. Daar was nie spieëls om die illusie te verbreek nie, net foto's van hulle jonger selwe.
Die mans in die eksperiment het jonger geword. Aan die einde van die week was hulle meer soepel, handiger, met beter geheue, gehoor en postuur. Hulle breine was ratser en hulle het oor die algemeen beter gevoel. Hulle het selfs jonger gelyk.
Daar het jy dit - ouderdom hang grootliks van jou gemoed af. My oom Harry het gesê, toe hy 100 was: As jy regop en vinnig stap, lyk jy soos 'n veel jonger man.
Ek dink as jy selfs net 'n snars verbeelding besit en besef dat jy net 'n ekstra in ander mense se stories is eerder as die hoofkarakter in jou eie storie, sal jy nie 'n ander land binneval en bomme op woonbuurte, skole, hospitale, of enige plek gooi nie. En as jy in plaas van Big Macs en Burger King Whoppers eerder vis en groente eet, hoef jy nie op 79 soos 'n mollige oranje bokkem te lyk nie.
Liefde
Deborah

Good Bones
Life is short, though I keep this from my children.
Life is short, and I’ve shortened mine
in a thousand delicious, ill-advised ways,
a thousand deliciously ill-advised ways
I’ll keep from my children. The world is at least
fifty percent terrible, and that’s a conservative
estimate, though I keep this from my children.
For every bird there is a stone thrown at a bird.
For every loved child, a child broken, bagged,
sunk in a lake. Life is short and the world
is at least half terrible, and for every kind
stranger, there is one who would break you,
though I keep this from my children. I am trying
to sell them the world. Any decent realtor,
walking you through a real shithole, chirps on
about good bones: This place could be beautiful,
right? You could make this place beautiful.
Maggie Smith