So by my kool

Liewe vriende
Ek het weer Binnerym van bloed gelees – Antjie Krog se aweregse huldeblyk aan haar ma en aan Afrikaans. Dit ruik na niefiksie, maar op die voorblad staan: "'n Outobiografiese roman". As voormalige biblioteekassistent is genre-klassifikasie en die Dewey-sisteem by my ingedril. Daarom het dit my aanvanklik dronkgeslaan. As jy 'n boek skryf oor iemand wat gelewe het, jy noem haar by die naam, en jy sluit van haar briewe en skryfsels in, en foto's, hoe is dit 'n roman? My slotsom: Genregrense het vervaag en maak al hoe minder saak. Dis 'n roman omdat Antjie so sê. Sy het self by 'n bekendstelling opgemerk: Sodra jy iets neerskryf, word dit fiksie.
Die waarheid is eenmaal veel vreemder as fiksie; dis wilder, interessanter en onwaarskynliker. Sekere dinge kan jy eenvoudig nie uitdink nie. Antjie het natuurlik 'n onregverdige voorsprong – wie op aarde het 'n ma soos Dot Serfontein gehad? Wie het met moedersmelk digkuns en klinkende, sprekende, beeldryke Afrikaans ingekry? Maar aan die ander kant, sou jy 'n ma wou hê wat jou meedeel, by die eerste aanblik in 'n lang tyd: "Jirder, jou hare lyk verwerp!"
Ek glo wat ek lees. Ek eet alles vir soetkoek op. Ek glo dit uit my maag, want selfs leuens het voete in die waarheid. Nou die dag by 'n ete vertel ek van Nederlandse tweelingsusters wat die oudste prostitute op aarde was toe hulle in hulle tagtigs afgetree het: die Fokkens-susters. My vriendin Mercia lag te lekker vir my liggelowigheid: "Dis óbviously fake news. Jy moenie alles glo wat jy lees nie."
Vanoggend dink ek daaraan om hulle te google en siedaar:
A combined 100 years in the sex trade: Meet the world's oldest prostitutes.

Só lees ek oor Adrienne Bolland. Sy was 'n Franse toetsvlieënier in die 1920's. Sy was 'n swashbuckling figuur. Die Afrikaans is vuurvreter, avonturier, waaghals. Waaghals kom dalk die naaste aan swashbuckling, met so 'n sweempie spoggerigheid.
Haar ouers het van België geëmigreer en haar van was eintlik Boland. Bolandse nooientjie. In haar twintigs was sy diep in die skuld omdat sy roekeloos gelewe en graag gedobbel het. Toe stel iemand voor sy word 'n loods, want die betaling is goed. Sy het aangeklop by Caudron, Frankryk se oudste vliegtuigvervaardiger. Hulle het spoedig gemerk dat sy besonder talentvol was.

Sy was 'n willewragtig van 'n heethoof wat met almal skoorgesoek en oral moeilikheid opgetel het. Sy het gesê: "Ek word 'n ander mens in 'n vliegtuig. Ek voel klein en nederig. Want op aarde is ek, eerlikwaar, onuithoudbaar."
Sy het haar loodslisensie ná net twee maande verwerf, met haar van verkeerd gespel daarop, met 'n eksta "l". Sy het besluit om dit so te hou. Sy het oor die Engelse kanaal gevlieg en die volgende waagstuk in haar visier was om oor die Andes te vlieg. Menige vlieënier wat dit probeer het, is in die proses dood. Die Andes se hoogste pieke troon tot amper 7000 meter, terwyl haar vliegtuigie hoogstens 4500 meter kon klim. Sy sou dus tussendeur en rondom die pieke moes vlieg en bergwinde kan 'n ligte vliegtuigie maklik teen die kranse slinger.

Die aand voor haar vlug klop iemand aan haar hotelkamer se deur. Dis 'n Suid-Amerikaanse vrou wat iets het om vir haar te sê. Adrienne lig haar in sy het so lank as dit haar wat Adrienne is, neem om 'n sigaret te rook, om haar sê te sê. Die vrou verklaar bondig: "Môre gaan jy oor 'n oestervormige meer vlieg. Regs is 'n breë gang tussen kranse deur en links is 'n steil krans wat soos 'n omgekeerde stoel lyk. Kies links."
Sy het dit afgemaak as bog, maar darem nie vergeet nie. Die volgende dag dra sy pajamas wat met koerantpapier volgestop is en 'n vlieënierspak onder 'n leerbaadjie, maar bibber steeds van die koue. Die vliegtuigie het nie 'n windskerm nie. Toe gebeur dit presies soos die vreemde vrou vertel het. Onder haar is 'n oestervormige meer. Links is 'n steil krans wat soos 'n omgekeerde stoel lyk, regs is 'n breë gang tussen pieke deur. Sy besluit om na die vreemdeling te luister. Sy swenk links en dink: Hier gaan ek nou vandag dood. Net voordat sy in die krans vasvlieg, skep 'n bergwind haar vliegtuigie en lig dit bo-oor die pieke. Aan die anderkant sien sy die vlaktes van Chili. Sy het dit gemaak.
As jy so iets sou uitdink in 'n roman, sou jou redakteur jou aanraai om 'n ander oplossing te vind. Dis te onwaarskynlik, te deus ex machina. En kyk nou.
Jy moet besonder swashbuckling wees om so 'n doodsveragtende besluit te neem. Dit verg waagmoed om in die rigting van die krans te vlieg. Adrienne het later verneem dat die vrou deur 'n medium na haar gestuur is. Sy het opgemerk dat sy nie in die okkulte glo nie, maar dat dit nogal moeilik is om nié te glo nie.
Adrienne het met 'n loods getrou en hulle was deel van die Franse Weerstand tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Franse regering het haar later vereer met die Legioen van Eer. Sy is op 79 aan natuurlike oorsake dood. Sy was 'n presiese tydgenoot van my ouma – geboorte- sowel as sterfjaar. My ouma was 'n siener, maar dis 'n ander storie.
Ek wil altyd luister na die stemmetjie in my binneste en na die waarskuwings van lukrake vreemdelinge wat oor my pad kom. Want soms baat dit om liggelowig te wees. Soos Hamlet gesê het:
There are more things in heaven and earth, Horatio,
Than are dreamt of in your philosophy.
Loop lig en steur jou aan tekens.
Valentynsliefde
Deborah

Die vliegenier

Ernst van Heerden