Slim vang sy baas

Liewe vriende
Vandag kan ek my gedagtes nie netjies in een kamp hokslaan nie. Ek gebruik maar hofies:
KI-kommer
Ek dink baie van ons hunker na die onskuld van 'n wêreld vóór kunsmatige intelligensie. In post-apokaliptiese fiksie bewoon die karakters altyd 'n leë, onherbergsame wêreld met waterskaarste of oorvloeding, waar rekenaars verroes en die wêreldwye web ongedaan geraak het.
My neef Stanley is slim en blink. Hy is een van die mooi, aangename Roos-mans soos my pa was, met ligte blougroen oë, skitterende intelligensie, immer nuuskierig en positief. Hy is 'n deskundige in tegnologie, programme en stelsels. Een van daardie beroepe wat 'n mens moeilik kan verduidelik. Ewenwel, hy wat vernuwing en vooruitgang verwelkom en altyd op die kruin van die brander bly, is negatief oor KI. Hy voorspel niks goeds vir die wêreld nie. Dis presies hoe ek, totaal ondeskundig, voel.
Dit laat my dink aan Frankenstein, die roman wat Mary Shelley geskryf het toe sy 19 was. Die dokter se naam was Frankenstein, nie die monster s'n nie. Victor Frankenstein het geglo sy skepsel sou hom bedank en eerbiedig en wonderbaarlik wees. Maar toe sy skepsel lewe kry, was hy monsteragtig en vreesaanjaend.
Dit is 'n absoluut visionêre roman wat as't ware die toekoms voorspel. Die idee om iets te skep wat verwagtings oorskry, grense oorsteek en meer word as wat die skepper kan hanteer, boonop met sosiale implikasies, het onrusbarend bekend geraak. Wat is die etiese implikasies van wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling? Waar laat dit ons?
In 'n program oor die Nampo-skou wys hulle plaasimplemente wat kan dink en besluite neem. KI, die Frankenstein van ons tyd, het te veel outonomiteit gekry. Dit groei eksponensieel soos 'n veldbrand wat wind kry. Soos iemand wat berg-af hol wie se voete vir sy lyf weghardloop. En die djinn kan nooit weer in die bottel teruggeprop word nie. Pandora se boks is oop.

Torschlusspanik
Dis 'n Duitse woord wat beteken vrees dat die hek sal toegaan voordat jy jou doelwitte bereik het. Dit pak my soms in die klein ure van die voordag beet, soos vanoggend. Vriende tree af. Ek is afgelê toe my koerant ophou bestaan. Vryskutwerk word minder soos publikasies sluit. "Is dit nou dit?" vra 'n stemmetjie in my kop.
Gelukkig is daar iets soos serendipity. Ek lees 'n artikel oor 'n aktrise wat nie deur die Hollywood-jellievorm of koekiedrukker gevorm is nie. Sy was kort en koddig met 'n skril stem en ongepoetste lag. Sy was nie mooi genoeg om romantiese heldinne te speel nie. Ruth Gordon het onbenullige rolletjies bly vertolk en harder gewerk as enigiemand anders. Sy is eenmaal genomineer vir 'n toekenning, maar op 44 is daar vir haar gesê sy is te oud. Sy het aangehou toneelspeel en op 71 'n rol in Roman Polanski se Rosemary's Baby vertolk - die van 'n onheilspellende ouma, tegelyk warm, snaaks en vreesaanjaend. Sy het die karakter haar eie gemaak en op 72 het sy 'n Oscar ontvang vir haar vertolking.
Sy het tot met haar dood op 88 bly toneel speel, onder andere die ikoniese rol van Maude in die kultusfilm Harold and Maude. Ruth Gordon het in haarself geglo en niemand anders toegelaat om te bepaal wanneer haar vervaldatum is nie. Sulke mense inspireer my.

Daar is ook skrywers wat laat weggespring het:
Laura Ingalls Wilder publiseer haar eerste roman, Little House in the Big Woods, op 65. Frank McCourt se memoir, Angela's Ashes, verskyn toe hy 66 is. Mary Wesley is 'n Britse skrywer wat haar eerste roman op 70 publiseer. Bonnie Garmus skryf die topverkoper Lessons in Chemistry op 64. Dis maar 'n paar voorbeelde.
Skelwoorde met skop
Nadat ek verlede week geskryf het oor vloekwoorde, dink ek na oor beledigende woorde wat betekenisvoller as swets is, maar haas in onbruik verval het. Daardie lekker outydse sêgoed waarmee jy iemand kan skel dat die see hom nie kan afwas nie. Ek het 'n lysie begin en vul dit aan soos dit my byval:
Boef, maaifoedie, belhamel, ploert, gespuis, rampokker, skurk, swernoot, moerskont, swerkater, pestilensie, werfetter, tweegatjakkals, pateet.
So, kom ons wonder of KI 'n brawe nuwe wêreld gaan skep, kom ons gebruik nie ouderdom as verskoning nie en kom ons skel na hartelus. Elke woord op daai lysie is myns insiens van toepassing op die Amerikaanse president. Ek sê maar net.
Liefde
Deborah

Moedeloos
Woorde is blare
die geut verstop;
'n glibberige gedig
gly deur die drein
se reënboogsif.
Martina Klopper
Uit: Kuborg