Sit my terug in skubbe

Sit my terug in skubbe
Photo by Marek Pavlík / Unsplash

Liewe vriende

Sal daar ooit weer 'n nag ongesiens verbyglip en sommer so in die niet verdwyn? 'n Nag waarin ek nie een keer wakkerskrik nie met repies van beelde wat agter my oë oplos soos wolke. Nou die nag hoor ek die stem van 'n ouer familied in my oor: "Die kinders is so mooi." Tussen slaap en wakker wonder ek, is ek nie ook mooi nie, ek is ook mos 'n kind? Dan begin die jare deur my kop waai soos daardie borde wat 'n mens desjare vooraan busse gekry het, waar die letters omblaai om 'n nuwe bestemming uit te spel. Of 'n outydse telbord. Dertigs, veertigs, vyftigs, sestigs. Ek is nie meer 'n kind nie, nee.

Ek en vrind Attie in ons 20's, toe alles moontlik was. Ons drink Litchi Fizz van Castello, intussen van die mark gehaal. Foto: Elthea Schlesinger.

Laasnag om halfeen sit ek regop. Ek het uiteindelik weer vir sussie Karin gesien. Dis haas onmoontlik om te verwoord. Daar was 'n oorvloed lig en die oorweldigende teenwoordigheid van liefde en skoonheid. Ek het haar nie dadelik herken nie, want dit was moeilik om na haar te kyk; sy het so verblindend gestraal. Sy was die intensiewe vorm van bly. Ek kon net 'n paar oomblikke kyk. Daarna was slaap onmoontlik. Verwondering en vrede wat alle verstand te bowe gaan, het in my sinapse bly sing.

Dan dryf ek maar naglank deur die donker en dink aan my onderwatervriende wat deur die buik van die see gly. Hulle is so onwaarskynlik beeldskoon en veelkleurig. Hulle herinner aan die moontlikheid van skoonheid.

Op Facebook maak Ena Jansen se foto's van anemone, wier en seediertjies my bly.

Foto's en dele van foto's deur Ena Jansen.

Ek lees wat Maria Popova skryf oor hoe om 'n gelukkiger skepsel te wees:

It must be encoded there, in the childhood memories of our synapses and our cells — how we came out of the ocean 35 trillion yesterdays ago, small and slippery, gills trembling with the shock of air, fins budding feet, limbs growing sinewy and furred, then unfurred, spine unfurling beneath the bone cave housing three pounds of pink flesh laced with one hundred trillion synapses that still sing with pleasure and awe when touched by the wildness of the world.

Soos Brixton Moord en Roof Orkes gesing het: Sit my terug in skubbe.

Sien, ek wil nie meer 'n mens wees in hierdie wêreld nie. Ek wou nooit tot dieselfde spesie behoort as kinderverkragters nie. Ons is te lelik. Ons verskroei, verbrand, vermoor en maai af. Gaza, Oekraïne, Maponya Mall in Soweto, die Oos-Kaapse skoolvoedingsprogram, oral vier tierende haat en gierigheid hoogty. Ons verdruk, verneder, verkleineer en verrinneweer ander mense. Ons saai hartseer. Ons maak alles blou.

Palestynse kunstenaar Sohail Salem.

Daar is darem nog altyd diere. Ons verdien nie diere nie. Hulle laat my hart swel, soos die snuffelhond Lizzy wat eenkeer op O.R. Tambo-lughawe 116 kilogram renosterhoring uitgeruik het wat op pad landuit was. 'n Suid-Afrikaner om op trots te wees, en daar is vele ander soos sy. Hulle het meer as twee bene en dra nie dasse nie.

Hierdie eindelose winter begin uiteindelik bes gee.

Toemaar. Jy het ontsnap, Sustertjie, uit 'n heel stukkende wêreld. Ons plant te veel voort, ons kak te veel – daar is geen rivier, spruit, meer of oseaan wat ons nie vervuil nie – ons voel 'n veer vir die omgewing. Ons planeet is in beseringstyd en reeds kyk ons met gierige ogies na Mars.

Yeats het dit lankal gesê:

Come away, O human child!
To the waters and the wild
With a faery, hand in hand,
For the world's more full of weeping than you can understand

En ons wat nog hier is, die vet weet, op die een of ander manier sal ons dit maar weer regkry om die teenswoordige wêreld in al sy chaotiese wanordelike glorie lief te kry. En die mensdom in al sy domheid, wat. Ek wag.

As daar nog 'n lewe is, wil ek asseblief volgende keer Jacques Cousteau wees. Of David Attenborough. Of 'n Ama-Japannese vrou wat vryduik vir pêrels. As sy weer kom, kom haal sy haar pêrels.

Drywend
Deborah

0:00
/1:42

Johan Myburg lees voor uit sy bundel Narreskip.


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe