Puimsteen en swerfsiekte
Liewe vriende
Yassas. Dis "hallo" in Grieks.
Vanoggend word ek wakker met die see wat klots teen die boeg van ons skip, Virgin Voyages se Resilient Lady.
Eers was daar was ’n lang dag van wag om aan boord te gaan. Dit geskied ordelik soos die Covid-vax, in ’n reusesaal. Amerikaners (op ’n afstand uitkenbaar) Oosterlinge, Afrikane, mense van oraloor, van elke liggaamstipe en BMI.
Ons kajuit is ruim soos ’n hotelkamer en die hangmat op die balkon is net vir sit, maar steeds. Om neer te kyk op die rustelose see en die son te sien kwyn oor die einders is strelend, die deinings hipnoties. Knyp my, ek droom.
Dan is daar die vertrekpaartie op die boonste dek. Mense het al deeglik uitgespan om die swembad en aanbid die son in bikini’s en speedo’s. Gratis vonkelwyn vloei en luid polsende partytjiemusiek loods ’n aanslag op die ore. Seilendes is uitbundig jolig, gooi shooters by hulle kele af en skuifeldans soos bronstige gevlerktes. Dit herinner my aan tonele in Chick-booklets, daardie klein evangeliese strippe wat in my jeug aan ons uitgedeel is om te waarsku teen die menslike natuur, aardsheid en alles wat vanselfsprekend kom. Heelwat vuur en swaelsteen. Die breë en die smalle weg. Die boodskap was chiliasties, ingestel op die eindtyd, die groot verdrukking, die wegraping en die duisendjarige vrederyk. Met maniese grinnike het onbekeerde wêreldse mense, ’n hele skare verdoemdes op pad na die verderf, skeeloog in kroeë en klubs gepierewaai terwyl die wêreld vergaan en die engele huil. So was dit op die boonste dek toe die skip begin seil. Ongelooflik om te sien hoe die landskap in beweging kom. Ek het self ’n riel gedans. Maar bo-oor die jolifikasie hang die tyding van die heengaan van Ingrid Winterbach se Andries. ’n Fynbesnaarde, begaafde man. Die wêreld voel killer, meer onherbergsaam. Opeens wil ek in die kajuit wees.

Die skip is bestendiger as die woonstel in Athene waar ons oornag het voor ons aan boord gegaan het. Athene beleef glo elke dag een of twee klein aardbewings, het die gids, Menelaus, ons meegedeel. Maar enige natuurramp word oorskadu deur die benarde toestand van hulle ekonomie. Seuns kom uit die dorpies hoofstad toe om deel van die koning se wag te word. Hulle verdien maar 8 Euro per maand (R160) maar kry kos en onderdak. Hulle kry ook vroeg spatare van ure doodstil staan, uitdrukkingloos soos zombies. Tot hulle skofte ruil: dan gansstap en dans hulle met tossels op die klompe.
Die straatjies is nou en motors glip doodsveragtend en vreesloos in gapings waar ek gedink het daar geen spasie is nie. Maar dit alles weet jy seker, en hoe hoendervelwekkend die Parthenon is, soveel eeue oud. Oral op straat is lemoenbome vol in die vrug, wat glo oneetbaar suur en droog is.

Na die eerste hartverskeurende dagbreek ter see neem ons ’n tender – ’n tipe boot - na Santorini. Op die eiland navigeer die busbestuurder haarnaalddraaie op die rand van gapende afgronde bo die see en die gids rammel feite af. Soos op skool gaan ek aan die droom en neem min in – ek sal dit later oplees. Ek hoor van vulkaniese eilande, van puimsteen wat onder die grond water berg omdat dit so poreus is en dan ’n waterbron word vir bome in die droogte. Van beroemde wyne uit die eilandbodem.
In die middaghitte stap ons met kobbelsteen-paadjies berg-op, deel van ’n malende toeristemassa en ek verlang weer na die koelte van die kajuit. My oog val op ’n groot ovaal klip en toe ek weer sien, vou my hand daarom. Dit is koel en glad. Nou sing my hart. Dis altyd die fokus langsaan wat my oog vang, die terloopse. Bergaf gly ons met ’n kabelkar en ver onder is die blouselblou see.

Terug op die skip moet my rugsak deur ’n skandeerder. Hulle hou dit terug en vind die klip, my hart se punt. Die word onseremonieel afgeneem. We’re holding this and you will not receive it back.
Net so sag soos die weelde ter see is die geselskap en warmte in die boesem van my persoon se sibbe. So ’n hegte gesin het ek nooit beleef nie. En wanneer die gemoedelikheid te veel word, kan ’n mens terugtrek in jou kajuit, lees en droom.
Ek wil niemand verveel met reisbeskrywings nie. Swerfsiekte, wys iemand uit, is die Afrikaanse vertaling vir fugue state – wanneer iemand gaan sigarette koop, nooit terugkom nie en twee jaar later opgemerk word in ’n ander staat waar hulle onder ’n ander naam leef, met geen herinnering van hulle vorige lewe nie. So iets voel aanloklik wanneer ’n mens ver van die huis is – die hemel weet, ek hou van my lewe, maar dis ’n menslike kondisie; die vlugtige, naamlose smagting na ’n nuwe horison, ’n nuwe patroon, oorweldigende vreemdheid. Om 'n lewe soos 'n hoed aan te pas en met 'n swaai in die heup weg te stap, die nuwe oomblik in.
Al die feite, statistieke en geskiedenis gaan jy op die plek vergeet. Wat jou gaan bybly, is die manier waarop die son val op ’n wit koepel, die ruwe kranse van vulkaniese klip, die hitte van die middag elders, ver. Dis wat ek indrink soos 'n sponsklip vogtigheid, om later wortels te voed wanneer die reën wegbly.
Verwonderde groete
Deborah

The sea was sapphire coloured, and the sky
Burned like a heated opal through the air;
We hoisted sail; the wind was blowing fair
For the blue lands that to the eastward lie.
From the steep prow I marked with quickening eye
Zakynthos, every olive grove and creek,
Ithaca's cliff, Lycaon's snowy peak,
And all the flower-strewn hills of Arcady.
The flapping of the sail against the mast,
The ripple of the water on the side,
The ripple of girls' laughter at the stern,
The only sounds: -when 'gan the West to burn,
And a red sun upon the seas to ride,
I stood upon the soil of Greece at last!
Oscar Wilde