Psigiaters en Oosterse psiges

Read the story in English here.
Ek wil drie boeke bespreek en begin by die ligste een. The Woman in Ward 9 se voorblad en titel het my laat dink dat ek dit reeds gelees het, en redelik onlangs. Ek het dit verwar met Ward D van Freida McFadden. Maklike mistyk, kyk hier:

Sielkundige rillers soos hierdie is ’n stapelvoedsel. Ek woed in ’n dag of ’n nag daardeur. Dis onneersitbaar en jy sien nooit al die kinkels aankom nie. Die verteller is ’n psigoterapeut, Emma Best. Haar nuutste pasiënt is ’n jong vrou wat alleen in haar huis aangetref is, vol bloed – iemand anders s’n. Sy is in die hospitaal opgeneem en na ’n inrigting verwys. Sy het geen geheue van die gebeure nie. Sy is self ’n sielkundige en het spesifiek gevra om met dr. Emma Best te praat, iemand wat spesialiseer in vroue-trauma en iemand wat sy respekteer.
Emma het net ’n week om Laura te help om haar geheue te herwin en uit te pluis wat gebeur het. Vir daardie doel moet sy ’n week in ’n hoësekuriteitinrigting deurbring wat ligjare verwyder is van haar ruim spreekkamer in Londen. Die vertrek waar hulle sessies plaasvind is sonder uitsig en oorverhit. Sy slaag wel daarin om Laura aan die praat en aan die onthou te kry. Laura vertel van die man op wie sy verlief is, die volmaakte man: dodelik aantreklik, sjarmant, romanties en bedagsaam. Vir die gereelde leser van huishoudelike noir begin gevaarliggies flits.
Hierdie man het haar oorrompel met sjarme en romantiese gebare, maar gaandeweg word dit duidelik dat daar krake in die verhouding was: hy het haar toenemend geïsoleer van familie en vriende en het gemeen en geniepsig geraak wanneer hy nie sy sin kry nie. Sy het vasgekeer begin voel.
Dr. Best raak effens ongemaklik. Die man wat Laura beskryf, het soveel raakpunte met haar eie man, Connor. Voorkoms, bedagsaamheid, selfs party van die romantiese gebare is bekend. Maar haar Connor is werklik bykans perfek, alhoewel sy gaandeweg kontak met haar familie en vriende verloor het.
Daar is ander dinge wat haper. Emma Best word meer soos ’n pasiënt as terapeut behandel. Sy word te alle tye vergesel, haar selfoon is weggeneem en haar toegangskaart werk nie. Sy bel haar man van die landlyn, maar daar is nooit antwoord nie. Sy stuur vir hom teksboodskappe van een van die werkers se selfoon, maar hy reageer nie. Hy was uitstedig toe sy na die inrigting vertrek het om te gaan werk. Waar is Connor?
Dis ’n nagmerrierit en die einde sal jy nie sommer sien kom nie – nie elke haarnaalddraai daarvan nie. Uitstekende vermaak en uiters vergeetbaar.
The Woman in Ward D deur Naomi Williams is deur Headline Book Publishing uitgegee en kos R343 by Amazon SA.

Maggie; or a man and a woman walk into a bar deur Katie Yee is aanvanklik aangrypend. Ek weet nie of die leser ooit die verteller se naam uitvind nie. Sy is ’n Amerikaanse vrou wie se ouers uit China geëmigreer het. Sy is gelukkig getroud met ’n Amerikaner uit ’n bevoorregte agtergrond. Hy is romanties en snaaks, ’n uitstekende pa vir hulle twee kleuters. Dan vertel hy haar een aand in ’n restaurant doodluiters dat hy ’n affair het.
I’m having an affair – like it’s something you possess and not something you’ve done. Like, I’m having highlights done next week. Like, I’m having lamb over rice.
Hy onthul ook dat sy minnares se naam Maggie is en dat hy haar by die werk ontmoet het.
Die leser verwag verontwaardiging, woede, irrasionele gedrag, vloermoere. Nee. Miskien ken ons nie die Chinese psige nie, of die psige van ’n immigrantekind wat altyd probeer plesier en inpas het nie. Sy vra nie hoekom of hoe nie. Sy en haar getroue vriendin Darlene wat volgens haar ook nie “wit” is nie, spoor sy kollega aanlyn op en merk dat sy jou tipiese Amerikaanse meisie is: jonger, blond, oulik. Lank en lenig.
Natuurlik bevraagteken die verteller haarself. Sy val in by al haar (binnekort eks-) man se besluite. Hy trek stuk-stuk uit en betrek ’n woonstel. Hy kom haal die kinders elke tweede naweek. Hy wil hê sy moet Maggie ontmoet.
By hulle ontmoeting (in dieselfde restaurant) is die verteller senuagtig soos ’n skoolmeisie en komplimenteer Maggie kompulsief. Jy ruik lekker, jou skoene is mooi. Sy wil selfs weet hoe hulle ontmoet het en Maggie vertel dit met verwondering, soos aan ’n aanmoedigende vriendin.
Dit was vir my vreemd en ontstemmend, so ’n kykie in ’n vreemdelingpsige. Ek het dit nie enduit boeiend gevind nie.
Maggie; or a man and a woman walk into a bar deur Katie Yee is deur Brazen uitgegee en kos R438 by Amazon SA.

Die laaste boek het my geboei, ook weens die vreemdheid daarvan. Dit speel in Singapoer af. Ek het aanlyn gaan kyk waar Singapoer en Maleisië (nog een van die bestemmings) presies geleë is. Dis eilande naby Thailand wat net deur ’n dun waterstraat geskei word.
Die verteller, Genevieve Yang (Gen), was die enigste kind. Sy en haar ouers woon in haar ouma se beknopte woonstel waar haar ouers agter 'n skerm slaap. Anders as in ons kultuur het bejaardes heelwat mag: hulle besit die eiendom en hiet en gebied hulle volwasse kinders. Die ouma is trots en dominerend. Haar man het jare gelede verdwyn en is vermoedelik oorlede.
Dan onthul die ouma dat sy ’n brief ontvang het van ’n man in Maleisië. Haar man is nie dood nie; hy het ’n nuwe lewe begin op die volgende eiland en die briefskrywer is sy seun by sy nuwe vrou. Dus Gen se pa se halfbroer. Die halfbroer laat weet dat sy pa onlangs oorlede is en dat hy en sy vrou finansieel sukkel en glo dat hulle dogter ’n beter kans in die lewe sal hê by Gen se gesin.
Die ouma stem in en Arin daag op. Hierdie kleindogter van haar oupa is effens jonger as Gen, en hulle trek sterk op mekaar. Aanvanklik is Gen afsydig teenoor haar, maar haar ouma se wreedheid stem haar simpatiek tot Arin en die soort-van-susters word vriende. Hulle wreek hulle op die ouma, wat kort daarna sterf. Gen se pa kies die hasepad soos sy pa gedoen het en nou woon Gen se ma, wat baie lief word vir Arin, agter die skerm.
Gen, wat op skool uitgeblink het weens haar goeie geheue, kan nie byhou op universiteit nie. Sy gaan terug huis toe en doen los werkies. Arin, wat gesukkel het op skool, blink uit en word ’n internasionale rolprentster, haar gesig op busse.
Gen is verteer deur jaloesie en gesneuwelde drome. Haar en haar ma se verhouding is problematies. Sy voel vasgekeer in haar lewe. Dis asof Arin haar drome gesteel het en uitleef. Dan kry haar ma kanker en het nie lank om te leef nie. Sy vra vir Gen om Arin te laat kom. Gen stem in, maar maak geen aanstaltes om Arin te laat weet nie.
Soms wil die leser vir Gen skud en skud. Dis ’n frustrerende leeservaring. Komplekse emosies en verhoudings word raak verwoord, maar dis altyd die laer instinkte wat seëvier. Vergeet van karaktergroei of selfvervulling. Dis seker maar soos die lewe self. Hierdie Oosterse boeke laat my tob en nadink.
The Original Daughter deur Jemimah Wei is deur W&N uitgegee en kos R496 by Amazon SA.


静夜思 (“Thoughts in the Silent Night”, by Li Bai)
床前明月光,
疑是地上霜。
举头望明月,
低头思故乡。
Vertaling:
Moonlight reflects off the front of my bed.
Could it actually be the frost on the ground?
I look up to view the bright moon,
And look down to reminisce about my hometown.