Popova, popkoppe en joy

Liewe vriende
In moeilike, uitdagende en donker dae is die brein ’n sif wat niks vashou nie, ’n langbeenrabbedoe wat hiperaktief van een waterplas na die ander bokspring. Rigtingloos.
Ons leef hierdie winter onder ’n wolk – ek is gevra om nie meer verslag te doen oor die familielid wat op ons trappe geval het nie, maar nou-ja, wee die familie waarin ’n skrywer gebore is. Maria Popova sê immers in haar wonderlike nuusbrief The Marginalian: Writing is the best means I have of metabolizing my own life.
Ná 'n maand is ons sussie nog in ICU. Hoop en wanhoop ry wipplank.

In sodanige dae waar dit moeilik is om te lees, spring sekere paragrawe uit, soos hierdie een deur bogenoemde Maria Popova:
One of the most important things to have learned in life is that choosing joy in a world rife with reasons for despair is a countercultural act of courage and resistance, choosing it not despite the abounding sorrow we barely survive but because of it, because joy — like music, like love — is one of those entirely unnecessary miracles of consciousness that give meaning to survival with its bright allegiance to the most alive part of us.
Vreugde skaar haar by die deel van ons wat optimaal lewend is.
Dit herinner my aan Johannes Bakkes se laaste oproep, toe hy, roggelend en in asemnood, vir my vertel het van die Stockdale-paradoks. Dit behels die vermoë om vas te glo dat jy aan die einde gaan oorwin, terwyl jy die mees brutale werklikheid van jou situasie konfronteer – dus nie ontkenning nie, maar ’n wilsbesluit om positief te wees en in ’n goeie uitkoms te glo. Nogtans sal ek jubel.
Hierdie lewe is ’n slangetjies-en-leertjies-bordspel. Soms klim jy die leer na duiselingwekkende hoogtes, soms seil jy in die maag van die slang ver na benede. Jy leer om dit te navigeer. Jy raak vertroud met die topologie van die slaggate in jou buurt – waar om te swenk, waar om te rem. Natuurlik tref ’n opslagbal uit die linkerveld jou soms teen die slaap.

Goeie dinge gebeur ook onder die wolk. Die laptop wat ek op ’n skip vergeet het, is gevind, uiteindelik aangeteken en aangestuur, ’n hele maand ná ons reis. Die eerste helfte van die salaris- en skeidingspakket wat maande agterstallig was, het opeens in my rekening geland.
Hierdie lewe moet geleef word, het Antonia by haar wasgoedlyn gesê. Die lewe is kosbaar, elke dag, seg my 89-jarige ma vanuit haar bed.
Ek deel graag nog ’n paar brokkies wat van die selfoonskerm in my oog gespring het:
In 2018 stap die 22-jarige Grace Spence in ’n winkelsentrum in Londen toe ’n man op haar val en haar ruggraat breek. Hy het uit ’n venster op die derde verdieping gespring om sy lewe te beëindig. Die impak het Grace se onderlyf verlam. Sy was ’n mediese student en het geglo die ongeluk het van haar ’n beter dokter gemaak, met meer aanvoeling vir pasiënte. Sy was selfs bly dat sy die man se lewe gered het.
Volgens legende het daar in die 12de eeu twee kinders uit ’n put naby Suffolk gekruip. Hulle vel was grasgroen, hulle spraak onverstaanbaar. Hulle wou niks anders as rou bone eet nie. Toe hulle by ’n normale dieet aanpas het hulle velkleur die groen tint verloor.
Dolfyne het uitgevind dat blaasoppies se gifstof hulle hoog maak. Hulle laat die arme vis met opset opblaas en gee hom dan in die rondte aan soos ’n partytjiedwelm.

In 1961 besef Leonid Rogozov, 'n 27-jarige Russiese geneesheer wat in Antartika gestasioneer was, dat sy blindederm op die punt is om te bars. Hy was die enigste mediese beampte by die stasie en ’n sneeustorm het hulle afgesny van die buitewêreld. Hy rig twee spanmaats – ’n meteoroloog en ’n werktuigkundige – af om vir hom ’n spieël vas te hou en instrumente aan te gee. Hy verwyder sy eie blindederm in ’n twee uur lange operasie. Hy was dikwels naar van die pyn en wou opgooi, maar het deurgedruk. Twee weke later was hy perdfris en terug in sy pos.
’n “Snafu” is ’n situasie gekenmerk deur foute en verwarring. Die woord kom uit die Tweede Wêreldoorlog en is ’n akroniem vir “Situation Normal, All Fucked Up.”
In 1962 ontsnap drie gevangenes op ’n waaghalsige wyse uit Alcatraz. Die mans het lewensgetroue popkoppe gemaak om die bewaarders om die bos te lei tydens nagrondtes. Die popkoppe is gemaak uit seep, toiletpapier, tandepasta en sementstof. Hulle het realistiese velkleur en -tekstuur gehad met geverfde gelaatstrekke en menshare uit die tronk se barbierwinkel. Elke pop is strategies op die prisonier se kussing geplaas, halfbedek met komberse, soos slapende koppe. Dit het vir die vlugtendes kosbare tyd gekoop. Hulle is nooit gevind nie. Een van die koppe is bewaar en word op Alcatraz-eiland uitgestal.

In Suid-Korea is daar ’n Stad van Boeke wat bestaan uit ongeveer 900 boekverwante besighede. Paju Book City, noordwes van Seoul, is ’n viering van lees.

What a wonderful world.
Kom ons rol met die snafu en omhels daardie totaal lukrake wonderwerk van bewussyn: vreugde.
Liefde
Deborah

Die lykbesorger
Wanneer 'n plaaswerf sterf, word die wind baas,
hy blaas, breek bolle sand
soos uit 'n omploegland,
speel met tolbosse, kerf fyn spoortjies
van vergetelheid.
Dwing dan lenige bloekoms
tot 'n buiging en jaag herfsblare teen
verweerde lyndrade vas.
By die riete laat hy muisvangervoëls opwip
soos net-net uit 'n strik.
Só sleep hy sy rasende jas
orals rond en begrawe my geraamtes
bogronds.
Marlize Hobbs
Uit: Merang