Oor berg en dal

Oor berg en dal
Foto deur Philipp Düsel / Unsplash
ANGELA TUCK

Twyfelbos deur Francois Loots

Ek was beïndruk met Die Kapokdokter van Francois Loots. Hy is 'n onderskatte skrywer. Ek is so sleg met name dat ek hom aanvanklik met Francois Smith verwar het. Twyfelbos het verlede jaar verskyn, maar ek het nou eers daarby uitgekom. Dis weer historiese fiksie waarmee Loots woeker en die leser meevoer.

Sophia Truter het regtig geleef. Sy was getroud met 'n regter, Johannes Truter wat John geword het. Sy was volgens ene Teenstra, 'n Nederlandse reisiger, 'n “mansvelder, eene amazone of eene heldin” – sy het vrou-alleen geboer, mansklere gedra, wydsbeen perd gery en haar hare kort gedra. Haar hunkering na ander vroue word onvergeetlik uitgebeeld en die lesbiese erotiek in die roman is sowaar uit die boonste rak. Sophia het een nag deurgebring met Magdalena, vrou van 'n Hollander onderweg na Batavië.

"Haar donker hare lê oopgesprei op die laken, in die dowwe kerslig is haar oë die kleur van die nag, haar borste is selfs in die dowwe lig die witste porselein, met tepels donker van kleur en wat sy soen en waarom haar tong sirkel en sirkel.

Op hierdie laken, Here. Sy het soos die Soutrivier ná swaar reent gevoel. 'n Sterk stroom het in haar opgebruis en oor die rivier se oewer gevloei."

Die sin "En toe seil jy weg, Magdalena" word amper as mantra herhaal en herinner aan die gedig "Todesfuge" deur Paul Celan: dein goldenes Haar Margarete.

Sophia is eensaam nadat Magdalena na Batawië weggeseil het. Sy vestig haar op 'n plasie in die Overberg. In Caledon vang sy die oog van 'n jong boervrou van 'n nabygeleë plaas. Es is getroud met 'n bullebak wie se buie soos handomkeer verander. Die twee vroue het 'n verhouding, maar dan word Es se man, Dewald, vermoor en Sophia is opeens 'n moordverdagte.

Daar is ook Mandel, 'n loper (nie 'n stapper nie) wat nie weet waar hy tuishoort nie. Hy is 'n skilderagtige karakter met poëtiese taalgebruik en 'n liefde vir die veld. Die soort karakter van wie skrywers hou: Hy besig 'n eiesoortige Afrikaans en sy wêreldbeskouing is aweregs. Sy religie is die San-kultuur, maar hy is anderkant die Koup by die Sakrivier gedoop en noem homself 'n Gris (Christen). Hy begin Sophia help met boerderytake en sien die vroue naak saam. Persoonlik wou ek eerder die heeltyd oor Sophia lees, miskien omdat dit uitsonderlik is om te lees van 'n sterk, koppige, gay vrou in daardie benepe en patriargale tye.

Daar is nog 'n belangrike karakter: Kleinboet. Hy is te perd op pad na Sophia en Es se omgewing: Hy kom wreek hom op die man wat sy suster Hester verrinneweer en waarskynlik vermoor het. Sy is nooit weer gesien nie.

Dan is daar Jan Tesselaar, die veldkornet wat die gebied te perd platry en mense op afgeleë plase ondervra om die moord op Dewald te probeer oplos.

Dis dus ook 'n misdaadverhaal. En 'n verhaal oor die vreemde weë van die liefde. 'n Tydsdokument en 'n ode aan die Overberg in die vroeë agtienhonderds - daar is 'n kaart voorin die boek sodat die leser hulself kan orienteer.

Die taalgebruik is vindingryk, besprinkel met archaïese terme in die ritme van 'n vroeër tyd. Ek beveel dit hoog aan.

Twyfelbos deur Francois Loots is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R350 by Graffiti.

Volmaan in Baviaanskloof deur Jeanette Stals

Ek het nog 'n Afrikaanse spanningsverhaal gelees wat in die veld en tussen berge afspeel, geskryf deur Jeanette Stals. Stals het al heelwat boeke geskryf, van liefdesverhale tot misdaad en historiese fiksie. Sy is bedrewe met die skep van atmosfeer en die inkleur van landskappe.

Een van die landskappe wat hier verken word, is die psige van 'n gebroke vrou. Fransien Theron is 'n jong kunstenaar wat nie daarin slaag om die dood van haar gestremde seuntjie te verwerk nie, of die daaropvolgende vertrek van haar man en hulle egskeiding nie. Sy was in ontkenning oor hulle kind se probleem en het haar man toenemend uitgesluit. Toe rol hy die motor een reënerige nag op pad terug van 'n braaivleis met sy kollegas, waar hy 'n paar biere gedrink het. Hulle babaseuntjie is dood. Fransien kon hom nie vergewe nie en kon nouliks funksioneer. Uiteindelik was hulle huwelik vir hom 'n gevangenis.

Nou vertrek sy na Baviaanskloof, 'n plek wat sy in 'n reistydskrif gesien het. Sy wil bo-op die berg teen volmaan 'n einde aan alles maak. Sy loop en val oor berg en dal, in onvanpaste sandale, sonder kos of water en maak haar voet lelik seer. Sy word bewus van 'n luiperdwyfie: haar poot is ook beseer, in 'n strik. In 'n soort hallusinasie word sy een met die luiperd en bekyk die landskap deur haar oë. Hulle voel mekaar se verlies aan - die luiperd se welpie is dood in die strik.

In die omgewing woon aantreklike Dolf wat navorsing doen oor luiperds. Hy is op die spoor van die beseerde luiperdwyfie en kom op die erg verswakte en ontwaterde Fransien af.

Nadat sy herstel het (haar voet is weliswaar geamputeer) besluit sy om in die omgewing aan te bly. 'n Versigtige vriendsksap ontwikkel tussen haar en Dolf. Hy weet hoe om met beseerde luiperdwyfies te werk.

Dan is daar Tobie wat ver op die spektrum is, in 'n grot woon en kinderlik skilder. Fransien neem hom onder haar vlerk en gee vir hom verf en kwaste.

Fransien en Tobie is een volmaannag op die berg waar daar nou 'n nuwe luiperdwyfie jag. Haar lewe begin weer kleur kry en sy begin heel word in die natuur. Verder moet jy self lees. Moenie 'n ligte liefdesverhaal of 'n gelukkige einde verwag nie.

Dis hoogs atmosferies en aangrypend, maar ek het 'n paar vrae oor die einde. Lees gerus hierdie roman deur 'n skrywer wat haar storie ken.

Volmaan in Baviaanskloof deur Jeanette Stals is deur Jonathan Ball uitgegee en kos R232 by Graffiti.

berggans het ‘n veer laat val

berggans het 'n veer laat val
in die inkpot van onthou
nou skribbel ek maar woorde
van sederberg verlange
ook van bietjie-bietjie jou

Thomas Deacon


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe