Ons vrolike vasteland

Chanette Paul is ’n fenomeen in ons skrywerslandskap. Sy het al 51 boeke geskryf en maak ’n lewe uit skryf, vryskut. Dit wil gedoen word. En die vrou kan skryf, hoor.
Déjà vu is ’n deurdrumpel van ’n boek waardeur ek gegly het soos ’n warm mes deur botter. Paul skep skerpgetekende milieus, meestal in die Suid-Kaap, onvergeetlike karakters, warm hartstog en snaarstywe spanning.
Vir sommige mense is hulle kinderjare soos ’n ander, vorige lewe, met vae herinneringe wat hier en daar kop uitsteek. Veral in die geval van trauma en verlies vervaag herinneringe soms. Zabeth Meyer weet nie waarom Sheldon Manor vir haar so bekend voel nie. Sy het nooit haar pa geken nie en tot haar ma met haar stiefpa getrou het, was hulle maar dobberend.
Nou werk sy as navorsingsassistent vir ’n internasionaal bekende skrywer, Wilbur Sheldon. Hy vra haar om die geskiedenis van sy mense, die Sheldons, in die dorpie Kronkelrivier na te vors. Dis ’n fiktiewe plek wat ooreenkomste toon met Grootbrak.
Die Sheldons is ’n vername, trotse dinastie uit Engeland. Hulle geskiedenis is rampspoedig en hartseer. Die matriarg (hoewel sy nooit getroud was nie) is die trotse, sardoniese Ethel. Sy woon in die manor saam met haar skoonsuster Marjorie, en Marjorie se kleinseun Keith en dié se vrou Pamela. Haar broers en hulle nasate is op een slag uitgewis in ’n episode van vergiftiging, word vermoed. Een klein erfgenaam het verdrink.
Daar is buite-egtelike kinders soos Wilbur en ’n aangenome seun, Liam. Maar hulle mag nie erf nie. Die toekoms van hulle ryk rus op Keith se skouers. Hy is ongelukkig ’n onverantwoordelike rokjagter en suiplap. In die boothuis woon Liam, wat deur Ethel se oorlede broer aangeneem is en sy eie potjie krap. Hy is ’n ignoloog – hy bestudeer gefossileerde voetspore. Hy is Ethel se gunsteling.
Ethel stem in dat Zabeth in die manor, waarvan die onderste verdieping ’n gastehuis is, kan kom bly terwyl sy navorsing doen. Daar is egter ’n vloed en oorstroming en haar suite in die gastehuis word vir ’n gesin gegee wat gestrand is. Sy gaan bly in die sogenaamde boothuis, ook ’n lieflike gebou, saam met Liam. Nou; daar is vanuit die staanspoor vonke tussen die aantreklike Liam en Zabeth, wat ongeveer 40 is met bruin krulhare en silwerblou oë. Liam lyk na die Australiese akteur Adam Demos, merk Zabeth se dogter Aimee later op. Gaan google hom maar. Zabeth het egter mans afgesweer na haar kort, katastrofiese huwelik en Liam is ook al verniel.
Die impossante Victoriaanse herehuis en selfs Ethel voel vir Zabeth bekend. Was sy al daar? Is dit sellulêre geheue? Ethel se skoonsuster Marjorie is ’n eksentrieke kunstenaar met buie wat wipplank ry. Sy lyk soos ’n bejaarde feetjie. Pamela is ydel en oppervlakkig.
Omdat die aantrekking tussen Zabeth en Liam voelbaar is, waarsku Zabeth hulle dat hulle waarskynlik familie is en ’n verhouding is dus taboe. Die manor huisves eeue se geheime en geraamtes ratel in elke kas. Dan is daar nog die Vonkwyns, wat al vir geslagte vir die Sheldons werk. Hulle huisves ook stokou griewe.
Zabeth vind meer uit as waarop sy gereken het en sy word selfs van moord verdink. Sy vind ook uit wie haar pa was. Ek wil nie julle pret bederf nie. Vir my ’n hoogtepunt was Zabeth se dogter, Aimee, wat vroeër van haar gap year in Skotland terugkom en ook in die manor kom bly. ’n Tiener se blik op die verstokte Sheldons is verfrissend. Haar taalgebruik ook. Sy is soos ’n vars briesie en baie oortuigend. (Ek het nie so lank gelede nie ook tieners gehad.)
’n Mens lees al hoe vinniger einde se kant toe om die raaisels te ontrafel. Ek was hoogs tevrede met die ontknoping, daar was geen onwaarskynlike verrassings uit die linkerveld nie. As die leser mooi aandag geskenk het, was daar genoeg leidrade om die einde te laat sin maak. Ek beveel dit aan.
Déjà vu deur Chanette Paul is deur Lapa uitgegee en kos R324 by Graffiti.

Ek voel danig tuis in die geselskap van Amerikaners uit Afrika. Daar is ’n bekendheid – die voelbare lewenskragtigheid en vrolikheid van ons vasteland. Zelu se ouers is onderskeidelik Yoruba en Igbo, uit Nigerië. Sy en haar broers en susters is ’n lawaaierige, bakleierige, bevoorregte spul. Zelu is as kind verlam toe sy uit ’n boom geval het waarvan die tak gebreek het omdat dit deur kewers uitgehol is. Sy is mooi, slim en selfversekerd, met ’n vinnige humeur. Sy is 'n vrou wat kwaad is. Sy beledig en affronter een van haar fyngevoelige en pretensieuse skryfskoolstudente en word afgedank. Uit die diepste depressie skryf sy ’n boek oor geroeste robotte in ’n toekomstige wêreld waar mense al uitgesterf het, in Afrika. Dit maak wêreldwyd opslae en verdien miljoene. Dit word verfilm en sy is opeens ’n glanspersoonlikheid.
’n Wit man kontak haar. Hy het sy bene in ’n bergklimongeluk verloor en vir homself intelligente prosteses gemaak. Hy wil vir haar eksos maak, metaaldoppe wat oor haar bene pas en ’n geheue het, wat op haar impulse reageer. So sal sy weer kan loop, op ’n manier. Haar familie is hewig gekant hierteen, en ook haar kêrel, die Suid-Afrikaner Szibi, ’n Zoeloe. Hulle sien dit as onnatuurlik en sê sy loop soos ’n robot. En wat as sy omval? Zelu laat haar deur niemand voorskryf nie.
Sy verval weer in depressie nadat Hollywood haar boek veramerikaans het en vir die robotte en KI Engelse name gegee het. Sy voel die gees en siel van haar boek is misken. In ’n TV-onderhoud lok ’n bekroonde omroeper haar uit om haar humeur te verloor. Sy suggereer dat Zelu haar distansieer van gestremdes. Zelu wil niemand se plakkaatkind wees nie en raak dinge kwyt wat haar aanhangers laat verloor, op groot skaal. Sy word gekanselleer op sosiale media.
Dan gaan haar pa dood en haar wêreld stort in duie. Natuurlik wil sy haar distansieer van haar lyf, wat stukkend is. Daarom skryf sy oor robotte en KI wat lyfloos is. Die hoofstukke van haar boek duik hier en daar op en dit is fassinerend, net so lekker soos die res.
Kos speel ’n vername rol vir Afrikane, soos vir Afrikaners. Die kleurvolle beskrywings van disse laat die leser se mond water:
Egusi soup and fufu, fried spiced fish, puff puff, her special macaroni and cheese, shrimp etouffee, akara, efo riso, gbegiri, corn bread, pepper soup with tons of meat, fried plantain, Cajun chicken alfredo and of course penty of jollof rice.
Ek het jollof-rys se resep gaan opsoek en maak toe ek ’n vorige Afro-Amerikaanse roman gelees het, en nou weer. Dis jollie lekker.
Dis ’n kulinêre en kultuurreis wat ’n mens net weer laat besef dat almal van ons, en selfs toenemend KI, onderliggend dieselfde is en dieselfde vrese en drome koester. Ek beveel dit hoog aan.
Death of the Author deur Nnedi Okorafor is deur Orion Publishing Co uitgegee en kos R455 by Exclusive Books.



Trishula Patel