Om teen swaartekrag te stry

Illustrasie: ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ek beleef daagliks afgryslike, sielsvernietigende oomblikke — tweedehands, tussen die bladsye van boeke. Want romans ontgin momente op die mespunt, wanneer alles duideliker in fokus is, wanneer die werklikheid tot in die fynste ontsteltenis oorbelig is. Momente waarna niks ooit weer dieselfde sal wees nie. Ek dink aan die oomblik in Sophie's Choice toe sy tussen haar kinders moes kies. Grusame ongelukke in John Irving se boeke. Taferele in A Little Life. En ek praat nie eens van gruwelromans nie.

Soms beleef 'n mens so 'n oomblik in die regte lewe en jy sal vir altyd onthou waar jy was toe dit gebeur het.

Daar hang 'n swaar stilte oor ons huis. Ons was op 'n idilliese bootreis. Die dag voordat ons terugvlieg Suid-Afrika toe, verlede Vrydag, kry my geliefde Leane nie haar sussie in die hande nie. Karin woon alleen en kom bly altyd in ons huis om ons kat op te pas wanneer ons weggaan. Sy is 73 en effens weerloos, 'n depressie- en senulyer, 'n slagoffer van slegte keuses en nog slegter geluk. 'n Lieflike mens, van aangesig en siel. Sy is die oudste maar word gereeld vir die jongste suster aangesien.

Sussie Karin

Op ons reis het Leane haar elke dag gebel om te hoor of alles in die haak is, want so is Leane eenmaal: 'n versorger. Die laaste dag antwoord Karin nie. Leane sien sy was die vorige aand negeuur laas aanlyn. Sy raak bekommerd en bel Karin se kinders wat in Pretoria woon en vir wie sy 'n sleutel van ons meenthuis gegee het.

Wat hulle binne aantref, is iets wat niemand ooit behoort te beleef nie. Karin lê aan die onderpunt van die trap op haar maag, kop na onder, met een been in die reling vasgehaak. Sy kon dit nie loskry nie. Sy kon nog praat en vertel sy het elfuur die vorige nag vir haar gaan tee maak. Dis agtermiddag, sestien ure later. Hulle bel die ambulans.

Nou lê sy in Intensief, gekoppel aan 'n ventilator en dialisemasjien. Die eerste dag het die dokters gesê sy is kritiek. Nou het hulle hoop. Haar been gaan geopereer word sodra sy meer stabiel is. Haar oë is nou oop, maar sy lyk mateloos depressief en verward. Onherkenbaar geswolle. Sy lyk onseker oor waarom sy daar is en so vol pype gestop is, haar arms langs haar sye vasgemaak.

Dit is seker menslik om bly te wees dis nie ons wat op haar afgekom het nie, veral ook omdat dit dan, nog twaalf ure later, te laat sou wees. Leane het die bloed van die trap afgewas en ek het kerse gebrand.

Die trappe gaap nou vyandig. Karin se een goue sandaaltjie het onderstebo op die lysie onder die reling gelê, soos Aspoestertjie se slipper. Ons kat is getraumatiseerd en ontsteld. Hy vermy die plek waar sy gelê het en skuif styf teen die muur verby as hy trap-op of -af loop.

Hulle susters uit die Kaap het gekom en ons is 'n huis vol bedeesde mense wat sag praat en daagliks twee- of driekeer hospitaal toe ry. Toe iemand vir Karin sê: soveel mense bid vir jou, skiet haar oë vol trane en lyk sy verward en bekommerd. Ons herinner mekaar daaraan dat dit miskien nie gerusstellende nuus is nie — dis soos om te sê jy het een voet in die graf, die engele wag op jou.

Dit herinner my aan my oom tydens die Tweede Wêreldoorlog. My tannie skryf vir hom: Ma stuur al haar liefde en sê sy bid elke dag vir jou. En hy antwoord vanuit die loopgraaf: Sê vir Ma sy moet onmiddellik ophou om vir my te bid. Sy trek net onnodig aandag op my.

Wat kan 'n mens leer uit so 'n afgryslike gebeurtenis? Die voor die hand-liggende, soos: as jy ouer is, dra altyd 'n paniekknoppie om jou nek, 'n slimhorlosie of 'n selfoon diep in jou sak. Trappe moet jy met handskoene aanpak. En ook iets dieper: moenie teen jou beterwete optree nie. Voordat die pyp in haar mond gestop is, het Karin vir haar dogter gesê die Here het vir haar gesê sy moenie ondertoe gaan nie, maar sy was so lus vir tee. Miskien noem jy dit nie die Here nie, daardie stemmetjie in jou binneste — maar luister daarna. As jy onrustig voel oor iets, moet dit nie doen nie.

As jy 'n bidder is, bid asseblief vir Karin. Ons sal nie vir haar sê en haar bekommer nie.

Dot Serfontein het gesê die verskil tussen oud wees en bejaard wees is 'n val. Karin is nog nie oud nie en ons hoop sy gaan wegstap hiervan.

Die reis dryf nou soos 'n seepbel in my gemoed: onwerklik, soos iets wat jare gelede met iemand anders gebeur het. Die verlies van my laptop voel onbenullig. Ek wens met my hele wese ek kon deur die kwantumboek blaai en 'n ander opsie kies, 'n ander keuse, 'n ander oomblik. 'n Ander uitkoms.

Ek tik nou op 'n groot rekenaar en in die swart skerm sien ek opeens 'n spieëlbeeld van my gesig met mondhoeke wat na onder rem. Miskien moet ek gelukkiger lyk, Gertjie.

Veg teen swaartekrag en bly regop, vriende. Die wêreld is vol gapende afgronde en vlymskerp kante.

Liefde
Deborah


My pop val stukkend

Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit ’n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son

deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende straat
my pop met ’n naam soos ’n liggaam
wat net soos ’n mens kon praat

My pop soos ’n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand

My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug

Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo –
as ek sou val uit ’n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só

Ingrid Jonker


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe