Om te spoeg op die reënboog
In nog ’n slapelose nag dink ek aan iets wat ek gelees het: Dat die stemme wat skisofrene in Amerika hoor, hatig en krities is, terwyl skisofrene in Afrika en Indië vriendeliker, selfs aanmoedigende stemme in hulle koppe hoor. Dit het glo te doen met die gegewe kultuur se houding jeens geestesgesondheid. In Afrika is stemme welkom; dis moontlik die voorvaders, geeste of engele. Hulle gee leiding en wys die pad. Jy is spesiaal, ’n siener. In Amerika is jy kranksinnig en moet die stemme stilgemaak word met medikasie.
Ek wonder al heelweek oor haters. Dit na aanleiding van Helen Zille se jongste tirade en J.K. Rowling se vuige uitsprake oor gender. En toiletmond-Trump in die algemeen, elke dag.

Wat is die profiel van ’n hater? Wilma Stockenström het dit onvergeetlik uitgedruk in die gedig wat ek Woensdag geplaas het:
met jou vossnorretjie, jou blaasvlamblou ogies
meneer raapskraap, meneer koelsmoel! Komaan!
Man, ou pang, ou afgetrede oud-alles, tuis pure
drel, maar boeta, sit hom tussen vlerke! Komaan!
Afgetakelde hiperheld, daar's ’n stryd te stry!
Om te haat is nie so moeilik nie, die vet weet. Veral in die verkeer neem ’n mensweersin maklik van my besit. Haat is ’n lae, primitiewe emosie wat in die likkewaanbrein ontstaan en nooit by die serebrale korteks uitkom nie. Dis die laagste gemene deler. Gemeen.
Hoe lyk hulle, die gesiglose haatblasers op sosiale media? Hoe het hulle so geword? Spruit dit uit teleurstelling? Miskien was jy ’n jong, liberale joernalis met struggle-credentials wat jy nie kon inruil vir geloofwaardigheid nie. Nou is jy ontgogel. Miskien was jy die eerstespan-ster wat nooit genooi is vir Cravenweek nie. Miskien was jy verblindend aantreklik, maar die joolkoningin het iemand anders gekies. En nou lyk jy soos ’n ou komediant sonder sy pruik en implantate. Iemand moet boet. Sondebokke moet daar wees. Dis hulle skuld dat jou lewe lyk soos dit lyk.
Ek het ’n vriendin wat geen weggooibrak kan weerstaan nie. Sy het ’n spannetjie. Soos baie van my vriende is haar binnenshuise kleurskema oorwegend wit. Haar beddegoed is spierewit en die geredde honde weet hulle mag nie op haar bed spring nie. Hulle slaap mooi soet in hulle bedjies langs hare. Maar op ’n dag neem sy ’n nuwe hond aan: 'n sypaadjie-uitgawe wat volstrek weier om van die bed af te bly. Vriendin sal nooit slaan aan ’n honnekind nie, maar sy het geskree, geskel en gevloek. Tot sy opeens besef: Wat is besig om van my te word? Kan ek saamleef met hierdie weergawe van myself: ’n gillende viswyf? Toe het sy boedel oorgegee en nou slaap almal op die bed.

Dis hoe ek voel oor daardie vae rassistiese of seksistiese impuls wat soms vir ’n oomblik kop uitsteek en wil vinger swaai. Is dit die mens wat ek wil wees? Kan ek saamleef met hierdie prentjie van myself? Nee. Draai dit nek-om, elke hatige impuls, spesmaas of gevoelente.
Ek weet die haters gaan sê: Dus omhels jy chaos en verval, soos die steekbaarde wat met hulle modderpote op die wit duvet baljaar? Standaarde moet tog gehandhaaf word!
Laat ek dit so stel: Ek kies vrolike chaos bo verterende haat wat oorkook soos ’n vuurspuwende berg.
Hoe voel die haters oor hulleself in die klein ure van die oggend? Altyd vas oortuig, assured of certain certainties? Geregverdig voel hulle beslis. Ontdaan van enige twyfel of skakering. Duidelik put hulle behae uit haatspraak, soos ’n kind wat stoute woorde sê: die amper seksuele genot van taboeverbreking. Die kameraadskap in die laer. Hulle glo hulle is net eerlik, sê dit soos dit is.
Om te dink aan hoe jou woorde ander mense gaan kruisig, maak van jou ’n sissie. Woke. Liberaal. Nee, hoor, dit kan jy nie toelaat nie. Jy's 'n afgetakelde superheld en daar’s ’n stryd om te stry.
Terug na Zille: Ek gaan net een sin uit haar Facebook-tirade aanhaal wat uitspring weens die belaglikheid daarvan: Identifying as Trans immediately gives you recognition, a badge of courage, acceptance and a supportive peer group. Quatsch, Helen. Trans mense kruip deur glasstukke. 56 persent van transgender kinders het hulleself al uit die lewe probeer help (die nuwe, sagter term in Engels is “to unlive yourself”) en 80 persent erken dat hulle selfdoodgedagtes het. Klink dit na kinders wat recognition, acceptance en support ervaar?
As almal net wou stilbly en nie veroordeel wat hulle nie verstaan nie, sou die wêreld soveel mooier wees. Raak stil en hoor die hartklop van die heelal - ek lees die aarde het elke 26 sekondes 'n polsslag. Maak stil die hatige stemme wat in jou opwel, of sluk ’n pil. Laat die DBV-brak op die bed slaap. Leef en laat leef.


Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
- Anne Sexton
Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.
Maar ek vergewe jou.
Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.
Maar ek vergewe jou.
Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.
Maar ek vergewe jou.
Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.
Maar ek vergewe jou.
Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.
Ander miskien nie maar ek onthou.
† 17 April 1936 - 16 Mei 1975
Johann de Lange
(Uit: Snel grys fantoom, 1986)