Om 'n voetnoot te wees

Liewe vriende
Dis ’n verslawing soos enige ander, die behoefte om alles neer te skryf. En om gelees te word. Dikwels word neerskrywers wat gelees wil wees, oor die vingers getik deur die mense oor wie hulle skryf. Maar as my oë dit sien en my sinne dit ervaar, is dit my storie. Selfs as dit aan my vertel word.
Iemand deel op Facebook Anne Lamott se woorde:
You own everything that happened to you. Tell your stories. If people wanted you to write warmly about them, they should have behaved better.
Ek is ’n groot aanhanger van Pieter P. Fourie se skryfwerk, veral die outobiografiese mosaïek wat hy meesterlik geprakseer het uit die skerp skerwe van sy kinderjare. Die manier waarop hy ontdaan van selfbejammering of die behoefte om simpatie te wen, traumatiese oomblikke weergee, en die rimpels wys wat uitkring.
Eendag gaan ek nog reguit oor my ma skryf, indien ek haar oorleef. Soms voel dit vir my ons moet meer begaan wees oor die planeet wat ons vir my ma en Keith Richards agterlaat.

In die terloopse sinchronisiteit eie aan my lewe, leer ek op een dag twee verwante dinge. Eerstens vertel iemand wat weet dat my ouma vir ’n jaar opgehou praat het ná my ma se geboorte en min met haar te doen wou hê. Die sewe ouer sussies moes haar grootmaak. Ja, jy het reg gelees. Daar was drie broers ook.
Ek het hulle geken, die susters. 'n Taamlik nydige spul. Elkeen het geglo sy is Pappie se oogappel. Elkeen het die engelagtige Mammie, wat weldra uit haar stupor herstel het, as vanselfsprekend aanvaar. Hoeveel moederlikheid het die sustertjies besit?
My ma was die elfde en laaste kind, gebore toe haar ma in haar veertigs was en sat van swangerskap en kinders op die heup balanseer. Daar was selfs skande by betrokke: Die oudste suster het op trou gestaan met ’n predikant, en die susters het gevoel Mammie moes haar ingehou het, dis onbetaamlik om nou weer met ’n groot maag rond te loop. Niemand het Pappie blameer nie, soos dit maar gaan. En niemand het geweet van nageboortelike depressie nie; ’n vrou moes maar net opstaan en aangaan.

Ek het my vroeër ingedink dat my ma moontlik nie heel welkom gevoel het toe sy so laat in so ’n groot gesin opdaag nie. Dat sy daarom uit niks vir haar ’n grandiose selfbeeld moes saamflans. Met deursettingsvermoë, trots en wilskrag wat haar groot hoogtes laat bereik het. ’n Reusepersoonlikheid soos 'n natuurkrag wat geen teenstand duld nie. Suiwer wil. Wat altyd die middelpunt moet wees, ten alle koste.
Maar ek het nie geweet dit was so erg nie.
Daar is net een babafoto van my ma. Dis effens uit fokus. Sy is besig om te huil of het sopas gehuil. Haar gesig is vertrek in ontsteltenis. Gerf donker hare, bleek gesiggie. "Dingetjie" het hulle haar genoem.
Op dieselfde dag lees ek in 'n boek dat geboorte vir kameelperdkoeie so pynlik is dat hulle daarna niks met die kalf te doen wil hê nie. Hulle gee staande geboorte, so die kalf val amper 2 meter grond toe en word dan deur die ma weggeskop. Soms word sjamaans glo ingeroep om vir ma en kalf strelende musiek te speel en te sing om hulle trauma te verlig, want as die kalf nie dadelik begin soog nie, gaan hy dit nie maak nie. So is sommige mense se geboorte, net sonder die troossangers.

Ek het dit maar gegoogle ook en ’n meer prosaïese antwoord gekry: die kameelperdkoei skenk staande geboorte sodat die kalf (pote eerste) se lang nek nie beseer word nie, en die afstand wat hy val help om die bloedsomloop aan te wakker en die naelstring te laat breek. En blykbaar skop die ma die kalf om hom so gou moontlik te laat opstaan, want daar is roofdiere in die omtrek.
So kan ’n mens nie alles glo wat jy lees nie, maar aan die ander kant: wie weet hoe seer ’n kameelperdgeboorte is en wie kan met sekerheid sê daar is geen woede agter die skoppe nie? Ek kies uiteindelik altyd die aangrypendste storie. Lesers is liggelowig.
Die pynlikste geboorte moet sekerlik ’n hiëna s’n wees – die welpie word deur die ma se lang penis gebore. Eina.
Soms dink ek aan bose sirkels wat eindeloos voltrek word en ek word lam. Ek het ’n niefiksieboek gelees van ’n Amerikaanse sielkundige wat met ter dood veroordeelde mans gewerk het. Sy het dit reggekry om geharde moordenaars hulle harte te laat uitstort. Sonder uitsondering het hulle as kinders erge trauma beleef, dikwels fisieke en seksuele mishandeling deur hulle ma’s se nikswerd kêrels, met drank en dwelms betrokke. En geen aandag van die ma nie.
Ons is so stukkend. Is niemand dan aanspreeklik nie? Een ding is seker: versagtende omstandighede is daar altyd.
My kinderjare het my heelwat geleer: Hoe om gesien en nie gehoor te word nie, hoe om jou mening vir jouself te hou en nie teen die prikkels te skop nie. Hoe om konflik te vermy en onder die radar te bly. Later stryk ’n mens maar die frommels uit, wat. Maar as die verwaarlosing en verwerping gebeur voordat jy die verstand het om te redeneer en te verstaan, is daar min salf aan te smeer.
Ek gaan kuier so dikwels as wat dit emosioneel vir my moontlik is by my ma. Sy sê sy is lief vir my. Ons praat oor boeke.
Ek skraap nog die moed bymekaar om haar lyf, tenger soos 'n voëlskelet, teen my vas te druk, haar te wieg, en te sê: "Toemaar. Jy het gebrek gely. Jy het nie gekry wat jy nodig gehad het nie. Jy is onvoldoende bemoeder. Jy was 'n voetnoot, Dingetjie. Maar jy het hulle almal uitgestof. Jy het hulle gewys. Toemaar."
Maar wat dan? Ervaring het my versigtig, lugtig gemaak. Moenie die pinkie gee nie.
If people wanted you to write warmly about them, they should have behaved better.
Liefde
Deborah

