Om buite te slaap

Om buite te slaap
Foto deur Hanna Lazar / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe medelewendes

Onlangs skryf 'n vriendin uit my prille jeug by 'n sosiale mediaplasing van my: "Skryf tog iets oor slaap op 'n lysie saam met die duiwe."

Dankie, Benita. Ek het amper vergeet. In my tweedejaar het ek op die sewende vloer van Karlien dameskoshuis aan die destydse PU vir CHO gewoon. Koshuise en mense het soms vir my beklemmend geraak. Dan klim ek in die nag deur my venster en slaap op die lysie wat die koshuis omring. Die lysie was so smal dat ek nie op my rug kon lê nie, net op my sy. Op een kussing. Die lysie het nie 'n reling gehad nie, net 'n muurtjie die hoogte van 'n plat baksteen. Duiselingwekkend ver onder lê die parkeerterrein uitgestrek, met karre so groot soos vuurhoutjieboksies. Ek onthou die gesuis van die wind en die gefladder van duiwe wat nesskrop vir die nag. Ek slaap regtig, maar is heelnag bewus dat ek op die rand van 'n afgrond lê en nie mag omdraai nie. So 'n adrenaliengevulde halfslaap. Dit was vir my suiwer opwinding, soos 'n hangmat teen 'n hoë rotswand.

Ek het ook soms op die koshuis se dak geslaap, wat veel veilger gevoel het. Een nag staan ek op die heel hoogste punt regop om rond te kyk en iemand in 'n ander koshuis gewaar my. Daar was glo 'n man wat in en om dameskoshuise rondgesluip het, dus bel hulle die kampuspolisie. Toe ek weer sien, skyn 'n flitslig op my en 'n kwaai stem bulder oor 'n megafoon vanaf 'n laer vlak: "Kom regop met jou hande in die lug." Ek staan toe maar weer op. Hulle sien ek is 'n meisie en vra verdwaas: "Hoe het jy daar gekom?" Ek was 'n gehoorsame kind. Ek wip af tot naby hulle, met behulp van 'n pyp, 'n geut en 'n gat in die muur, met 'n ekstra tikkie windmakerigheid, en sê: "So." Ek klouter blitsig weer terug. Niemand volg my nie, maar die stem gebied: "Klim nou weer stadig en versigtig af." Ek maak maar so, met kombers en kussing onder die arm vasgeknyp, en die kampuspolisie begelei my uit die koshuis vir ondervraging. Om een of ander rede gebruik ons nie die hysbak nie, maar die trappe. Op elke vloer staan al die dames (so is ons destyds genoem) voor hulle deure in kamerjasse en krullers, met groot oë. Ek het met 'n waarskuwing weggekom.

Op hoërskool het ek eenkeer, ook om te ontsnap, op die dak van 'n hoë vleuel van die skool geklim en daar in die son gesit. Ek is uit die personeelkamer gewaar en die onderhoof het my versigtig en smekend afgepraat, soos vir 'n springer.

Toe ek 'n kind was het ons dikwels buite geslaap. En ek het op die huis se dak geboer. Ek het by my pa raas gekry daaroor, maar het telkens weer skelm opgeklim en daar uitgekamp. Dit was gerusstellend om te weet niemand weet waar jy is nie – dit was lank voor die dae van selfone – en niemand kan jou in die hande kry nie. Die volgende huis waarheen my ouers getrek het, het 'n daktuin gehad. Dis al waar ek geslaap het wanneer ek gaan kuier het. Selfs in die somer is nagte in die buitelug koel en is jy bewus van die elemente. Nagvoëls roep en jakkalse huil. Wind en dou. Hoe helder die maan kan wees. Wolke wat soos skepe seil.

'n Studentehuis waarin ek gewoon het, het 'n spits nok gehad waarop ek geklouter het om na te dink oor die lewe. Op die buitekamer se plat dak het ek dikwels gekuier en een keer afgeval. Ek het nie lere gebruik om hierdie hoogtes te bereik nie. Ek was 'n klouteraar. Hier 'n baksteen wat uitstaan, daar 'n waterpyp om op te trap of 'n boomtak om te gryp. Boomklim was ook op my agenda, veral uitdagende bome met min lae takke. Blaredak met spatsels lig. Groen gras ver onder. Uitsigte wat jou maag laat draai.

Ek leef nou nader aan die aarde. Met die jare het ek banger geword, versigtiger. Ek het respek gekry vir swaartekrag. Ek wil regop bly. As kind en jongmens het ek genoeg gespring en geval. Nou klop ou beserings aan my deur en ek wil graag heel bly.

Ons het 'n balkon, maar dit voel nie in die nag veilig nie, selfs nie in 'n sekuriteitskompleks nie. Nou slaap ek op 'n sagte matras agter slot en grendel want ek het nie soveel lewens oor soos toe ek jonk en doodsveragtend was nie.

My broer Hendrik het ook graag buite geslaap, net waar hy kom. By vriende van my het hy vroegoggend uit sy slaapsak gekruip en regdeur die dam geswem. Toe hulle seun hom daarop wys dat die dam vol krokodille is, sê hy: "Ek het baie probleme, maar krokodille is nie een van hulle nie."

Housekeeping deur Marilynne Robinson is een van my gunstelingboeke van alle tye. Die kind se tante was eksentriek en haweloos. Sy het op treine gespring en onder bome geslaap. Sy het gesê jy word bederf deur die buitelug en die elemente en later is huise te neerdrukkend, jy smag na die vryheid van die ooptes.

Ek het mak geword. Ek is minder koddig en wêreldvreemd as toe ek jonk was. Ek het lanklaas weggeloop. Ek spring nie meer onbepland op treine of gooi duim nie. Ek slaap nie meer op lysies nie. Maar iets van toeka se roekelose, hoendervelwekkende wildheid sal altyd deel van my grein wees.

Het jy al buite geslaap en hunker jy na ooptes? Laat my weet.

Liefde
Deborah

Climbing

High up in the apple tree climbing I go,
With the sky above me, the earth below.
Each branch is the step of a wonderful stair
Which leads to the town I see shining up there.

Climbing, climbing, higher and higher,
The branches blow and I see a spire,
The gleam of a turret, the glint of a dome,
All sparkling and bright, like white sea foam.

On and on, from bough to bough,
The leaves are thick, but I push my way through;
Before, I have always had to stop,
But to-day I am sure I shall reach the top.

Today to the end of the marvelous stair,
Where those glittering pinacles flash in the air!
Climbing, climbing, higher I go,
With the sky close above me, the earth far below.

Amy Lowell


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe