Okay. Yeah. Sure.
Read the article in English here.
Vandag is Mercia S. Burger aan die woord. Sy is 'n bekroonde skrywer en soos my vriend Louis Gaigher lees sy net letterkundige boeke. Sy het 'n oog wat nie wyk, wat 'n barshou kyk en sy kan toor met woorde.

Net sodat ons weet waarvan ons praat – die Brits-Hongaarse skrywer David Szalay se van word as Sol-loy uitgespreek. Die “a” klink soos ’n “ô” en die “lay” na ’n “loy.” Wat van die “z” word, weet ek nie.
All that man is, sy bundel interverweefde kortverhale wat verskillende belewenisse van manlikheid aanspreek, het in 2016 vir Szalay sy eerste Booker-nominasie besorg. Skinderstories beweer hy het dié toekenning net-net misgeloop. Flesh (2025) is tans op die Booker-langlys (die sogenaamde “Booker Dozen”), maar sal hopelik – en waarskynlik – ook die kortlys haal, wat op 23 September aangekondig word. Dié twee boeke saam lees goed as verwante én aanvullende tekste, waar Flesh ’n literêre eggo is van tema’s en karakterisering wat Szalay reeds in All that man is begin ontgin het.
Die storie
Flesh volg die lewensloop van István (sy van word nooit genoem nie), wat saam met sy ma in ’n onbekende, stil Hongaarse dorpie woon. Die eerste hoofstuk spring vinnig weg. István is vyftien jaar oud toe twee insidente ’n radikale impak op sy grootwordjare en ervaring van sy seksualiteit het. ’n Meisie met wie hy wil seks hê, verwerp hom omdat hy nie “sexy” is nie:
“It’s horrible, to have that said to him, and about him, and yet he doesn’t know what to say or answer to it. It seems unanswerable.”
Daarna raak hy betrokke by ’n getroude ouer vrou wat hom as minderjarige “groom” en by ’n seksuele verhouding intrek, ’n verhouding wat hy gelate aanvaar.
“Their encounters shift into a clandestine relationship that István hardly understands.”
Die invloed van hierdie gebeurtenisse op sy vormingsjare word nooit direk aangespreek nie, maar ’n mens onthou dit, en ’n mens vermoed.
Vandaar, kortliks, volg ’n tyd in ’n jeugtuiste vir jong oortreders, militêre diensplig en aksie op die slagveld, ’n paar sessies by ’n sielkundige, en dan verskuif die toneel van Boedapest na Londen, waar hy ’n opportunistiese werksgeleentheid as chauffeur van ’n welgestelde gesin kry.
Die karakter
Waarby ek eintlik met hierdie boekbespreking wil uitkom, is Szalay se fassinerende asook frustrerende uitbeelding van István se karakter. Vergeet van skryfskoollesse oor volronde karakters met ryk innerlike lewens. Vergeet van karakterboë, van refleksie, van emosionele groei en insig. István word as plat karakter geskryf, eendimensioneel soos ’n skaduwee, tot op die punt van banaliteit. Hierdie karakter pas ideaal in by Szalay se minimalistiese skryfstyl en herinner aan ’n ander reëlbreker en tydgenoot, Rachel Cusk, se naamlose, passiewe karakters wat eerder luister as praat.
Herhaaldelike gesprekke tussen hom en kennisse, asook sy latere vrou, Helen, val vas in reaksies van “yeah” of “okay,” soms afgewissel met “yeah?” en “yeah okay.” Net om dinge interessant te maak, is daar ook “sure” en “sorry.” En as hy die dag gesellig is, laat waai hy met “What do you mean?” of “I don’t know.” So dobber sy lewe voort, gedryf deur toevallighede en ander (veral vrouens) se besluite.
“He doesn’t know why he does what he does next. Something wells up in him,” probeer hy op ’n stadium sy gevoelens ontleed, en hy lees selfhelpboeke soos Playing to Win, maar niks verander nie. Daar gebeur soveel, maar daar kon net sowel niks gebeur het nie.
Sy gelate passiwiteit, geboekmerk deur een “okay” ná die ander, sy lomp sosialisering, sy dooie verveligheid en sy gebrek aan opinies sal lesers vir seker frustreer en ongemaklik laat. Dit is natuurlik presies wat Szalay in gedagte gehad het.
’n Leë blik
In ’n onderhoud noem Szalay dat hy lank in Boedapest en Londen gewoon het, en verduidelik dat hy nie regtig meer in Hongarye of Engeland tuis voel nie. As binne-buitestaander beskryf hy die isolasie wat iemand ervaar wat in ’n vreemde stad en land woon en Engels met ’n swaar Hongaarse aksent praat, soos sy protagonis. Geleidelik word István ongemerk meer kompleks.
Eerder as om sy karakter as plat en eendimensioneel te lees, kan ’n mens hom ook sien as ’n emosioneel gebroke karakter wat steeds in sy tienerjare ronddwaal. Lees tussen die stiltes, dit wat nié gesê word nie – wat het van sy pa geword? – en dit waaroor nooit weer gepraat word nie.
Die leser sal so ’n bietjie ongemak moet verduur en vasbyt, maar hierdie ou is ’n leë blik met ’n speld daarin. As jy hard genoeg skud, hoor jy tog iets.

Flesh deur David Szalay is deur Scribner uitgegee en kos R367 by bookdelivery.com.
Mercia S. Burger

These days
I keep hope in one pocket
and grief in the other
like coins. I never know
how to handle change
but to move forward,
I have to feel both.
Rachel Beachy