Oeps, ek bedoel ...

Oeps, ek bedoel ...
Foto deur Jan Böttinger / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Kommunikasie is nie 'n reguit pad nie. Dis kronkelend, vol haarnaalddraaie en gapende slaggate. Daaraan dink ek weer toe ek 'n ou kennis raakloop en sy vertel van haar seun se streng girlfriend wat glo niks van haar hou nie. Die girlfriend is 'n Serbiër. My vriendin probeer ongemaklik geselsies maak, en vra per ongeluk: "So, how is it in Siberia?" Onmiddellike woede.

Soos Freud glo ek dat sulke glipse glad nie toevallig is nie. Jou onderbewussyn tel op: "Dié mens is koud en afsydig," en pootjie jou tong om te struikel na 'n ysige, onherbergsame streek.

Sekere woorde is bloot te na aan mekaar en sekere mense klits lettergrepe deurmekaar tot hulle lepellê. 'n Vriendin se ma het eenkeer, lank gelede, verbygestap toe ons na 'n tenniswedstryd tussen Martina en Chrissie kyk en vuis omhoog aangemoedig: "Wys haar, La Traviata!"

Martina Navratilova. Kopiereg: TENNIS Magazine

Mense sukkel in elk geval met woorde wat te eendersklinkend is. Ek en my vriendinne word soms Lebanese genoem. Nee, hoor, ons kom van Letland. My vriendin Martina is Oostenryks. Sy het al die wêreld platgereis en wanneer mense vra waar sy vandaan kom en sy antwoord "Austria," reageer hulle klokslag: "Oh, kangaroos!"

Dit gebeur dikwels dat ek 'n woord te vinnig lees en blitsig tot die verkeerde slotsom kom. Ek is nie alleen nie. Iemand wat ek ken se nuwe boyfriend was 'n ginekoloog. Toe hy die eerste aand oorslaap, kyk hy in haar medisynekassie en merk 'n botteltjie pille met die naam Hangova. Vir babelaas, natuurlik. Maar, uit die aard van sy beroep wou hy besorg weet: "Is daar 'n probleem met jou eierstokke? Hang hulle?"

Partykeer hoor 'n mens verkeerd of buite konteks en só ontstaan fopnuus. Ek het vir die grootste deel van my laerskoolloopbaan geglo my ma is 'n dwelmslaaf. Ons is by die skool gedurig gewaarsku teen dwelms, maar hulle het dit "verdowingsmiddels" genoem. Eendag hoor ek 'n deel van 'n gesprek tussen my ouers:

My pa: "Jy kan dit nie aanhou drink nie."
My ma: "Maar dit help."
My pa: "Dis nie 'n langtermynoplossing nie. Dis net 'n verdowingsmiddel."

Ek het nooit met iemand daaroor gepraat nie en my kruis alleen gedra. Die ware betekenis van die gesprek het ek eers jare later vir myself uitgewerk. So het ek, hus met lang ore, konstant geloop met 'n kop vol woorde en opmerkings wat eers veel later sou sin maak.

Daar is nog 'n gesprek tussen my ouers wat my bybly, omdat dit soveel verklap van elkeen van hulle se aard: Eendag sit ek in hulle sitkamer en lees; die gastetoilet is net op met 'n paar trappe. Ek hoor my ma aan die toiletdeur klop en sê: "Jo, moenie trek nie. Ek wil ná jou piepie." Hulle het 4 toilette in die huis gehad, maar nou ja. Later klop my ma weer en maak sommer oop: "Ag nee, Jo! Ek wou ná jou piepie maar nou is jy besig met ander dinge." Gelukkig kon ek deur die oop deur my pa se bedeesde antwoord hoor: "Jammer, ek het gedag dis net 'n wind."

Soms dink ek daar hang 'n terg- of poltergees rond wat sorg dat 'n mens op die verkeerde oomblik die heel verkeerdste ding moontlik sê. Uit die bloute. Eendag kuier ons saam met vriende. 'n Vriendin van hulle is ook daar. Ons is voorgestel, maar ek is te gestres om name te onthou wanneer mense voorgestel word. Die vrou vat taamlik fles en raak deur die loop van die aand toenemend bitter. Sy vaar eindeloos uit oor haar man wat 'n skelmpie het en nou selfs saam met die skelmpie ingetrek het en die kinders gaan kuier by hulle en alles en hy is so 'n varklike bliksem en al die mans in sy familie is ongeneeslike rokjagters en hy is laer as slangkak. So gaan dit aan. In 'n poging om die onderwerp te verander, merk ek later op: "Weet jy wie bewonder ek werklik?" Ek noem die naam van 'n Afrikaanse musikant. Die vrou spring op, wys 'n bewende voorvinger na my en skree: "Man, fók jou!" Toe was dit die man oor wie sy al die hele aand uitvaar. Ek het regtig nie geweet nie.

Vriende het een aand 'n argument oor 'n teksvers. Hulle sit in 'n vriendin se sitkamer, elk met 'n Bybel op die skoot om die Skrifgedeelte op te soek. Haar niggie kom in en vra: "Vir wat sit julle hier soos 'n spul Jehovas?" Natuurlik was een van die vriende 'n Getuie.

Terug na verraderlike woorde. Ek was al groot toe ek besef dis "onstuimig" en nie "onTstuimig" nie. 'n Deon Meyer-karakter het gesê: "Dis nie rocky science nie." Baie mense praat van "asembenewend". "Verseker" duik in e-posse op in plaas van "vir seker". "Waardeer" en "waardeur" kan lol.

Ek is nie 'n deskundige nie, maar ek lees graag Sophia Kapp se taalwenke. Laat ons nie wollerig praat nie, maats. En hou die klou uit die bek.

NS: Sekere woorde sal my altyd aan ander herinner. As ek 'n mak ooievaar gehad het, het ek hom Potifar genoem. En Barend die arend. Adidas die hadida. 'n Luistervink, 'n lokvink en 'n laventelhaan. Dalk 'n valk.

Liefde
Deborah

C.M. van den Heever

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe