Nou-nou is lankal verby
Jeanne Goosen het altyd gesê – ja, daar was goed wat sy weer en weer gesê het, en dit was gerusstellend – as sy een maal om die blok gestap het met haar twee honde, het hulle via hulle snoete genoeg inligting versamel om hulle koppe heeldag besig te hou. So is dit met my as ek my voet by die deur uitsteek, veral wanneer dit is om ’n vertoning, uitstalling of boekbekendstelling by te woon. Woensdag het Antjie Krog my heelwat gegee om aan te herkou.
Sy reken sodra jy iets neerskryf, word dit fiksie. Want elke mens se ervaring van ’n gebeurtenis is verskillend. En in die neerskryf word dit verder gekantel, geïnterpreteer, verwring.
Waar stoor 'n mens jou gewaarwordinge en herinneringe? Jonger mense sien neer op Facebook, maar ek verkies dit bo Instagram wat bevolk word deur foto’s van mense se beste voetjie en blinkste aansig. Eers het ek geskop teen Facebook se nuwe algoritme: in plaas van vriende se plasings, sien ek deesdae meer en meer geborgde inligting. Gelukkig stuur ’n mens se reaksie dit in ’n rigting. Ek sien nou baie plasings oor diere, natuurwonders en die menslike psige. Inligting wat my kop besig hou.
Het jy geweet: In Portugal is ’n buitengewone biblioteek waar vlermuise oor antieke geskrifte waak. In die Joanina-biblioteek van die Universiteit van Coimbra woon hulle al vir eeue tussen die rakke en beskerm die kosbare boeke teen insekte. Snags gly hulle deur die leeskamer en vang besies en motte wat die delikate bladsye sou beskadig. Die meubels word snags met leeroortreksels bedek en deeglik skoongemaak in die oggend.
Die tydreisiger-jellievis (Turritopsis dohrnii) draai die horlosie terug, fnuik die dood en lewe vir ewig deur telkens terug te transformeer na hulle jonger self. So trek hulle die ouderdom ’n streep. Ek hoop net nie ’n skoonheidshuis begin op hulle eksperimenteer nie.

Het jy al ’n pink fairy armadillo gesien? Die diertjie lyk onwerklik en onwaarskynlik, soos ’n kind se skets:

’n Sampioen se regte-egte vorm, die Mycel, is verberg vir ons oë. Wat ons oog sien en paddastoel noem, is slegs sy verganklike vrugtelyf. Die sampioen se regte, noodsaaklike lyf is die Mycelium, ’n netwerk van rafelagtige strukture wat ondergronds leef. As jy ’n sampioen in ’n petri-bakkie kweek, word sy netwerk van rafels sigbaar en versprei oor die medium.

Al hierdie lieflike feite maal deur my kop, saam met die woorde van digters, wanneer slaap tergend op ’n afstand bly. Dan dink ek na oor dinge soos tyd, een van my gunstelingonderwerpe.
Tyd wat so elasties is, so oneweredig, so veranderlik. Wanneer ons uitsien na iets, is dit deur die voorruit ’n lang, kronkelende pas tussen berge. Wanneer ons terugkyk daarop, is dit ’n smeersel in die truspieëltjie. Vervlietend, reeds verby toe dit begin het.
Vanmiddag vlieg ons Engeland toe, ek en my persoon en haar susters. Daar bly ons vir twee dae by haar broer, dan vlieg ons Athene toe, waarvandaan ons almal op ’n skeepsreis vertrek. Dis geborg deur haar broer en sy partner.
Ons gaan vir 10 dae op die see wees. Ons twee se kajuit is op die 12de verdieping, met ’n balkon en ’n hangmat. Ek kan my dit nie eens voorstel nie. Ek het nooit gedink, al die jare toe ek twee dogters grootgetrek het op die salaris van ’n vryskutjoernalis, dat ek so iets sou ervaar nie. Ons doen aan by Mykonos, Santorini, Corfu, Bodrun in Turkiye, Dubrovnik in Kroasië, Kotor in Montenegro. Betowerende name, plekke waar ek nog nooit was nie. Soms is ons heeldag op die water, met geen land in sig nie. Ek vat 'n tas vol boeke.

Ek is niksgewoond genoeg om hoogs opgewonde te wees oor die meer as 20 restaurante op die skip, alles ingesluit in ons geskenkreis. Ek sal soesji vir ontbyt eet.
Na hierdie vaart sien ons al maande uit en ek weet, wanneer dit eers begin, gaan dit verbysnel soos ’n stemboodskap gestel op 2X-spoed. En daarna, vir solank ek leef, sal dit ’n bewustheid in my selle wees, hier en daar ’n oomblik wat behoue bly soos ’n insek in hars.
Daar is wi-fi op die skip en ek neem my laptop saam, so ek gaan oomblikke vang en julle laat saamreis, as julle hier wil lees. Dan word my ervaring fiksie; gekantel, geïnterpreteer en deur ’n lang lens beskou.
Vandag plaas ek nie ’n gedig nie, maar ’n aanhaling van Virginia Woolf wat dit so raak en droef opsom; tyd, die lewe, die oomblik:
