Naelbyt in Afrikaans

Naelbyt in Afrikaans
Foto deur Brianna Parks / Unsplash
ANGELA TUCK

Ek het 'n swak vir 'n hofdrama. John Grisham, Scott Turow en so aan. Plaaslik is hofverrigtinge natuurlik minder dramaties as in Amerika, met die juriestelsel en al die teateragtige dramas wat afspeel. Maar steeds, om in die skoene van die verdediger te staan, op jou voete te moet dink en jou opponente te uitoorlê, lyk vir my heel skeppend, soos skryf.

Die ooggetuie deur Wilna Roux

Ek het 'n roman deur Wilna Roux gelees. Sy is 'n prokureur op Worcester, so sy weet waarvan sy praat. Die ooggetuie is haar debuutroman en die eerste in 'n reeks. Gaaf!

Julia Blomerus is 'n lekker karakter, met 'n groot kraak. Sy is 37 en iets aakligs het met haar gebeur tydens 'n hofverskyning wat plaasgevind het voordat die boek afspeel. Mettertyd leer die leser wat dit was, maar vir eers weet ons net dat sy 'n fobie oor hofsale en -verskynings het. Na 'n belowende loopbaan in die stad is sy stert tussen die bene terug Worcester toe. Sy assisteer haar jeugvriendin se pa, oom Sakkie, in sy praktyk. Hy behartig die hofverskynings, sy doen net navorsing en staan hom by.

Dan word oom Sakkie onverwags siek en lê in die hoësorgeenheid in die hospitaal, 'n dag voordat hy die verdediging moet waarneem van 'n jong vrou wat aangekla word van die moord op haar man. Dit gaan oor die erfdeel ook, 'n spogplaas, en soos misdaadlesers goed weet: die bloedige hand mag nie erf nie. Oom Sakkie was seker die beskuldigde, Lizanne Malan, is onskuldig. Julia is minder seker en die getuienis en bewyse is redelik verdoemend. Die jong weduwee wil aanbly op die plaas en boonop is sy redelik danig met die aantreklike voorman.

Nou moet Julia haar demone konfronteer en in die hof opstaan en praat.

Dis 'n spannende roman; algaande vou die ware gebeure oop en kom ander verdagtes na vore. Die leser hou asem op vir Julia met haar fobie en onsekerheid. Uiteindelik word dit duidelik, soos die voorblad stateer: Julia Blomerus se dae as kamerprokureur is verby. Ek sien uit na die volgende een.

Die ooggetuie deur Wilna Roux is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R350 by Graffiti.

Al die swendelaars deur Chris Karsten

Afrikaanse misdaadlesers weet teen hierdie tyd hulle is in vaardige hande wanneer hulle 'n Chris Karsten-krimi optel. Hy gaan die kontrak nakom en jou op die punt van jou stoel hou.

Hierdie roman het iets van alles: 'n knypie cozy, 'n knussie dink ek noem hulle dit in Afrikaans - 'n vriendekring in 'n ouetehuis, Sunbird Retirement Village, wat weier om gepas waardig en bejaard op te tree - vonkies humor, swendelaars, geldwassery, diefstal, 'n menslike speurder op die drumpel van aftrede en selfs 'n skeutjie liefde.

Bertie Greeff, wewenaar, en sy vriend Diek is ingeloop deur 'n blink stefaans, Louis Jooste (sien jy hoe hy die naam van een swendelaar en die van van 'n ander het) met 'n Ponzi-skema. Hulle het hulle neseiers verloor en Bertie bedryf 'n soort oudhede/pandjieswinkel in Wildernis, Goeters & Goodies.

Dan is daar 'n inbraak by Ganzevlei Stables, Jooste se spogperdeplaas buite Wildernis. 'n Afvaardiging Arabiere het peperduur perde kom koop en sy bestuurder het die geld (dollars) in 'n rusbank weggesteek tot die volgende dag. Klink dit bekend? Natuurlik is die geld gesteel.

Dis speurder Arrie Dogh se laaste saak en die ondersoek word keer op keer in die wiele gery deur die buffelagtige kaptein Molo van die Valke, wat hom bystaan. Hy is soos 'n bul in 'n porseleinwinkel.

Daar is heelwat interessante karakters soos 'n Japie Dikkat, 'n oud-jokkie wat met die gereg slaags geraak het, sy suster Sadie wat hom op die smalle weg probeer hou, kleurvolle skobbejakke, perdesmouse en die lede van Sunbird Retirement Village se panto-groepie, waaronder Rebekka, op wie Bertie Greeff verlief is.

Dis 'n gekonkel binne 'n gekonkel, soos die agterblad sê: Kinkels en kullery en volop skelmstreke. Dis 'n roman wat jou al vinniger laat omblaai, al is ek reeds effens moeg vir knussies oor uitgeslape oumense wat konkel en verlief raak soos skoolkinders en reëls verbreek - ek wat self naby aftrede is, as so iets sou moontlik wees vir 'n skrywer - en eersdaags hopelik 'n oumens gaan wees. Maar dan, waarom moet ons ook altyd lees oor beeldskone jong mense?

Al die swendelaars deur Chris Karsten is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R350 by Graffiti.

perde

perde is konings van heuwels
en hawer van duine en torings van vuur
perde is konings met mantels van blou
oker amandel skimmel soos grou
swarter as oonde witter as talk
maanhaar verstroom in vleie van wind

perde is konings met keile en hoewe
wat ratel oor berge riviere en rif
savannas en kranse en skeure met drif
o konings van klip met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet

robyn is die kykers van perde
robyn soos die sterre teen skemer
waar die stofwolk draai waar die sand
in kringe soos poeier verdwyn

bruin is die oë van perde
bruin soos die maas op modder
waar die son waterpansag
in die somer kom lê

perde is konings wat proes en galop
oor pleine en plato’s van mense
perde dra vragte van kinders en ridders
of oues van dae soos ’n hut op die rug
perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome

perde is visse in waterwoestyne
swiepend van links en na regs
en terug in die lug asof gode
hul koppe in nette wil vang
met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet

perde is prinse wat die melkweg kantel
die oggend se as die stadige pas
perde is prinse en draf aan die hand
met spelende spiere wat dans deur die land
en klop ametis ametis

perde is vroue wat geheime in paaie ontdek
vroue met flanke wat glim in die sweet van die dag
kampeer tussen mane en sneeu tussen wasem en gras
wat kom lê in ’n stal soos ’n ster in ons pas

perde is konings en prinse en visse en vroue
perde is meer as salpeter van asem

Marlise Joubert


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe