'n Veegsel op die netvlies

'n Veegsel op die netvlies
Foto deur by Martin Baron / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Hier is November. Voor jy kan sê "mes".

Ek bekyk die dae uit die hoek van my oog, soos drifsels – uiteindelik het ek 'n naam vir daardie drywende, deurskynende figuurtjie wat van kleins af in my ooghoek baljaar, veral wanneer ek moeg is. Dit word floaters genoem: Spikkels, kolletjies of slierte wat verby jou gesigsveld skuif. Dit word veroorsaak deur klein bondeltjies proteïen in die deursigtige jellie-agtige oogvloeistof, wat skadu's op die netvlies gooi. Haal eers die balk uit jou eie oog. As kind het ek die figuurtjie altyd as 'n stokmannetjie gesien: 'n Ronde koppie en reguit lyf. Hy het soms liggaamsoefeninge soos opsitte gedoen en soms opgekrul tot vraagteken. Ek het hom beskou as een van die vele dinge waaroor ek nie mag praat nie omdat ander mense dit nie kan sien nie.

Die dag is 'n floater, 'n skadu op die netvlies. 'n Mens gooi jou nette uit en hoop om iets van die dae op te vang, om iets oor te hou. Trek jy jou net uit die water, is dit meestal vol opdrifsels, plastieksakke en ou skoene, met hier en daar 'n lieflike veer of gladde spoelklip.

Ek het iets gelees oor geheue en dis redelik esoteries en raaiselagtig, soos kwantumbiologie mos maar is: Nuwe navorsing suggereer dat herinneringe nie in lêers in die kop gestoor word nie, maar in die kosmos. Dinge wat ons ervaar los patrone in die weefsel van ruimte en tyd. Subsellulêre strukture in ons neurone werk soos wysers wat daardie patrone op aanvraag terugspeel. Om toegang te kry tot 'n herinnering is soos om 'n radiostasie op te vang: Sinapse help jou om die regte stasie te vind, maar die uitsending leef in ruimtetyd. So iets.

Hulle vermoed nou die konvensionele manier om kognitiewe funksie te verduidelik is onvolledig en selfs onakkuraat. Dit was altyd só verduidelik: Neurone verbind en vonk saam. Verbindings tussen neurone, genoem sinapse, enkodeer informasie in die brein.

Daar is egter mense wat elke liewe dag van hulle lewe kan onthou, oomblik vir oomblik. Dis die teenoorgestelde van geheueverlies. Hierdie kondisie word Hipertimesie genoem en dit weerspreek die konvensionele neuroberekeningsmodel. Blykbaar is daar eenvoudig nie genoeg bytes beskikbaar via die sinapse om hierdie verskynsel te verduidelik nie.

My nooi is in 'n nartjie, nie in my kop nie. My herinneringe is ingemessel tussen die bakstene van my grootwordhuis. Dit maak sin: Die kosmos is soveel groter as my kop.

Nou diep ek hier lukrake herinneringe uit die week op, dinge wat my opgeval het, soos flitse in die donker.

Die weer, daardie onontbeerlike gespreksonderwerp. Die weer is 'n konstante kameraad regdeur jou lewe. Dit verbind die verlede en die hede en dra herinneringe soos wolke reën dra. Donderbuie en donker lug plaas my terug in my kinderjare, blou knieë bibberend in 'n skoolrok, arms hoendervel sonder trui, want vanoggend het die son nog geskyn. Ek spring kaalvoet oor die waterplasse op pad huis toe, waar my ma met sop en pannekoek wag.

Ek luister graag na die weervoorspelling – dit word seker nie meer so genoem nie, veral omdat dit meestal verkeerd is. 'n Aanbieder staan voor die sinoptiese kaart met 'n wysstok. Wolke en winde beweeg soos gedagtes oor 'n satellietfoto van die aardbol. Veral in Afrikaans bekoor sinsnedes en woorde soos: Hoë golwe kan môre skeepvaart bemoeilik. Stormwindwaarskuwing. Verspreide donderbuie. Elders mooiweer en warm. Vroegoggendmiskolle. Wydverspreide ryp. Bloedig warm.

En: Ek het op 'n WhatsApp-groep met honderde lede beland. Die onophoudelike stortvloed boodskappe het my mal gemaak: Geleerdes wat in sirkels argumenteer oor definisies. Die laaste strooi was toe een van die min mense op aarde wat ek nie kan uitstaan nie, ook daar kop uitsteek. Nie om saam te gesels nie, maar om almal daar teenwoordig deeglik te beledig en so ook ons saak – eie aan sy aard. Ná sy lang tirade skryf hy:

Verskoon die swak proeflees ek is op n tablet vandag.

Voor ek my kon keer, tik ek 'n antwoord:

Jy behoort elke dag op tablette te wees.

Gelukkig was die ander groepslede vermoedelik nog besig om sy lang boodskap te lees, toe ek besef ek wil nie met hom in 'n modderstoeigeveg betrokke raak nie, en my boodskap delete. Maar ek is trots daarop, dis bevredigend ná al die kere wat ek eers die volgende dag of laat in die nag aan 'n gepaste teenwoord kon dink. Ek glo in die saak, maar het die groep nou gedemp.

Ek het 'n rukkie gelede geskryf oor Charles Dickens wat hom soos 'n vark gedra het teenoor sy vrou. As jy tyd het, gaan lees na oor Tolstoi. Graaf Leo Tolstoi is in die Russiese adelstand gebore, maar het armoede omhels soos Jesus. Sy vrou Sonia was sestien jaar jonger as hy, het meer as 'n dosyn kinders gebaar, vir hom huisgehou en sy romans met die hand oorgeskryf en geredigeer. Hy het haar soos 'n slaaf behandel. Op sy oudag het hy op 'n trein geklim en op 'n stasie vir passasiers gaan preek; heethoofdig en besield. Hy het longontsteking opgedoen en in die stasiemeester se huis gesterf. In sy testament het hy afstand gedoen van alle kopiereg, sodat arm mense ook sy boeke kon lees, en só sy naasbestaandes met niks agtergelaat. Ek dink hy het die familiewoning ook vir die armes weggegee. Wat van chairty begins at home?

Tolstoi. Foto: OSHONEWS

Waak teen 'n fanaties godsdienstige man met vurige oë en verhewe ideale.

Ek sê maar net.

Groete
Deborah

Vandag nie 'n gedig nie, maar 'n greep uit die Beatles se "Across the Universe" gesing deur Noorweegse sanger AURORA.

0:00
/1:28

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe