’n Sigeuner anderkant die rooi duine
Ek lees dat mense, soos alle lewende wesens, ’n uitstraling het, ’n gloed wat verdwyn die oomblik wanneer hulle doodgaan. Sommige mense skyn helderder as ander en hulle lig val verder. So iemand was Wini.
Kom ek vertel jou ’n storie van ’n huis in die woestyn wat die verhoog was vir ’n fokken standoff at high noon wat dekades geduur het. Dis 'n kil sprokie. Wini was ’n onverskrokke cowboy, maar cowboys moet ook slaap.

Sy was ver van almal en sy het aanlyn geleef. Soos baie ander het ek haar deur LitNet leer ken, in Stellenbosch gaan koffie drink, Facebook-vriende geword en deur die jare gekuier op kunstefeeste. Sy was altyd soos ’n sigeuner aangetrek en soos ’n feetjie, gewoonlik met ’n kamera voor haar oog. Haar warm glimlag en ondeunde humorsin het oral van vreemdelinge vriende gemaak.
Toe sy 'n kind was, het haar houtskoolskets van 'n haan eerste plek behaal op die dorp se kunswedstryd. Die skets hang nog in haar gang. In die tweede plek was Marlene Dumas, van wie 'n skildery pas vir 'n rekordprys van R246 miljoen verkoop is. Ek sweer ek kan Wini hoor lag.
Ek was redakteur van haar boek Die dag toe ons Krismis gaan soek het. Sonderlinge, onopgesmukte vertellings wat haar hart aan lesers blootlê, soos haar Facebook-stories en haar dromerige foto’s.

2019. Ons gaan kuier vir Wini in Namibië, vier vroue in ’n 4X4 met sleepwaentjie. Die pad is twee smal spore rooigrond met ’n hoë middelman. Ons verdwaal en daar is nie sein nie. Skielik, op die horison verskyn Wini, wearing rags and feathers from salvation army counters, wild wuiwend. Sy’t ons kom soek en ek klim by haar in die bakkie. In die ry vertel sy my sy en haar man leef totaal geskei, hy in die buitekamer. Hulle haat mekaar en sê dit gereeld vir mekaar. Toe sy jonk was het hy haar so afgebreek dat daar niks van haar oor was nie. Toe het sy besluit om haar nie te laat onderkry nie, en sy het begin doen net wat sy wil. Sy het lang rooibruin hare en ’n vietse lyfie en straal aantreklikheid uit. Hy sê sy is lelik en sy was nog nooit mooi nie. Maar sy gaan nêrens nie, sê sy. Hy moet maar gaan as hy wil, dis haar plaas ook – hulle is binne gemeenskap van goed getroud. Sy sien heeltemal kans om stoksielalleen daar te woon, sy hunker daarna. Sy sê hy is aantreklik en sjarmant en sal dalk met ons probeer gesels, maar hy mag nie saamkuier nie.
Haar kanariegeel huis doem op uit die vlakte, omring met niks, ver van alles, soos ’n huis aan die einde van die wêreld. Binne is dit dromerig lieflik soos ’n poppekas of teater – gekleurde mure, kerse, blomme, boeke. So bekend – die nes van ’n kunstenaar.
Ons sit by die eetkamertafel en kuier. Die huis is oopplan. Ek sien uit die hoek van my oog ’n figuur op die rusbank voor die TV in die sitkamerdeel. Haar man. Dis aardig, soos om 'n spook te sien. ’n Mens voel verleë, onkant betrap. Iemand wat so gekanselleer is dat hy amper deursigtig is. ’n Lewende dooie aan die buitewyke van die geselskap. Mens wil hom jammer kry, maar jy het nie al die inligting nie.
Wini bring ’n reusekoek wat sy gebak het, met sparklers bo-op en ons kuier net daar, ’n paar treë van die figuur op die rusbank. Later skuif ons buitentoe en maak vuur. Sy dra die een dromerige dis na die ander uit, ’n hele tafel vol. Ons eet ook sonder hom. Sy kook lankal nie meer vir hom nie, seg sy.
Om die vuur vertel sy stories. Sy vertel hoe sy wreedheid teenoor diere haar as nuwe bruid ontnugter het. Die boere van die omgewing is rassisties en wreed, hard teenoor vroue en diere, sê sy. Hulle slaan ystervarke en uile dood en gooi meerkatte se gate toe. Sy het geen vriende daar nie. Terwyl sy praat, hoor ons uit die rigting van sy buitekamer die mooiste kitaarklanke, soos Lisa se klavier. Hy sit en tokkel in die skemer. Ons ignoreer dit.

Ek het Wini bewonder omdat sy ’n boelie se tjank afgetrap het. Maar nou weet ek: sy was sterk soos kameeldoringhout en koppig ja, maar van sekere afgronde moet jy wegbeweeg, hulle staar terug en hulle gaan jou intrek. Emosionele aftakeling eis uiteindelik sy tol op jou lyf. Soveel jaar sonder deernis vergiftig jou.
Sy het verdwyn van Facebook en ons het gehoor sy is baie siek. Ek het die storie stuk-stuk probeer uitpluis met die hulp van ’n goeie vriendin van haar. Ek gee dit telegramstyl:
Wini sukkel met depressie. Haar medikasie help nie meer nie. Sy kry angsaanvalle en ly aan slaaploosheid. Het moontlik ’n senu-ineenstorting. Eet nie behoorlik nie. Kry Covid en ’n ligte beroerte. Toe sy verswak is, annekseer haar man die kombuis sodat sy eers laataand vir haar kan kosmaak. ’n Vriendin kom haal haar later en vat haar dokter toe op Keetmanshoop. Sy is fisiek totaal verswak. Sy word opgeneem in die hospitaal, wil wegloop en word vir dae gesedeer. Sy is vir meer as 3 weke gehospitaliseer. Toe sy uitkom, weeg sy maar 39 kg. Haar spiere is so verswak dat sy nie kan loop nie. Sy word in 'n ouetehuis se eenheid vir verswakte bejaardes opgeneem. Haar man het haar intussen van sy medies afgehaal. Haar seuns kom uit Amerika en vat haar Kaap toe om hulp te kry. Haar niere het ingegee. Sy word oorgeplaas na Wynberg staatshospitaal waar sy moes bly tot haar organe normaal funksioneer.
So het ek gehoor. Dis die laaste wat ek hoor tot die doodstyding.
Wini, jy het die Namib liefgekry, soos jy geskryf het:
Namibië, my leenland. Land van duine, vlaktes, berge, sand en see ... Dis soveel anders as die Boland, my hartland. Daar waar varkore hulle ore in die vleie uitleen en bosluisvoëls bloots op beeste ry ... Vanaand het ek gesien hoe die skemeruur haar laaste wals tussen lig en donker dans. Sy het oor die vlaktes getolbos totdat sy een word met die nag. Totdat die donker selfs die skadu’s kom haal het. Die kameeldoringhout word nou kole op die vuur en verlig alles om my in sy laaste sterwensuur ... As ek die dag terugkeer tot stof, strooi my as tussen varkore en paddavisse in die vleie van die Boland. Daar waar ek klein spoortjies getrap het. Maar hou ’n knippie as en strooi dit tussen die geraamtehuise van Kolmanskop. Daar waar my hart soos Koos Kombuis se flaminke dans.

Só eindig een van haar laaste lang plasings op Facebook:
My seuns stoot my in n rolstoel tot by die bakkie. Ek voel hoe groeii my vlerke. My bene raak sterker. My seuns leer my loop. Ek is nog ek al lyk my gesig soos n solderappeltjie en my nek soos n skilpadnek. Ons ry weg. Ek is in die kaap met my lieffling seuns. Ek voel gelukkig x Ek is nog ek ,maar tog is ek anders. Xxxxx
Die son is dowwer en die poeierige woestynsand kil sonder jou kaalvoetspoor. Jy los ons hier met ons liefde vir jou. Ons huil bietjie-bietjie. Dankie dat jy hier was, Wini.
Dis vieruur die nanag, die middel van Mei.
Ek skryf gou vir jou om te hoor of is jy okay?
Pretoria is koud maar ek hou van waar ek bly.
Daar’s trokke op die N4 regdeur die nag.
Ek hoor jy bou aan jou huisie diep in die sand.
Jy leef nou vir niks nie, ek hoop jy hou soortvan 'n dagboek.
Toe Pietman opdaag met ’n string krale van jou
sê hy jy’t dit gegee die nag toe jy plan om te gaan.
Het jy toe weggekom?
Met ons laaste weersien lyk jy reeds soveel ouer.
Jou beroemde blou oorjas geskeur aan die skouer.
Jy’s stasie toe om elke trein daar in te wag.
Jy’s huis toe met sewe skerwe van die nag.
Met apologie aan Leonard Cohen


Is die lamp wat doodgeblaas word anders
daaraan toe as voor hy aangesteek is?
wat maak dit saak of ons hier-wees
eindig of in der wese nooit begin het nie?
Dood is net om nie te wees nie
en die nie-wees-nie sal dieselfde wees
as wat dit was voor ons gebore is.
En as daar tormente gaan volg hierna
moes daar ook pyne gewees het hiervoor
en daarvan kan ons niks onthou nie.
Ons weet net van die lyding tussenin,
maar weerskante heers die duisternis
en die groot stilte van nie wees nie.
M.M. Walters
Uit: Sprekende van God