Java en Malta, Beiroet en Bombaai

Liewe vriende

Johannes Bakkes was ’n engel met verrinneweerde vlerke. Ek is eensamer vandat hy nie meer op aarde is nie.

Niemand het gedink hy gaan oud word nie. Hy het heeltemal te vinnig gelewe – nie op ’n drafstap nie, op volle galop. Hy het altyd vertel dat hy op en gekrok is, dat sy prostaat groot genoeg is om skool toe te gaan. Hy was ’n lewensgenieter par excellence wat die murg uit elke been gesuig het. Wat gehunker het na uiterstes en ekstreme kondisies. Die koudste plek op aarde. Die hoogste piek. Die -ste -ste plek, het hy dit genoem. Met miere in sy broek en rustelose voete. Met koperarmbande en ’n goue hart.

So skryf hy in Erfgeld is Swerfgeld:

Wat maak my heeltyd wil weg neuk? Is dit daai groengras-gedagte? Dat ek wragtig deur die dorpie Skardu in Pakistan se strate stap, dankbaar dat ek lewend ontsnap het van ʼn helse avontuur op die Biafo-gletser in die Karakoram-gebergtes en weet dat laat ek nou net by die huis kom, dan verlang ek terug na die swaar en andersheid van Baltistan en die Kasjmir. Dat ek nie kan wag om Soedan se Saharasand af te skud nie en dan reeds ʼn reis Patagonië toe in my kop aanmekaarslaan. Wat de donner gaan met my aan? Ek maak myself moeg.

Hierdie wegneuk kom egter nie van gister af nie. Ek is so “bebore”, het my ma altyd spottenderwys gesê. “Hiperaktief” het die boeke my beskryf. Ek’t nonstop geskrou, so in my eie kot, sê my ma. Die dokter het gesê: “Hy kry nie genoeg tiet nie,” maar sy’t geweet dis omdat ek nog nie kon loop nie. “Nooit sal jy ʼn vrou kry wat langs jou sal wil lê nie,” het sy gesê as sy aande langs my bed sit om rollende ek rustig te probeer kry. Want sien, ek kon nie aan die slaap raak as ek myself nie verwoed gewieg het nie. My brein was op galop.

Ontwerp: Hanli Deysel

Toe ek hom ontmoet, was dit liefde met die eerste oogopslag. Dit was asof ek hom ’n leeftyd ken, want hy herinner sterk aan my twee broers wat net so roekeloos en sonder remme geleef het en altwee voor sestig dood is. Soos hulle is hy goed grootgemaak, maar het van homself ’n ongeslypte diamant, ’n rowwejack gemaak, met groot toewyding.

Hy was nuuskierig oor alles, aandagafleibaar en rusteloos. Sy ma Margaret, wie se boeke ek gelees het, was verkeerd; hy het ’n wonderlike vrou gekry – Nanna, wat meestal met hom huis gehou het.

Ek het hom al skrams by uitgewerspartytjies gesien, maar ons het mekaar gevind toe ek as redakteur vir ’n uitgewer Parys toe ry om met hom te gaan praat oor sy manuskrip wat ek sou oorneem. Volgens hom wou ’n groot uitgewershuis dit nie uitgee as hy dit nie drasties verander nie, omdat dit politiek onkorrek was. Dit was sy soort-van memoires, Erfgeld is Swerfgeld.

Ek het dit ontwapenend eerlik gevind, meer verfrissend as al daardie memoires van apartheidsdienaars wat nou ewe skielik vertel hoe verlig hulle nog altyd was. Hy het erken hy het “nee” gestem in die referendum, so die fokop en kakspul wat ons land geword het, is nie sy skuld nie. Hy het erken hy was gereed om die wapen op te neem saam met die Boeremag, en dat hy ’n Vierkleur-tatoe op sy bors het. Maar, wat my oorrompel het: noudat ons sit met die gemors, het hy gesê, doen hy sy bes om te help. Hy het sy studente by die UWK liefgehad, uit sy pad gegaan om hulle te ondersteun, hulle in sy huis ingeneem en gevoer sodat hulle in vrede kan studeer vir die eksamen, gehuil oor hulle haglike omstandighede. Ek weet hulle was lief vir hom. Hy moes ’n wonderlike dosent gewees het, met sy groot gebare, sin vir die dramatiese, talent as raconteur, selfspot en besige kop.

By ’n restaurant op die Vaaldam het ons onmiddellik omhels en begin gesels. Hy het sommer ’n vuisvol ys in my witwynglas gegooi. Hy het my “Deboors” of “Meisiekind” genoem. Laasgenoemde laat gewoonlik my nekhare orent staan, maar uit sy mond het dit my nie aanstoot gegee nie. Ek het hom “Jehaans” genoem, soos sy pa hom genoem het. Sy pa Cas was sy held, ’n soldaat en akademikus.

Gooi nog ys in my wyn!

Hy het vir my geskandeerde bladsye aangestuur wat hy met die hand geskryf het. Soms vir my sinne oor die foon gedikteer om in te voeg. Hy het my vertrou en toegelaat om sy chaotiese, wonderlike manuskripte skoon te maak, tot op ’n punt. Op sekere eieskeppings en koddighede het hy aangedring en ek het nie gestry nie. Hoe kan jy ’n warrelwind tem? Hy het eienaardighede gehad, soos die volgende: Hy het graag geskryf oor kroeë aan die uithoeke van die aarde en op plattelandse dorpies. Hy het na sulke plekke verwys as “poep en gril” sonder om te verduidelik dat dit sy verbuiging van “pub and grill” is.

Ons het in sy huiskroeg in die Paarl gekuier, wat ’n nasionale gedenkwaardigheid behoort te wees. Hy met sy pyp, twaksak en dop, omring deur oorlogmemorabilia, boeke, vlae, wapens en sy geliefde reisgenoot, ’n winkelpop genaamd Pop, met ’n Che Guevarra-pet koketterig op die kop, of parmantig in 'n mosdoppie.

’n Ruk gelede bel hy my. Ek het kuiermense, maar verskoon my en praat met hom. Hy klink maar flou en sê hy het ’n idee vir ’n laaste boek en ek is sy redakteur. Hy wil skryf oor die Stockdale-paradoks. Gaan google dit, sê hy. Dit het te doen met dapperheid in die aangesig van ellende en ekstreme moeilikheid. Dis vernoem na ’n krygsgevangene in die oorlog in Viëtnam, admiraal James Stockdale. Dit behels die vermoë om vas te glo dat jy aan die einde gaan oorwin, terwyl jy die mees brutale werklikheid van jou situasie konfronteer. Dit gaan stadig, sê hy, een glas rooiwyn per handgeskrewe bladsy, maar hy sal aanstuur soos hy aangaan. Ek is in, sê ek. En dit was dit, die laaste keer.

Nog 'n magiese oomblik in 'n Bakkes-boek:

Sy tanne kan op een hand getel word, maar toe hy daai viersnaarkitaar gryp en hy begin sing, toe verlang ek na plekke, vroumense en dranke wat ek nie eens ken nie!

Dis bitter koud. Buite loei die wind en die sneeu kom in vlae neer. Ons is iewers diep die Altaiberge in. Hier wil mens regtig nie wees nie – maar ons ís hier. Die houthut-datsja is knus. Daar brand ʼn vuurtjie in die herd. Ons nat sokkies en bootse stoom saam met die Russiese borsjt (groente- en beetsop) wat op die Agastoof prut-prut. Iewers wag ʼn stuk vleis vir gaar word.

Johannes was ’n gentleman, met die soort eksentrieke goeie maniere wat uit ’n mooi hart kom. ’n Boheem en sigeuner. Expansive is die Engelse woord. Groter as lewensgroot, soos Zorba the Greek en karakters in Saul Bellow en Ingrid Winterbach se romans. My wêreld is vir altyd heelwat valer.

Hier is een van sy eskapades:

Buite gekom, trek daai Rus hom kaalgat uit, storm dan hier teen ʼn walletjie langs ʼn bruggie af … in ʼn gevriesde riviertjie in. Hy moer die ys sommerso met sy vuiste stukkend en verdwyn in die yskoue water in. Proesend beur hy uit, hardloop dan na die oorkant, ruk die bottel uit, byt die prop af, vat ʼn teug en skree uit volle bors: “Mne Roesski! Fuck the rest!” Of so het dit vir my geklink.

Daar staan hy kaalgat en lag die Siberiese koue in sy tande in.
Ek is totaal uit die veld geslaan en vasgevang in die oomblik, gryp ek ook die vonkelwynbottel, vat ʼn moerse teug en skree: "Ek is Boer en fok die res!"

Ek het altyd geantwoord as Bakkes bel. Nou sal ek nooit weer hoor: “Yes, Meisiekind, hoe’s dinge?” gevolg deur ’n roggelende hoesbui nie.

You picked a fine time to leave me, Jehaans. In ’n jaar vol pieke en afgryslike verskrikkings.

Slaap sag, onverskrokke reisiger en kryger. Jy het dwarsdeur die Stockdale-paradoks gebars.

Liefde
Deborah


In plaas van 'n gedig, nog 'n brokkie Bakkes:

Maar vanaand staan ek in die oop deur en kyk na die maanlig-Sahara. Ek het die Walkman op my ore. Mike Batt se “The Ride to Agadir” weergalm in my ore en ek het ʼn sigaret in die bek. Die warm wind waai deur my siel. Ek bid en sê dankie. Ek hang by die trein uit – ek is eufories gelukkig! Voor my swiep die duine van die Sahara verby en ek word weggevoer deur ʼn oomblik wat onbeskryfbaar is.

C. Johan Bakkes

Ontwerp: Hanli Deysel

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe