'n Jaar vol spanning

'n Jaar vol spanning
Foto deur Tanya Prodaan / Unsplash
ANGELA TUCK

Ek vertel jou van die lekkerste misdaadfiksie wat ek vanjaar gelees het.

Die drie weduwees deur Irma Venter

Een van Ami Prinsloo se naaste vriende is Paul de Jager, afgetrede baasspeurder. In hierdie roman gaan hy dood en dit lyk na selfdood. Hy het aan Alzheimer-siekte gely en wou nie graag alle beheer verloor nie.  Hy laat drie “weduwees” agter – drie sterk vroue met wie hy getroud was en van wie hy geskei het. Ami begin vermoed dat een van die weduwees behulpsaam was met sy dood: Was hy nog sterk en helder genoeg om self die sneller te trek?

Paul se nalatenskap aan Ami is ’n speursaak wat hy nooit kon oplos nie en wat by hom bly spook het: 'n Skoolseun, Ebbie Gouws, het een Sondagoggend in 1998 in die Moot in Pretoria verdwyn en geen spoor van hom is ooit gevind nie.

Die Moot, ’n buurt vol dimensie en teenstellings, word ’n karakter in die boek. Venter het, soos Ami in die swembad, haar ritme gevind en word met elke roman meer vaartbelyn. Ek beveel dit hoog aan.

Die drie weduwees deur Irma Venter is deur Jonathan Ball uitgegee en kos R315 by Graffiti.

Skorpio deur Deon Meyer

Omdat daar in misdaadromans soveel slegte mense en veral vrot mans is, het ek ’n sterk teenwig nodig: regverdige mans soos Harry Hole, Bennie Griessel en Vaughn Cupido, John Rebus.

Oor die storielyn wil ek min weggee. Bennie en Vaughn word elk getaak met ’n saak wat skynbaar na nêrens lei nie, met min leidrade. Bennie ondersoek die (vermoedelike) moord op ’n oudpolisieman en Vaughn het ’n raaiselagtige saak wat, so lyk dit, UAV (unmanned aerial vehicles) insluit. Dit raak heel tegnies en Vaughn, so slim soos die houtjie van die galg, moet uithaal om by te bly. Gelukkig beskik hy oor ’n sesde sintuig en is lief om te dink en sake uit te pluis.

Kolonel Witkop Jansen raak warm onder die kraag weens ons helde se gebrek aan vordering met hulle onderskeie sake. Gelukkig weet ons in krimi’s is daar min sprake van dossiere wat nie gesluit word nie. Daar is boonop tyddruk: Die son is in Skorpio vanaf 23 Oktober – dis maar ’n paar dae weg. Onneersitbaar.

Skorpio deur Deon Meyer is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R338 by Graffiti.

Knal deur Bettina Wyngaard

Kaptein Nicci de Wee word gereeld verniel, gekneus en vol gate geskiet, maar sy beur vreesloos voort om die wêreld ’n veiliger plek te maak. Haar makkers is reeds bekend en geliefd; die twee reuse Blackie en Henk, eersgenoemde een komma nege twee meter in sy sokkies, en tog word hy verdwerg deur Henk. Alles aan Henk is groot; sy voete, sy hande en veral sy hart. Daar is ook Stella met haar hongerige draak Ramoth en die asosiale, koddige kuberkraker Steyn.

Ons leer ’n stikdonker karakter ken: "Die Klokkespeler" het die pers hom gedoop, omdat hy altyd silwer klokkies op die toneel agterlaat. Hy is ’n onmerkwaardige, vaal en tingerige man wat vroue met ’n pylgeweer verdoof, gevange neem en in selle aanhou. Hy noem hulle sy muses, want elkeen het ’n spesiale talent. Hy trek vir hulle dramatiese rokke aan en laat hulle opvoerings hou. Hy is ’n versamelaar wat moeg raak vir sy muses en nie huiwer om hulle dood te maak en grieselrig van die reste ontslae te raak nie. Die span vat sy spoor. Dis spannend, menslik en vol humor.

Knal deur Bettina Wyngaard is deur Penguin Random House uitgegee en kos R320 by Graffiti.

Bonsaimeisies deur Erla Diedericks

Hierdie krimi is so gruwelik en grieselrig soos die roman van enige man plaaslik of internasionaal. Die reeksmoordenaar in hierdie boek ontvoer meisies van 18, martel hulle deur hulle byvoorbeeld op die voetsole te slaan – ’n trotse Oosterse tradisie – hulle uit te honger en te laat dehidreer.

Hy gebruik ook die Japannese, gelukkig uitgestorwe, tegniek van voete breek en bind, waarna hy die voet in ’n te klein hoëhakskoen indwing en die meisie aan ’n haak vasmaak sodat sy op die stukkende voete in die knypende skoene staan, vir ure. Hy sien homself as ’n tuinier wat die natuur onderwerp aan sy wil, wat orde en eenvoud skep, en hy moet gestuit word.

Die roman is van meet af aan en regdeur hoogs spannend. Later verdink jy almal. Dit het regdeur my aandag behou en ek kon nie ophou lees nie.

Bonsaimeisies deur Erla Diedericks is deur Lapa uitgegee en kos R288 by Graffiti.

Die dood van Rachel April deur P. P. Fourie

Die roman vermeng geskiedenis en fiksie. Die gerug het ontstaan dat daar ’n verlore Van Gogh-skildery in Suid-Afrika is. Dit, en die feit dat Cor in Brandfort in die Vrystaat dood is en daar in ’n begraafplaas in ’n ongemerkte graf lê, het by Fourie bly spook.

Die roman speel merendeels in die hede in Bloemfontein af. Rachel April en Lesea du Plessis is studente aan Kovsies. Hulle agtergrond verskil heeltemal: Rachel het arm grootgeword by ’n enkelma, sy is self ma van ’n dogtertjie. Sy is besig met haar M en wil haar gesin uit armoede lig. Lesea het bevoorreg grootgeword, met een wit en een swart ouer, maar aangeneem deur welgestelde boere. Sy is ook besig met haar M en soek toenemend na haar identiteit.

Die spanning raak in die laaste hoofstukke haas ondraaglik, soos dit hoort. Dis ’n heerlike literêre riller.

Die dood van Rachel April deur P.P. Fourie is deur Quiellerie uitgegee en kos R350 by Graffiti.

Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag deur Elizabeth Wasserman

Ek is ’n groot aanhanger van mevrou Smit, oftewel Fransesca Schmidt, ’n formidabele verkeerdeveer-vrou. Elizabeth Wasserman se stroomop heldin.

Mevrou Smit het edge. Sy het ’n verlede, waar sy die trofeebruid van ’n gay bendebaas was, met die gereg slaags was en selfs in die gevangenis was. Nou het sy ’n nuwe identiteit en ’n nuwe lyf – in nuwe inkarnasie ontsê sy haarself niks nie. Sy lê met welbehae weg aan vlatert, melktert en koesisters. Sy dra vormlose rokke en Birkenstocks of Wellies. Sy weier om haarself as slagoffer te sien en sy is ’n warmbloedige vrou. Daar is nie een nie, maar twee potensiële minnaars op haar horison, want ’n vrou is nie ’n klip nie. Dan ontdek mevrou Smit ’n lyk; ’n stokou geraamte, op die rivieroewer naby haar huis. Oudergewoonte begin sy krap en snuffel. Sy sál agter die kap van die byl kom. Sy bestudeer ou foto-albums en geraamtes tuimel uit die kas. Die dorp is nie so geneë met haar speurlustigheid nie. ’n Heerlike leeservaring.

Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag deur Elizabeth Wasserman is deur Penguin Random House uitgegee en kos R330 by Graffiti.


Dis al. As jou boek nie hier is nie, Sidney Gilroy, Rudie van Rensburg en ander, vra asseblief jou uitgewer om dit vir my te stuur, dan skryf ek daaroor.

Liewe leesvriende, hiermee groet ek vir 2025. Ek skryf in Januarie weer oor boeke. Intussen lees ek en maak aantekeninge. My nuusbrief op Saterdae sal bly verskyn. Lekker lees!

Die liefde in my

Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu's onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.

Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.

Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.

N.P. van Wyk Louw


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe