'n Hand vol gras

Liewe vriende
'n Mens is soveel mense in een leeftyd. Dis glo 'n mite dat elke sel in jou liggaam elke 7 tot 10 jaar vervang word. Selle se raklewe wissel drasties afhangende van die weefseltipe. Sekere selle, soos die maagvoering, word elke paar dae vervang terwyl ander, soos neurons in die brein, 'n leeftyd hou. Ah, there's the rub.
As jy soos ek is, word jy volksvreemd op die wêreld losgelaat. Jou kinderjare en jou bloudruk het jou koddig gemaak, uit pas met die mensdom. Later maak die lewe jou mak en jy pas aan, met moeite. Ek kry onlangs 'n e-pos van 'n koshuisvriendin op universiteit in Potchefstroom, destyds. Sy was 'n paar jaar ouer en toe sy klaar geswot het, was ek nog met haar ouers bevriend:
My Ma het onlangs in kleur en geur vertel hoe jy Sondae met jou dikwiel fiets Carletonville toe gery het, die koerant vir my Pa langs die pad gekoop het en op die dak gesit en teken het. En die marshmallows wat sy vir jou drooggemaak het. Die "vreemde kind wat van stryk gehou het". Jou kosmosse hang ook nog in haar woonstel.
Dan wonder ek: Waar is daardie vreemde kind? Wat het van haar geword? My fiets is gesteel, maar ek hou nog steeds van gedroogte, klipharde marshmallows. Ek klim nie meer op dakke nie en teken nie meer nie. Die gesin in Carletonville was heeltemal anders as my mense, wat elk verlore was in hulle eie skeppende wêreld. Hierdie was liewe, gawe mense wat jou raakgesien en na jou geluister het. Ek het die hele gesin se wasgoed gestryk, want almal het pligte gehad en ek het gereken iets moet ek doen en dit was 'n rustige taak, in die strykkamer ver van almal. Ek onthou ek het my verbeel ek stryk elke probleem mooi netjies glad. Met die reuk van skoon wasgoed en stoom in my neus.
Soms in die nag laat ek my net afsak in die ondeursigtige see van herinnering en kyk wat ek optrek. 'n Skoen wat gaap, 'n verroeste fietsketting, 'n aapskedel. 'n Veer, 'n blaar, 'n spoelklip. 'n Mens het min om te wys van al die oomblikke waarin jy geleef het, behalwe die distillaat: jou menswees, vir wat dit werd is.

'n Mens beleef die wêreld deur jou sintuie, jy is 'n dophouer. Tog is my herinneringe aan my eie kinderjare skerper as dié aan my kinders s'n. Ek het myself ook verloor in my eie kop, my hunkering na 'n skeppende lewe, en my kinders van ver af gadegeslaan. Hulle het hulle weg gevind, maar was ek daar?
My kop is 'n onbetroubare dagboek, 'n ellendige kalender. Blaaie het losgekom en dwarrel in die wind. Hier en daar is 'n datum omkring, 'n verbleikte foto geplak. Dae is doodgekrap, maar die afdruk van die woorde sit op die volgende bladsy.
My ma het dagboek gehou; niks persoonliks nie, in 'n A4-hardebandboek met 'n bladsy vir elke dag: afsprake, besoeke, vlugte ensovoorts. Sy het ook plakboeke gehou van koerantberigte oor my pa se werk: Beelde wat met groot plegtigheid deur ministers onthul word. Nou staan daardie beelde van Broeders in brons op die vlaktes van Orania en patina opbou. En die dagboeke is uiteindelik ashoop toe. My pa se sketsboeke bewaar ek in 'n boks: studies van wild in Tanganjika toe hy jonk was, werfhonde wat slaap, sy sustertjies. Dit kon ek nie weggooi nie. Ek het hier en daar deur my ma se dagboeke geblaai en opgemerk hoe selde die volgende inskrywing voorkom: Deborah kom kuier.
Soms sien ek haar op die skemer verhoog van herinnering: My ma in die sewentigs. Fier en regop soos 'n gesonde voël, met lang donker hare soos Joan Baez, met groot, wydgespasieerde oë soos Jackie Onassis, vol selfvertroue, dromerig en amper aangedaan oor haar eie skoonheid en besondersheid. Teen die oranje muurpapier van die seventies speel sy in die lamplig kitaar en sing soos 'n nagtegaal. Alle gesigte is aanbiddend na haar gedraai. Ons het haar so bewonder. Maar toe ek my eie mens word, kon ek nie meer haar trompoppie wees nie. Ek het hulle min besoek en so ook jare van my pa se lewe verloor. Hoewel, hy was in elk geval altyd in sy ateljee of in sy kop. Ek het hom saamgedra in my grein.
Ek sien my pa in die sewentigs, toe hy nog skoolgehou het, met streng snorretjie en horingraambril, my boeties soos ertjies in 'n peul met enerse oë soos blinkbruin lukwartpitte en maer beentjies, my bysiende sussie wat met haar bril (ook horingraam) gaan slaap het en deur die dae gehardloop en val het met haar troetelhen, Tefa. Maar myself sien ek nie, want dis 'n movie en ek was die kamera.
Elke sel van die kind wat ek was is al by die drein af, behalwe hier en daar 'n neuron wat 'n flou liggie skyn op dekades wat verbygegly het. Hier en daar 'n skyfie teen my slaapkamermuur projekteer: grinterig en springerig. Ek was daar en ek was nie daar nie.
Ek stuur die koshuisvriendin se woorde aan 'n ander vriendin uit daardie dae, Elthea, wat nog steeds in my lewe en hart is. Ek vra haar wat het van daardie vreemde kind geword, en sy antwoord:
Sy is vir seker very much there, wild an' wonderful as ever!
Daarom het 'n mens vriende, om jou dae te verhaal en jou herinneringe te bewaar. Daar is, die hemel weet, so min in die landskap wat bly staan. Hier en daar 'n gebou, 'n boom, 'n vriend.
Dalk ís ek nog sy.
Liefde
Deborah

alles is stuifmeel selfs die bitter blomme
ek reis met die witduif van my oë
terug na die mooiweer en warm koninkryk
op jou verjaarsdag die eerste januarie
waar die son met sy geel snawel
gesnaar aan die basiliekblou
die hoogste van alle voëls
in die hemel kan vlieg
en wolke ophoop soos uitskotvag
oor die sluistrog van landerye
ek wil my oë sluit
in die immergroen olyf
gewortel in jou vrede
waar kosmos
die modder is wat sing
tussen jou vingers
ingestem tot op die laaste blaar
in die kaal stempel
van nog 'n jaar
dominique botha