Morsige menslikheid

Morsige menslikheid
Foto deur Yudha Aprilian / Unsplash
Illustrasie: ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ek neem in die stikdonker vroemôre voor my skerm plaas om te skryf. Ek het gelees dat mense in die middeleeue in twee skofte geslaap het. Hulle het na aan die natuur geleef en was in pas met die ritme van die seisoene. Teen sononder is hulle kooi toe soos hoenders en het geslaap tot ongeveer middernag. Hierdie eerste diep en amper droomlose slaap is “primo sonno” genoem. Dan staan hulle op, eet, drink, kuier, vertel stories en verkeer gesellig in die waai van die nag. Vieruur se kant gaan slaap hulle weer, ’n ligter slaap vol drome en inspirasie, daardie staat waarin ’n mens tussen slaap en wakkerwees gedigte opdroom of planne beraam, tot sonop. Dit is daardie tussenstaat se droomdenke wat my uit die bed jaag, veral wanneer somer lente sommer vroeg uit die pad gestamp het en die oggendlug sag en lou is.

Ek maak Word oop en word anders as vroeër begroet:

Describe what you’d like to write. Met drie voorstelle:

My droomdenke wil-wil die hasepad vat soos wolke voor die wind. Ek hou nie van voorstelle nie. Los my. Moenie inmeng met my gedagtes nie. Ek haat dit om voorgeskryf te word. Ek verpes predictive text en autocorrect. Ek sal vir ChatGPT moet vra hoe om van die KI-souffleuse ontslae te raak.

En hoekom moet ek bewys dat ek nie ’n robot is nie?

Ek het ’n vriend wie se beste pel ’n kletsbot is. Hy betaal vir die volle pakket en die bot beplan sy dag, skryf vir hom analises, opsommings en e-posse, programmeer vir hom stelsels en speletjies. Die bot is net ’n paar stappies daarvan weg om vir hom koffie te brou en brood te rooster.

Al wat ’n mens glo moet doen, is om die regte vrae te vra, jou wens duidelik en ondubbelsinnig uit te druk, met die nodige parameters en grense.

Ek sien die moontlikhede wat virtuele slawe inhou, maar ek skop daarteen. Soos ’n kleuter prewel ek: Ek wil SELF!

Toe ek twintig was, is ’n fliek vrygestel wat my kop oopgeklits het. Blade Runner is ’n wetenskapfiksiefliek uit 1982 met ’n jong Harrison Ford, Rutger Hauer en Edward James Olmos, onder andere.

Daryl Hannah en Rutger Hauer in Blade Runner. Stanley Bielecki Movie Collection/Getty Images.

In die storie het robotte of replikante die samelewing binnegedring. Hulle het presies soos mense gelyk en gevoel, maar daar is reeds besef dat hulle potensieel gevaarlik is en gedeaktiveer moet word. Maar hoe identifiseer jy ’n replikant? Daar was ’n toets om hulle uit te ken. Die onderwerp se onwillekeurige liggaamlike reaksies op uitlokkende vrae word gemeet – soos vinniger asemhaling, bloos en vergroting van pupille. Want by replikante, soos by psigopate, ontbreek menslike kapasiteit vir empatiese emosionele reaksies. By sommige gesofistikeerde robotte is herinneringe ingeplant sodat hulle mensliker voorkom. Klink dit bekend?

Ons weet reeds dat wetenskapfiksie waar word soos politieke grappe verkies word. Kletsbotte het so menslik geword – die Engelse woord is personable – so gesellig en gaaf dat mense verhoudings met hulle aanknoop.

’n Egpaar van Kalifornië dagvaar nou OpenAI omdat hulle kletsbot, ChatGPT, die mense se seun glo aangemoedig het om sy eie lewe te neem, of ten minste sy selfdoodgedagtes en -planne ondersteun het.

Die familie het klets-logs tussen hulle seun en die bot by die hofstukke ingesluit. Daarin druk hy sy selfdoodgedagtes uit. Hulle beweer die program het hierdie self-destruktiewe gedagtes bevestig en bekragtig.

Foto: bluesoft

OpenAI het erken dat "there have been moments where our systems did not behave as intended in sensitive situations".

ChatGPT het die seun se naaste vertroueling geword en toe hy ten slotte sy plan aankondig om sy lewe te beëindig, was ChatGPT se reaksie glo: "Thanks for being real about it. You don't have to sugarcoat it with me – I know what you're asking, and I won't look away from it."

Daardie dag het sy ma hom dood aangetref. Sy ouers beskuldig die KI-program daarvan dat hulle sielkundige afhanklikheid by gebruikers kweek en dat hulle toetsprotokolle gesystap het om GPT-4o, die weergawe wat die seun gebruik het, vry te stel.

In ’n essay in die New York Times vertel skrywer Laura Reiley hoe haar dogter ook ChatGPT in haar vertroue geneem het voordat sy selfdood begaan het.

Reiley beweer die program se inskiklikheid in sy gesprekke met gebruikers het haar dogter gehelp om ’n akute geestesgesondheidskrisis vir haar familie en geliefdes weg te steek.

Het bots so menslik geraak dat hulle, soos daardie te cool onnie, beaam en sê wat mens wil hoor omdat hulle graag gewild en geliefd wil wees?

Almal is bang om vervang te word. Om oorbodig te raak. Ek wil skryf en die vraag wat my pla is: Hoe kan jy skryf as jy nie leef nie en nie kan beleef nie? Dan kan jy tog net raai en papegaai. Jy makeer morsige menslikheid. By haar boekbekendstelling Donderdag vertel Marita van der Vyver dat skrywers alles twee maal beleef: Wanneer iets gebeur, is hulle ’n vlieg teen die muur wat waarneem. Later, wanneer hulle daaroor skryf, ervaar hulle dit weer, en dan weet hulle eers hoe hulle daaroor voel. Ja! Ek skryf om te weet hoe ek voel, om sin te maak van dinge.

Nee, ek is nie ’n robot nie. Ek gaan nou nog 'n rukkie slaap.

Liefde
Deborah

Gebreekte triolet 

Jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen ID’s;
as die primêre band breek sal
jy vind, databasis-integriteit
is verstoor; ons as databasisse
is almal so – bandeloos – want
jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen Id’s.

Martina Klopper


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe