Moord en roof vier hoogty

Iemand vir wie ek lief was, is dood en dan word dit moeilik om te skryf. Maar ek sal jou vertel van vier boeke wat ek gelees het.

Oor Theft deur Abdulbrazak Gurnah, wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, het ek vir Rapport 'n resensie geskryf. Dit speel in Tanzanië en Zanzibar af en dis op die oog af amper gewoon, bekend, onopgesmuk, chronologies en vanuit verskeie perpektiewe vertel.

Dit handel oor drie jong vriende se drome en hoop in die 1990’s in Dar-es-Salaam. Dis eers ’n paar dae nadat ek dit gelees het, dat dit my opval hoe helder dit in my kop bly, soos ’n geleefde herinnering. Lees dit gerus.

Theft deur Abdulrazak Gurnah is deur Bloomsbury Publishing uitgegee en kos R431 by Loot.


Ek het ’n plaaslike skrywer, Andrea Shaw, se roman Unsolicited geniet. In die uitgewerswese beteken die titel ’n manuskrip waarvoor jy nie gevra het nie en wat gewoonlik in die slush pile beland, ongelees. Ja, dit gaan oor die boekebedryf. En moord.

’n Leser vir ’n uitgewer word dood aangetref, met haar oë gesmelt. Speurder Fatima Matthews van Woodstock moet die saak oplos. Sy is in die greep van menopause, met warm gloede en sweetdeurdrenk, met emosies wat wipplank ry, gebrek aan konsentrasie en ’n gebrek aan selfvertroue. Sy is ’n hutspot van hormone.

Boonop is sy, met die onverwagse jagsheid van die oorgansjare, aangetrokke tot die hoof van die uitgewery en dit lyk asof dit wederkerig is. Hy is lank en lenig, Fatima kort en fris. Sy moet die seë van hormone navigeer en kophou.

Die moordenaar is duidelik ’n gefrustreerde skrywer wat voel daar is nie genoeg aandag aan hulle manuskrip gegee nie. Mense besef nie hoe spanningsvol dit is om ’n manuskrip, jou brein- en hartskind, voor te lê en vergeefs te wag op ’n reaksie nie:

"Anyway, it’s this curious bipolar existence between thinking your writing’s abysmal and thinking it’s great … Because then the dream gets addictive and you are suddenly thinking maybe it won’t just get published, maybe it will sell – you know? … And then you send it out, and for months you live in a state of the most exquisite hope. A Schrödinger state – between greatness and … nothing."

Dis ’n wêreld wat aan my bekend is en wat my aan W.B. Yeats se woorde laat dink: Tread softly, for you are treading on my dreams. Daar is veeleisende, primadonna-skrywers wie se boeke verkoop, “ernstige” skrywers wat minder verkoop maar aanspraak maak op respek, daar is stapels manuskripte om te lees. Manuskripte met sinne soos: The hungry breath of fate caressed her neck as she unlocked the door to her death. Dis snaaks, roerend en hartverskeurend. Ek beveel dit hoog aan.

Unsolicited deur Andrea Shaw is deur Jacana uitgegee en kos R310 by Exclusive Books.


The Missing Hour is ’n deurdrumpel van ’n boek wat jou gaan wakker hou. Dis ’n blitsblaaier – spannend van die eerste hoofstuk af. Maggie Brewer se man Grant word een nag in hulle hotelkamer hardhandig in hegtenis geneem. Hy probeer hom teësit en word gekarnuffel. Hulle boei sy hande en laat hom val sodat sy kop teen die bedkassie stamp. Daar is baie bloed. Hy sterf op pad hospitaal toe.
Hy was die enigste verdagte in ’n moord. Sy DNS is op die toneel gevind.

Maggie getuig dat hy heelnag saam met haar was, maar sy verswyg iets: Sy het êrens in die nag wakker geword en hy was weg. Ongeveer ’n uur later het hy teruggekom. Dis die vermiste uur waarna die titel verwys. Maar sy kan haar glad nie daarmee vereenselwig dat hy sou moor nie. Hy was ’n ondersoekende joernalis by dieselfde koerant waar sy die sosiale blad behartig.

Nou is haar kans om haarself te bewys as ernstige joernalis: Sy loop op sy spoor terug, kontak die persoon met wie hy daardie nag op ’n weggooifoon gepraat het en skop ’n miernes oop. ’n Groot farmaseutiese maatskappy is al jare lank besig om mense se DNS sonder toestemming te verkry om ’n databasis te bou. Dit was aanvanklik ter wille van navorsing en die bestryding van siektes, maar het verword tot ’n grootskaalse geldmaakskema. Mense wat hulle probeer dwarsboom, word eenvoudig valslik van moord beskuldig, met hulle DNS wat onder die vermoorde se vingernaels gevind word. Gerieflik.

Maggie begin saamwerk met haar oorlede man se kontak in die laboratorium en ’n jong kuberkraker wat die maatskappy se databasis binnegdring het. Haar man, Grant, was in besit van ’n geheuestokkie met duisende lêers en ook ’n kode om in die sisteem te kom. Dáárna is booswigte wat deur die farma-maatskappy aangestel is, naarstigtelik op soek.

Die wetenskaplike word vermoor en Maggie en die kuberkraker slaan op die vlug. Dis ’n wedloop teen tyd. Haar gesin word ook geteiken. Jy kan nie vinnig genoeg omblaai nie. Dis heerlike afleiding, ek wens net die redakteur of proeflesers het hulle beter van hulle taak gekwyt: Blykbaar was Maggie se storie eers in die derdepersoon vertel en is daar besluit om dit te verander na eerstepersoon: Maak sin, dis meer onmiddellik. Maar ongelukkig is dit nie oral verander nie. Nou kry jy, te midde van: He stops the car. We look around, ’n sin soos: They get out of the car. Ook het dit vir my soms gevoel asof die ratjies in Maggie se kop te stadig draai.

The Missing Hour deur Robert Rutherford is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R610 by Amazon SA.


Laastens The Maid's Secret deur Nita Prose. Ek het nou al twee romans in hierdie reeks gelees en skielik het knus vir my benoud geword. Maggie the Maid is ’n sonderlinge karakter – die skrywer verskaf nooit ’n diagnose nie, maar sy is duidelik op die spektrum, moontlik outisties. Soos Maggie s’n werk haar kop stadig en deeglik. Alles moet op sy plek wees, ordelik en netjies. Sy los misdade op.

In hierdie roman word daar ’n episode van ’n werklikheidsprogram geskiet in die hotel waar sy hoofbediener is: Twee kleurvolle gay mans beoordeel en waardeer mense se skatte. Maggie bring haar eie, ’n ornate goue eier op ’n staander wat aan haar gegee is toe sy ’n kind was, in ’n weelderige woning waar haar ouma die skoonmaker was. Daarvan het ek gelees in ’n vorige boek. Nou ja, die eier is miljoene werd en haar lewe verander handomkeer.

Ongelukkig hou mense op die spektrum nie van veranderings en verrassings nie. Boonop kry die eier voete en daar is ’n misdaad om op te los. Dis menslik en knus en miskien het ek nou genoeg van hierdie reeks gelees. As jy ’n grinterige misdaadvraat is, gaan dit vir jou ook te soet wees.

The Maid’s Secret deur Nita Prose is deur HarperCollins uitgegee en kos R435 by Amazon SA.


Dood van James Dean (1931-1955)
fata morgana

Die silwer beseerde metaal
bloei oor die teer. Romp oop-
geruk. Roggel hortend
deur die oopgeskeurde gorrel.
Nek geknak Ribbes gekraak.
In die silwerende skemer
was hy ’n snel grys fantoom,
die eggo van ’n klank.
Nooit weer sal hy heel-
temal so geheel & al
afwesig wees nie.
Dood is ’n harde ding
om te verstaan: ’n skielike
obstruksie waarom sy chroom-
sagtheid buig, ’n muur
waarteen hy tromp-
op frommel & vou
soos ’n pakkie sigarette.
Dit was 5.45 toe die Dood hom
verbysteek met die son
wat ondergaan in sy oë,
& “crazy mixed-up kids” op soek
na die droom staar steeds na die wrak
op die flikkerende silwerdoek.

Johann de Lange

Uit: Snel grys fantoom

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe