Moenie jou geesdrif demp nie

Liewe vriende
Iemand skryf op Facebook sy voel soos 'n mislukking: Sy het haar lewe lank ander toegelaat om namens haar te besluit. Sy het nie haar stempel afgedruk op die wêreld nie.
Ons voel almal soms so. Veral hierdie tyd van die jaar, wanneer die trae najaar met geforseerde joligheid Feestyd toe hinkepink. Die dae is leeggeleef en dun om die rand.
Iemand het mooi geantwoord op haar plasing: Ons is te nietig en vervlietend in die heelal om te wil stempel afdruk, sê hy. En tog, dink ek, wil ons 'n rimpeling op die oppervlak laat. Wanneer mense my woorde lees, voel my lewe betekenisvol. En ook wanneer ek kook vir geliefdes.
Maar hoe bly 'n mens een tree voor die naamlose verdriet? Nick Cave verwoord die balans tussen lig en donker so raak:
Sadness or duende needs space to breathe. All love songs must contain duende. For the love song is never truly happy. It must first embrace the potential for pain ... The love song must resonate with the susurration of sorrow, the tintinnabulation of grief.

Dis so waar. Jollie popmusiek stem my depressief want dis 'n leuen; dis leeg. Dit ignoreer die skadukant van bestaan. Soos Milan Kundera geskryf het: Kitsch is 'n negering van die dood.
Miskien moet ons plek en tyd maak vir hartseer. Ons moet die smartlikheid van die lewe omhels en nogtans in geluk bly glo, dink ek. Almal se lewens is net-net buite beheer, ons steier om regop te bly en gryp-gryp na die stapel breekgoed wat oorhel en dreig om om te hel.
Wat ek waardeer is mense wat dit regkry on te midde van die chaos van asemhaal entoesiasties te bly. My pa was so 'n mens. In die oggend het hy, gladgeskeer en vars gestort, sy handpalms teen mekaar gevryf en saggies deur sy tande gefluit van vreugde oor die dag wat kom. Alles het hom bly gemaak. Hy het in alles belang gestel, met groot geesdrif. Hy het nét die silwer randjie van donker wolke gesien. Hy was my rolmodel.
Die mooiste kompliment wat ek dié week gekry het, is toe ek die onderstaande video vir my persoon wys en sy sê: Die dogtertjie is jy.
Dit is so. Ek sal alles probeer en aanhou probeer tot ek verspot staan en wikkel.
Toe ek baie klein was, het ek eendag gevlieg, op eie stoom. Ons gesin het saam met mense gaan stap op hulle plaas, oor liggroen heuwels. Ons het gestaan en afkyk op sagte boomtoppe wat verdwyn in die mis. Plotseling was ek oorweldig deur die skoonheid en ek het geweet: In so 'n sprokieslandskap kan ek vlieg, soos in drome. Ek het gespring met my arms uitgestrek. Dit was nie 'n lang vlug nie. Die landing was redelik sag en ek het 'n ent gerol. Die grootmense was hoogs geskok en my optimistiese pa het van daardie dag af met kommer in sy oë na my gekyk. Hy het graag gesê ek is soos die sprinkaan in 'n Nederlandse kinderboek, De kleine Johannes: Hy spring eers en kyk dan waar hy land. Ek het intussen geleer. My oorlede broer Hendrik het dit by my ingedril: As jy kan vlieg, is dit 'n droom.
In Arundhati Roy se outobiografiese boek Mother Mary Comes to Me skryf sy oor haar formidabele en veeleisende ma, Mary. Die boek is aan haar opgedra en Roy noem dat sy nooit, ooit soos Mother Mary in die Beatles-song gesê het: "Let it be, let it be" nie. My ma sal daardie woorde ook nooit uiter nie. Sy wat haarself 'n battleaxe noem. Sy word vandag 89. Ek het haar die afgelope week dikwels gaan besoek, in die hospitaal. Sy is maer soos 'n geraamte, met ingesonke oë, meestal in pyn weens 'n chroniese blaasinfeksie. Sy veg. Sy wil nog lewe.
Donderdag is sy ontslaan. Die lewe is so kosbaar, sê sy. Elke dag. Sy sien uit na die rugby vanmiddag, en al die krieket wat nog kom. Filterkoffie, heuning, pitlose druiwe, olyfolie, brandrissies en suurdeegbrood met goeie botter. En stapels boeke wat ek aandra.
Moenie moed opgee nie. Vlieg hoog in jou drome. Wikkel jou arms al lê die hoepel lankal op die grond. Neurie vir my 'n damn sad love song en fluit saggies deur jou tande oor die dag wat kom. Daar is geen dag soos hierdie een nie.
Gekneus maar vreugdevol
Deborah

die self is 'n solder
die self is 'n solder
jy klim soontoe op
met 'n trap waarvan die sporte
lankal weggevrot het
om jou te verloor
in die geur van kwepers
elk afsonderlik toegenuus
in koerantpapier se verslane berigte
in repe stoffige sonlig
wat skuins val
oor die af-oor hobbelperd
en bokse vol briewe
en koperspaan dekorasies
waarvan alle betekenis verloor is
want jy was nooit
in die regte oorlog nie
uit die kis wat ruik na kanfer
haal jy die motgevrete bruidsrok
en trek dit aan
om ruggelings te gaan lê
in die solder van die self
se onderduiking
sedert besetters die land
afgebrand het
tot herfs
en te luister
hoe dakvoeë kraak
onder sterre se gewig
Breyten Breytenbach