Mercia S. Burger se wenners

Mercia S. Burger se wenners
Foto deur Grigorii Shcheglov / Unsplash
Vandag is Mercia Burger aan die woord.

Read the story in English here.

Ek het aanvanklik met ’n veel langer lys van gunsteling 2025-boeke begin, en wou kortliks iets oor elkeen sê. Maar ek “kortliks” mos nie maklik nie. Toe eindig ek op deur heeltemal te veel te sê oor slegs ’n paar boeke. Hier is die boeke: 

Die koningin van die lug (met heelwat turbulensie)

The Aviator and the Showman (2025) deur Laurie Gwen Shapiro

Die Aviator is Amelia Earhart, en die Showman is die uitgewer George Putnam, haar man, bestuurder, spindokter en, volgens almal wat hulle as paartjie geken het, ’n opportunistiese hustler en ’n mislike mens.

Earhart is die eerste vrou wat die Atlantiese Oseaan as solo-vlieënier kruis, en in 1937 onderneem sy, met ’n groot gejuig van George, ’n eerste solo-vlug om die wêreld. Êrens oor ’n mistige see verloor sy radiokontak. Vandaar verdwyn sy. Natuurlik lei dit tot legendes, wilde raaiskote en samesweringsteorieë. Wat het regtig gebeur?

“I wish you wouldn’t go off and commit suicide, because that’s exactly what you’re doing …” het ’n vriend haar reeds voor dié vlug gewaarsku. Niemand was verbaas toe sy nie terugkom nie, en nou verstaan ek waarom.

Ek weet ook hierdie vrou het nie net die chauvinistiese glasplafon gekraak nie, sy het sommer die plafon uitgebreek en ’n nuwe een met ligte en ’n dakwaaier ingesit. 

The Aviator and the Showman deur Laurie Gwen Shapiro is deur Penguin Putnam Inc uitgegee en kos R835 by Exclusive Books.

Amelia en George. Universal History Archive / Universal Images Group via Getty Images

’n Goeie oomblik

Raising Hare (2025) deur Chloe Dalton

Dié resep werk altyd: ’n bedrukte persoon kom in kontak – soms teensinnig – met ’n diertjie, en voor jy weet het die bedrukte persoon ’n koffiebeker met genoemde diertjie se foto op. Helen Macdonald het dit met H is for Hawk (2014) gedoen, maar MacDonald se kwaai valk is nie naastenby so ’n spelerige cutie pie soos Dalton se H is vir Haas nie. “Louder than a puff, sharper than a sigh, softer than a grunt and more musical like a snort …”

Natuurlik is daar voorspelbare insigte: “I had come to appreciate that affection for an animal is of a different kind entirely: untinged by regret, complexities and compromise of human relationships.”

Maar hierdie boek sal vir jou ’n goeie oomblik van lees wees. 

Raising Hare deur Chloe Dalton is deur Canongate Books uitgegee en kos R610 by Exclusive Books.

Die weirdo

The Chronology of Water (2011) deur Lidia Yuknavitch

Ek het The Chronology of Water ’n paar jaar gelede gelees, en dit het intussen ’n kultusgunsteling geword. ’n Kampioenswemmer neuk haar lewe op deur haar selfvernietigende gedrag en gebruik dié ervarings as ’n bloed-en-water proses om ’n skrywer te word. Dis ’n literêre slagveld – fragmentaries, blatant, eerlik, eroties, humoristies en hardhandig geskryf.

Hierdie jaar het Kristen Stewart, die einste onentoesiastiese heldin van tienertrefferflieks soos Twilight, haar debuut as regisseur op die Cannes-filmfees gemaak met Yuknavitch se The Chronology of Water, waarvoor sy ’n staande ovasie gekry het. “The violent experience of being a woman,” som sy die rolprent op, en dit verwys beslis nie net na fisiese geweld nie. Gee hulle hel, Kristen.

The Chronology of Water deur Lidia Yuknavitch is deur Canongate uitgegee en kos R353 by Exclusive Books.

 In goeie en minder goeie tye

A Truce that is not Peace (2025) deur Miriam Toews

Hierdie memoires bestaan uit Toews se dagboek, korrespondensie, aanhalings, briewe en herinneringe, “… the spit of the land where writing lives,” nadat sy haar pa, en later haar suster, aan selfdood afgestaan het. Ek weet, ons almal het net mooi genoeg van ons eie en ander se ellendes gehad. Die teks is egter nie so wroegend en uitmergelend soos wat ’n mens sou verwag nie. Toews is lig op haar tone: “But what if we don’t conceive of life as a tragedy? Can we live it?”

A Truce that is not Peace deur Miriam Toews is deur HarperCollins uitgegee en kos R546 by Exclusive Books.

Iets polities

Good Jew, Bad Jew (2023) deur Steven Friedman

Kontroversieel en met tye ’n bietjie akademies, maar vir almal wat werk aan ’n weldeurdagte opinie oor die konflik tussen Israel en Palestina – moet vir seker nie nét hierdie boek lees nie, maar laat dit gerus een van vele boeke wees wat jy oor die onderwerp lees.

Good Jew, Bad Jew deur Steven Friedman is deur Wits University Press uitgegee en kos R340 by Exclusive Books.

 Kortverhale

Good and Evil and Other Stories (2025), deur Samanta Schweblin, vertaal deur Megan McDowell, en The World Goes On (2017) deur László Krasznahorkai vertaal deur John Bakti et al.

Die kwynende publikasies van kortverhaalbundels is nie net my verbeelding nie. Daar is net te min geld. Hierdie jaar moes ek ver soek, en het gelukkig op Good and Evil and Other Stories deur die Argentynse skrywer, Samanta Schweblin, afgekom. Sy kan oor enigiets ’n kortverhaal skryf, soms met ’n magies realistiese draai, en my beïndruk. 

Ek het ook weer die Nobelpryswenner, László Krasznahorkai, se onkonvensionele kortverhale, The World Goes On, probeer lees. Dit is nie sy mees toeganklike teks nie. Ek sluit dié boek egter in omdat ek ’n storie te vertelle het.

In New York het ek die bekendstelling van dié boek bygewoon. Krasznahorkai het na een van die goeie ouens gelyk. Hy het sag gepraat, skaam en huiwerig met so ’n halwe glimlag, sy gesig geset in ’n bonkige beenstruktuur met byna deurskynende waterblou oë, sy beige baadjie los en punterig. (Min mense kan ’n beige baadjie laat werk.) Hy het ’n paar keer verleë om verskoning gevra vir sy swak Engels en toe hy een van sy kortverhale voorlees, het hy gesukkel met die uitspraak van “suitcases.” Ek het ’n Gertrude Stein-ritme met ’n bietjie Joyce opgetel. Daar was toe al sprake dat hy die Nobelprys eendag sou wen.

Sy Nobelprystoespraak lewer hy in Hongaars, en sy gesig lyk voller en rustiger.  Luister hier na sy toespraak.

En soos iemand wat uitgebleep word nadat hulle ’n Golden Globe wen en hul bedankingstoespraak te lank raak, glip ek vinnig en by voorbaat Bread of Angels (2025), Patti Smith se toevoeging tot haar vorige memoires, en Zadie Smith se nuwe essays, Dead and Alive (2025) in, al het ek dit nog nie gelees nie.


 

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe