Memoirs en noirs

Memoirs en noirs
Foto deur NIR HIMI / Unsplash

Upstairs Downstairs deur Karina Marais

Ek het die bekendstelling van hierdie outobiografie bygewoon en hier daaroor geskryf. Dit was 'n toweragtige belewenis in 'n boetiekhotel by die Wieg van die Mensdom.

Karina Marais se kinderjare in Vereeniging was sorgvry, tot haar ma, wat altyd op haar voorkoms gesteld was, 'n verhouding met 'n getroude man gehad het - 'n broeder in die kerk. Haar ouers is geskei en het elk nuwe partners gekry.

Op universiteit het Karina, 'n slimkop, haar eerste prestasiebeurs gebruik om aandele te koop. Sy het ook haar man, 'n regsgeleerde ontmoet. Hulle het later die Withuis, 'n woning in Boksburg, betrek. Hy het sy eie praktyk gehad en sy het skoolgehou en gewoeker met kleinsake soos opvoedkundige speletjies vir kinders. Toe haar eerste seun gebore is, het sy op moederskap en opvoedkundige speletjies gefokus. Sy was van die Johannesburgse Aandelebeurs tot in Wall Street bedrywig en sy het kinders geleer om geld te bestuur.

Sy en haar man het mettertyd uitmekaargedryf en geskei. Op 45 sluit sy aan by 'n hoekie vir professionele eensames, teen R1500. Hulle het 3 vereistes: Jy moenie oorgewig wees nie, moenie rook nie en moet finansieel onafhanklik wees. Haar eerste afspraak was met die hoofdirekteur van meer as een maatskappy, die man saam met wie sy steeds is.

Hulle verhouding was van die begin af LAT - leef apart tesame. Aanvanklik het hulle verskillende huise bewoon, nou woon sy op die grondvloer en hy op die boonste verdieping van hulle droomhuis. Hulle het afsprake met mekaar. Saam het hulle die boetiekhotel gevestig en die wêreld deur gereis - hulle is albei smulpape.

Die skrywer se idee was om die hoofstukke te illustreer met musiek-clips (daar is QR-kodes wat jou na die video neem) van liedjies wat sy geskryf het met behulp van KI en deur KI laat opneem het. Dis nog steeds die storie wat my boei. Ek lees nie graag selfhelpboeke nie, maar hierdie het my werklik geïnspireer. Wat een vasberade, vindingryke vrou kan regkry!

Upstairs Downstairs deur Karina Marais is deur Reach Publishers uitgegee en kos $17.99 by Amazon.

Biltong en Dior deur Louis Jansen van Vuuren

Hierdie is ook soortvan memoires deur 'n Afrikaanse Fransman; 'n skrywer, digter en visuele kunstenaar. Onder andere.

As kind in Middelburg, Oos-Transvaal, het hy in sy pa se ensiklopediestel 'n afbeelding van die Venus de Milo-beeld gesien en dit in pen en waterverf oorgeteken. As Matie is hy deur Merwede van der Merwe geïnspireer om Frankryk toe te mik - waar vele van sy voorsate vandaan kom. Dit was liefde met die eerste oogopslag.

Van Vuuren, 'n ongeneeslike Frankofiel, laat Frankryk lewe vir die leser. Die hoofstukke eindig met resepte uit die Franse kookkuns soos baguettes, uiesop en Quiche Lorraine. Oor die Franse aard: "Dis nie net Dior, foie gras en Delacroix wat die Franse onderskei van ons gewone skepsels nie - dit is ook 'n lewenshouding wat onder andere passie (sonder aansitterigheid) met 'n tikkie neus-in-die-lug saamsnoer, en 'n skeut je ne sais quoi nog daarby, wat hulle so spesiaal maak. Ek glo hom, hoewel daardie neus-in-die-luggeit my afstoot en wat hy noem politesse - hoe hulle jou met groot beleefdheid kan beledig.

Van Vuuren se vertellings is vol fyn selfspot, soos toe hy homself in 'n Dior-baadjie wat 'n hele paar nommers te klein is, wou inwurm en die ontstelde verkoopsman gil: "Non!" Jy is te groot vir Dior, verklaar die verkoopsman terwyl hy die baadjie afneem.

In Parys ontmoet hy en sy partner, Hardy, verskeie sterre en beeldskone modelle. Hulle skuur skouers met Elizabeth Taylor en Breyten Breytenbach. Dis vermaaklik en onderhoudend met selfs 'n biltongresep.

Biltong en Dior deur Louis Jansen van Vuuren is deur Tafelberg uitgegee en kos R288 by Graffiti.

At the Bottom of the Garden deur Camilla Bruce

Bruce is 'n Noorweegse skrywer wat natuurlik oraloor uitgegee en gelees word. Sy is 'n voorste bangmaker, met stikdonker Gotiese elemente.

Een van die vertellers is Clara, wat alleen in 'n herehuis woon. Haar man het verdwyn en 'n bejaarde vrou wat sy as verpleegster versorg het, het die huis aan haar nagelaat. Sy sukkel met kontantvloei en toe haar halfbroer en sy vrou in 'n bergklimekspedisie sterf, willig sy in om haar broer se twee dogters in pleegsorg te neem. Dit help dat hulle skatryk is en dat daar 'n groot toelaag vir hulle versorging is.

Die ander twee vertellers is om die beurt haar niggies Lily, 'n tiener, en Violet, haar jonger sussie. Hulle is buitengewoon: Lily sien kleure wat mense se stemming en aard verklap en Violet sien dooie mense. Lily merk gou op dat hulle tante leuenagtig en gevaarlik is. Violet sien 'n man wat in die tuin begrawe is en 'n ontstoke vrou in die voorhuis. Elk van die dooies wil dringend iets van haar hê.

Dis lekker donker en bonatuurlik, hoor. Naelbyt-leesgenot.

At the Bottom of the Garden deur Camilla Bruce is deur Oneworld Publications uitgegee en kos R314 by Exclusive Books.

Weg is nie 'n plek nie deur Santie van der Merwe

Natasja is besig om te vlug. Haar man, Johnny, het hom ingespuit, 'n oordosis. Dit nadat hy jare lank skoon was. Hy is 'n musikant. Sy was baie gelukkig saam met hom en sy twee kinders wat deeltyds by hulle gewoon het. Nou het sy eksvrou haar verbied om die kinders te sien, omdat Natasja ook vroeër verslaaf was. Johnny is in die hospitaal en sal moontlik tronk toe gaan.

Sy wil wegkom uit haar lewe. Sy ry sonder plan en beland op Lelievlei, haar pa se komvandaan. Hy het soms verwys na 'n jeugvriend, George. George het ná haar pa se dood met haar kontak gemaak via WhatsApp en haar genooi om te kom kuier as sy ooit in die omgewing is.

George se huis is 'n pakrot se nes. George is 'n vrou, 'n seningrige bejaarde vrou met kort hare en mansklere. Sy is reguit en dwars. Natasja trek in en begin organiseer. George se SASSA-geld kom nie ver nie, en sy help met kos. 'n Verkeerdeveer-vriendskap ontstaan tussen hulle. George versamel oudhede en het die agtertuin in 'n towerwoud omskep.

Daar is dinge omtrent haar pa wat Natasja nooit geweet het nie, soos dat George sy eerste liefde was, maar dat sy rusteloos was en die wêreld wou sien. George het nog steeds 'n foto van Natasja se pa op haar bedkassie. Ou liefde het nie geroes nie.

Natasja is 'n lekker karakter; nie beeldskoon nie, nie brandmaer nie, maar 'n goeie mens wat weer in die lewe probeer vastrapplek kry. George is 'n korrelkop met 'n groot hart. Ek het heerlik gelees.

Weg is nie 'n plek nie deur Santie van der Merwe is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R290 by Graffiti.

stillewe met lemoene

na ’n skildery van Henri Matisse

in ’n erdebak op ’n bont stuk lap
sewe lemoene: die kleur van Spanje
se boorde waar ons post-impressionisties
liefde maak in blouswart buitelyne
die skadu’s op die vrugte is onhebbelik
onverwags: die chroma van jou oë – ’n
plas damwater waarin die hemel kaats.

Louis Jansen van Vuuren


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe