Meesters van hulle kuns

Liewe vriende
Hoe absoluut bevredigend is dit om uitnemendheid dop te hou! Daaraan het ek gedink toe ons die musical Chicago gaan kyk. In die heel voorste ry kon ons elke spier sien rimpel, elke voet sien boog en elke flank sien tril. Jazz-hande, visnetkouse. Halfnaakte dansers wie se lyf hulle instrument is; fyn ingestem, elasties, kragtig, sierlik. Hulle tol, spring, skêr en split, alles sonder 'n druppel sweet. Hulle skep betowering uit beweging en musiek, met die enigste rekwisiete 'n stoel, 'n hoed en 'n leer. Soms 'n sneeustorm van reënboogblinkers wat uit die plafon neerdaal. Gladde, soepel lywe in die kollig, gechoreografeerde spiergeheue. Verbysterende grasie.

Ek hou van altyd af mense dop wat meesters van hulle vaardigheid is. My pa was 'n beeldhouer wat met sy hande gewerk het. Om hom die eenvoudigste taak te sien uitvoer, soos 'n koerant oopvou of 'n appel skil, was 'n simfonie van grasie. Intelligente vingerpunte voer ekonomiese bewegings uit, doelgerig, akkuraat en presies. My niggie Susan, wat 'n juwelier is, het net sulke grasieuse hande wat sekuur raakvat en vorm.
Om jongmense te sien teks is ook suiwer oëverblindery; hoe die duime 'n lewe van hulle eie kry en veerlig en blitsig oor die klein skerm dans. Om krieketspelers 'n kolf te sien swaai, met fyn voetwerk en perfekte tydsberekening, is soos 'n meditasie.
Ek lees in 'n roman 'n paragraaf oor 'n swemmer:
... the first few seconds he lagged behind, almost floating. Like he wasn't in the water exactly but suspended slightly above it, hovering on the surface tension where the current was nothing but a shiver down the spine. No pressure. Information. Then, after a second, maybe a second and a half, he just ... moved. There was no other way to describe what his body was doing. It wasn't swimming. It was ... flowing. It was flowing across the river like a current moving sideways, barely kicking up any resistance when he stroked. Next to Landry, the other swimmers looked like they were drowning ... His body in the dark water looked fluid and long, fishlike. There were times when watching him we had the distinct impression of a tail.

Hy het nie geswem nie, hy het gevloei. Met die suggestie van 'n stert. Ek hou van iets wat moeiteloos lyk, asof terloops, soos 'n vlietende gedagte, 'n ingewing. Dit geld vir skryfwerk en enige medium van uitdrukking.
Ons het 'n nuwe reeks op kykNET begin kyk, Appels en tee. Dis te vroeg om 'n uitspraak te lewer, maar ek wonder waarom Afrikaanse reekse altyd so wroegend, dramaties en broeiend moet wees. Immer is daar dekadelange wrokke en griewe wat gis, geheime wat muf en donker onderstromings wat draai, soos in die Springbokradiostories van my kinderdae. Soos ons buurseuns gesê het: Wanneer die flaminke dans ... is dit die voorspel tot owerspel. Dis asof Afrikaanse TV-dramas nie heeltemal kan wegbeweeg van die melodrama van André Borstlap en Anna Neethling-Pohl nie. Niks is ooit lig en terloops nie. En Tinarie, my kind, jy is so talentvol. Hoekom gee hulle jou altyd die rol van 'n vrou wat skuins bemoerd en dwars beneuks is, buierig en befoeterd? Bedroef en vasgevang in 'n groef van bitterheid.
Iets wat wel aanbeweeg het is Afrikaanse rolprente. My f*k, Marelize het 'n verdienstelik alledaagse, amper Australiese fliek-gevoel.
Chicago se dansers inspireer my tot soepelheid. Behendigheid en buigbaarheid verg oefening.
Die brein is nie 'n spier nie, maar 'n komplekse orgaan wat bestaan uit senuweefsel, vet en ander selle. Maar die brein se funksie kan versterk word deur oefening, soos spiere s'n. Dink is 'n ingewikkelde proses wat lyk soos 'n elektriese treinstelletjie in die nag. Chemiese boodskappers genaamd neurosenders oorbrug die gaping tussen sinapse. Bou verbindings.
Iemand wie se brein so soepel soos 'n satynserp was, met 'n sierlike netwerk van bruggies, was Albert Einstein. Om te dink het nie vir hom soos inspanning gevoel nie, eerder soos speel of droom. Sy sinapse het flink gevonk en gevuur, gesing soos fietsspeke.

Ná 10 000 uur en meer se volgehoue oefening neem inspirasie en intuïsie oor, verval jy in 'n droomstaat, word alles stil en vloeiend, vonk die neurone vanself en daag 'n deurbraak soos 'n bliksemstraal op. Dan begin ons in vrye vers sing en dans soos bome in die wind.
Ek wil oefen tot ek sekuur kan sê wat ek wil sê: My naakte siel wil sonder skroom in alle eenvoud tot jou gaan.
Ek wil ook dans soos 'n derwisj, maar dis 'n onmoontlike droom. Terug na die toetsbord.
Tikkend
Deborah

By die afsterwe van 'n beeldhouer
Vir Sybrand Wiechers, 1/9/1970 – 21/9/2022)
Daar is ’n plek waar lig by violet indring
by die laaste oorgang wat bevry,
wyl Oermoer – begenadig deur opiaat –
hom nog uit die vrugwater van
kleiner beelde terugverwag.
Uit die hoek van ’n derde oog,
vermoei deur nanag-melankolie,
gewaar ek my vriend met die baard.
“Skep vir my ’n gedig uit dié Metaal-op-Hout,”
sê hy, “dan kan jy dit kry.”
Vergeefs betas, bevoel, bedink, geen digterstaal
bekwaam tot suiwerder vormgee nie.
Hoog teen die bergpad op, waar die beeldhouer
sou kon speel as kind,
beur ’n jong wit hond uit sy oopgeskulpte hande vry.
Celesté Fritze