Linkerhand in die haasgat

Linkerhand in die haasgat
Marek Piwnicki / Unsplash
Illustrasie: ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ek hóú van hipotetiese vrae. My kop is soos dié van vertellers in romans wat uit Chinees, Japannees of Koreaans vertaal is. Jammer om hulle so saam te bondel, maar uit my leeservaring blyk dit dat karakters in hierdie kulture uiters geneig is om hulleself, hulle omstandighede en motiewe te bevraagteken, eindeloos alternatiewe scenarios uit te speel en te wonder: Wat as? Moes ek miskien? Hoekom het ek nie? Wat het so en so gedink? Hoe anders kon dit nie wees as ek ...?

My gevolgtrekking is dat dit nie aantreklik is in fiksie nie; hierdie eindelose getob en getjommel. Jy moet min of meer Shakespeare wees om fassinerende lewe te blaas in ’n ruggraatlose, besluitlose dromer.

Maar die gapende moontlikhede wat parallelle heelalle bied, oorweldig my en laat my oopmond in die niet staar. Is ons in die matriks? Neo: You ever have that feeling where you're not sure if you're awake or still dreaming? Choi: All the time. It's called mescaline, it's the only way to fly.

Ek vlieg sonder hulpmiddels en wonder soms of ek wakker is. En kaksoek-vrae vang altyd my oog op Facebook. Soos onlangs: As jy die blou pil sluk, kry jy onmiddellik $10 miljoen. As jy die rooi pil sluk, is jy weer ses jaar oud met al die kennis wat jy intussen opgebou het, tot jou beskikking. Watter pil kies jy? Ek was verstom dat soveel mense sê hulle sou die rooi pil sluk.

Regtig? Ek wil nooit, ooit weer ses jaar oud wees nie. Teen ses het die skuld en smet van ’n volwasse man se lus, perversie en verveeldheid reeds soos ’n nat jas aan my gekleef. Ek wil nooit weer soos 'n vuil ding voel nie.

Op vyf is ek by die skool gedwing om met my regterhand te skryf en my hele wêreld het op sy kop gaan staan. Ek was nou 'n dronk krap, lomp en heeltemal onhandig, al kon ek lankal lees en skryf. Links. Ek het beskaamd besef dat ek al weer die kat aan die stert beetgehad het. Ek het myself verkeerd gaan staan en leer skryf, hoe dom.

Dit was vir my as kínd reeds moeilik om te hanteer, die gevoel dat ek meer snap en raaksien as waaroor ek ooit mag praat. Ek het daaroor geskryf toe ek baie jonk was en in Engels en in paarrym gedink het:

how you weary
of all the things you see
and may not say
the endless way
events fall into single file
the painfully predictable style
the familiarity
of so-called reality

Verbeel jou nou om met 'n kop en hart vol grootmenskennis in 'n sesjarige lyf vasgekeer te wees.

Nooit, ooit wil ek weer 'n koddige kind met wydsbeen voortande wees nie.

My skoolloopbaan was ’n slaapwandeling van verveling en onsekerheid. Jy kan jou nie 'n uncooler kind indink nie al probeer jy - sien die foto bo. En ek wil nooit weer ’n kind wees in ’n gesin waar ek en die primêre versorger ’n moerse persoonlikheidsbotsing het nie.

Ek wil nooit weer probeer verstaan waarom seuns meisies so opgewonde maak nie. Ek wil nooit weer romantiese afsprake beleef waar ek tot in my hakskeensenings verveeld is nie, en wonder: hoe lank nog? Ek wil nie weer wonder waarom seunspoeg in my mond my laat gril nie. Ek wil nooit weer wonder hoekom ek in die teenwoordigheid van sekere meisies en onderwyseresse ’n stamelende wrak is nie.

Ek wil nooit weer gebreinspoel word met apartheidspropaganda en oud-Testamentiese verdoemenis nie. Om gay te wees was nie eens net onaanvaarbaar nie, dit was eenvoudig nie ’n opsie nie. Nie op die tafel nie. Soos my ma sou sê: Sulke goed gebeur nie met ons mense nie.

Universiteit was beter, waar ek dromerige platoniese vriendskappe gekoester het, maar daarna het ek steeds soveel verkeerde besluite geneem. Ek reken as ek met die kennis wat ek nou het, dit alles moes oordoen, sou ek bloot nuwe foute begaan. En een van die grootste foute het gelei tot my twee lieflike dogters. Hulle wil ek nooit ongedaan maak nie.

Ek het soveel vrae oor hierdie verbeelde scenario. Wat van my mens, vir wie ek eers op die vooraand van vyftig ontmoet het? Sal sy steeds 62 wees wanneer ek weer ses is? Nee, dankie.

My lewe het al hoe makliker geraak. In my veertigs het ek my ’n vertraagde puberteit gegun. Kaapstad was my speelplek en ek het geflirt en rondgevlinder met lieflike vroue en een ikoniese manlike digter so oud soos my ma. Ek het gepubliseer en skrywers wat ek reeds ’n leeftyd bewonder, van naby leer ken.

In my vyftigs het alles begin sin maak. My dogters het vlerke gekry en begin uitblink, onafhanklik.

Nou, in my sestigs, is ek meestal rustig en dankbaar. Behalwe miskien vir hierdie verskriklike jaar. Ek sou bitter graag die almanak wou terugblaai na die nag van 12 Junie, astraal reis en ’n sekere vaak beskermengel wakker skud om op die trap te gaan staan voordat iemand vir wie ons baie lief is, se voet gly. Sedert daardie oomblik het kleure verdof en sukkel ons om te onthou wat ons bly maak. Het die jasmyn nie laasjaar soeter geruik nie? Was die koffie nie geuriger nie?

Maar weer ses jaar oud wees? Nee dankie, sê die gansie. Gooi daai dollars dat ek op die een bootreis na die ander kan vertrek. Ek sal vanuit verre wêrelddele met julle gesels, met die rustelose oseaan onder my voete.

0:00
/0:11

Vergun my asseblief die blou van vergeet.

Liefde
Deborah


maggie and milly and molly and may

maggie and milly and molly and may
went down to the beach (to play one day)

and maggie discovered a shell that sang
so sweetly she couldn’t remember her troubles, and

milly befriended a stranded star
whose rays five languid fingers were;

and molly was chased by a horrible thing
which raced sideways while blowing bubbles: and

may came home with a smooth round stone
as small as a world and as large as alone.

for whatever we lose (like a you or a me)
it’s always ourselves we find in the sea

e.e. cummings


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe