Lees Afrikaans vir Kersfees

Die jaar se uurglas loop vinnig leeg. Vandag vertel ek jou van my gunsteling Afrikaanse boeke van die jaar, as voorstelle vir die Kerskous. Volgende week deel ek die Engelse romans wat my betower het. Die onderstaande is redelik literêre romans, met veel om aan te herkou. Daarna skryf ek oor misdaadfiksie en rillers wat my bekoor het, in Afrikaans en Engels.
Binnerym van bloed – Antjie Krog
Die ma-dogter-verhouding is ’n benouende landskap van bekendheid, verknogtheid en wegbeur. In daardie landskap word die leser toeskouer. Soos alle skrywers het Antjie iemand nodig as klankbord en dokument, geloofsbrief, geskiedenis. Iemand wie se moesie-oor haar telefoon is. Ma en dogter deel ’n biblioteek vol verwysings. En ’n goddelooslike humorsin.
Dot is nostalgies oor ’n volk wat die juk van die onderdrukker kon afskud en iets van homself maak. Antjie soek na bewyse van Afrikaner-trauma ná die Boereoorlog, om te wys dat swart mense eweneens getraumatiseer is. Dot opponeer enige slagofferskap. Dis ’n fassinerende gesprek, opgebou uit briewe heen en weer en besoeke gedokumenteer, asook verslae wat deur Dot se versorgers geskryf is, bv: “Sy wil nie op die kemout sit nie.”
Natuurlik is Krog ’n plunderaar sonder weerga – dit wat geplunder word, word naatloos geïntegreer in ’n meesterlike collage waaroor die fyn hand en houtoog van Antjie waak. Ek is ademloos.
Binnerym van bloed deur Antjie Krog is deur Penguin Random House SA uitgegee en kos R360 by Graffiti.
Die grafdigter deur Gerda Taljaard
In hierdie roman wys ’n karakter die ooreenkomste tussen Russe en Suid-Afrikaners uit en vertel dat Suid-Afrikaanse boeke net sulke gekwelde, melancholiese karakters soos Russiese romans bevat, met ’n beheptheid met die kortstondigheid van die lewe.
’n Plek in ’n roman is immers nie net ’n geografiese ligging nie, dis ook ’n konsep, ’n droom, ’n verbeelde ruimte. Dis propvol bagasie, eggo’s en vals herinneringe. Dit is waarin Taljaard so dawerend slaag: Om die leser te verplaas na ’n vreemde landskap; die vreemdheid so enerverend soos die snerpende koue. Hierdie landskap is geografies maar ook emosioneel verbeel. Taljaard toor ritme en kadens uit die taal. Sy speel meesterlik met die wanbalans tussen verwagting en uitkoms, met die bedrieglikheid van voorkoms, die minieurklank van melancholie en die alomteenwoordigheid van eensaamheid en verlies.
Die sentrale karakter, Mila Kozlowa, is soms die verteller en soms sien die leser haar van buite. Die grafdigter van die titel is haar lewenslange vriendin, Zhanna, wat aangrypend lelik is, met een dwalende oog wat die bosinlike kan sien. Om die roman te lees is soos om in ’n woud te verdwaal waaruit jy nooit wil kom nie.
Die grafdigter deur Gerda Taljaard is deur Penguin Random House SA uitgegee en kos R297 by Graffiti.

Klein konings deur Theo Kemp
Twee jongerige Suid-Afrikaners, een swart en een wit, word deur ’n minister opdrag gegee om die land se monumente en standbeelde te dokumenteer. Bakens wat uitgedien is en waarvan die nuwe bedeling, wat ook al 35 jaar oud is, moontlik ontslae van moet raak.
Pixley is uit die Zoeloe-adelstand, soos baie Suid-Afrikaners. Joubert reken hy is van sy oergrootmoeder se kant verwant aan generaal Joubert. Dis dus ’n Bloedrivier-situasie. Wedersydse wantroue. Maar iets breekbaar en wonderbaarlik gebeur: Die leser word daaraan herinner dat ’n mens jouself en jou ganse verlede saamneem op reis; hoedat dit alles wat jy sien, kleur. Die twee ongemaklike reisgenote se demone het ook in die tas geklim en hulle spoke sit op die agtersitplek van die staatskar. Hoe eenders is ons almal, onder al die kultuur- en agtergrondverskille.
Die verskillende stemme en die binnelandskappe oortuig absoluut. Die twee jongmans is die produk van die gedwonge verdeeldheid wat ons land gebrandmerk en uitgehol het.
Kemp druk sy vinger in vele wonde. Die roman is ’n studie oor skuld. Niks is eenvoudig nie. Antwoorde is daar nie. Dis die karakters wat jou bybly. Dis ’n leeservaring uit die boonste rak.
Klein konings deur Theo Kemp is deur Protea Boekhuis uitgegee en kos R266 by Graffiti.
Die katartiese metode – Jaco Fouché
Hierdie boek, wat verlede jaar uitgegee is en met reg op die kortlys vir die Netwerk24 kykNET Rapport-prys was, is soos ’n doring in jou voet waarteen jy kort-kort druk om daardie lekker jeukerige pyn te ervaar. Dit bly jou by soos ’n belediging. Die onwaarskynlike heldin, Tronelle, word dae lank die metgesel van jou denke.
Tronelle is ’n karakter wat verdien om in die volksbewussyn nes te skop. Sy het gekom om te bly. Ek sal hierdie dun boek vir almal aanbeveel. Dit verwoord die chaos en verwarring van menswees. Dit geval my omdat daar van min boosheid en heelwat goedheid sprake is. Tronelle doen haar bes. Die dokter, ook beskadig, se intensies is suiwer. Haar eksman en selfs sy nuwe vrou probeer verstaan. Mense wil haar help.
Die taalgebruik en Tronelle se idioom verdien vermelding. Helder beelde slaan jou tussen die oë.
Dis donker, hoor. Dis geen piekniek met ’n asembenemende uitsig nie. Maar Tronelle se binnelandskap is ’n onvergeetlike bestemming.
Die katartiese metode deur Jaco Fouche is deur Protea Boekhuis uitgegee en kos R250 by Graffiti.
Patmos – Willem Anker
Die novelle speel in die verbeelde ruimte van ’n klein dorpie af. Die sterre is helderder as elders en daar is ’n sterrewag, wat aan Sutherland herinner, maar daar het ’n meteoriet geval, wat in die Oos-Kaap gebeur het. Daar groei sterbome, ook soos in die Oos-Kaap. Dis ’n landskap wat, soos die eiland Patmos volgens oorlewering, eens onder die see versonke was. Nou is daar net stof en apokaliptiese bossies.
’n Komponis wyk daarheen uit om die klankbaan te komponeer vir ’n futuristiese rolprent oor ruimtetuie. Hy ly aan ’n motor-neuronsiekte, is vars geskei en sien min kans vir ’n toekoms wat ’n wagkamer is, in ’n rystoel. Hy gaan loseer by ’n astronoom. Haar man is tydens ’n huisroof in hulle slaapkamer vermoor, waarna haar seun opgehou praat het.
Die novelle laat my kop loop na Sarah Kane met haar liriese krete van weersin en ontsteltenis, aan NP Van Wyk Louw se gestrooptheid en die element van drama. Aan Amos Oz se prosagedig The Same Sea. Prosa word poësie en digkuns word terloopse prosa. Dis ’n mylpaal, ’n gebeurtenishorison.
Patmos deur Willem Anker is deur Quillerie uitgegee en kos R320 by Graffiti.

Abecedarium vir Afrika
Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis
Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot
Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop
Eekhoring Engelvis Elsie Eland
Feniks Fiskaal Flamink Fisant
Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok
Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod
Ietermago Impala iMpevu Ibis
Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis
Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan
Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan
Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe
Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe
Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou
Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou
Quagga Quil snuif op Engels aan die lot
Ratel Roerdomp Rinkhals Rot
Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael
Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal
Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)
Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis
Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond
Xhama laat in Xhosa spore op die grond
Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard
Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël
Antjie Krog
Uit: Versindaba 2009