Laat jou sintel tintel

Liewe vriende
Dis 'n nuwe jaar. Ek het 'n nuwe woord geleer. Ek leer gereeld nuwe woorde, maar hulle is selde totaal onbekend aan my, meer soos mense wat ek al in die verbygaan raakgesien het maar aan wie ek nog nie voorgestel is nie. Maar soms laat 'n woord jou kopkrap omdat dit heeltemal vreemd is en jy nie eens 'n leidraad het nie. Clueless, dus.
Die woord is "sintel". Ken jy dit? Dit was in een van daardie bemoedigende memes wat op WhatsApp aangestuur word, die internet se antwoord op Helen Steiner Rice: Mag die sintel van jou menswees met jou hart en siel saam weef sodat jy nie vergeet om voluit te lewe terwyl jy probeer om te oorleef.
Ek het aangeneem dis 'n tikfout, maar 'n vriendin het dit opgesoek:
In Afrikaans, "sintel" refers to a cinder, ember, or a partially burnt piece of coal or wood. It is often used to describe small, glowing, or burnt remnants of fuel. It is closely related to the Dutch term for cinder or ember.
Dus moes Aspoestertjie – 'n woord wat geen sin maak nie en selfs vulgêr klink, verwring van Aspoetsertjie – eerder Sintelella in Afrikaans wees. Klink dalk te na aan salmonella. Jy weet seker daar is mense wat beweer die glasskoentjie was eintlik van pels, maar dis 'n ander storie.

Ook:
Selfstandige naamwoord: sintel
Meervoud: sintels
Verkleinwoord: sinteltjie
Meervoud van verkleining: sinteltjies
Betekenis:
• Stuk hout of steenkool wat nie heeltemal uitgebrand is nie; steenkoolas.
• Korrelige stolsel wat deur 'n vulkaan uitgewerp is; vulkaanslak.
Gebruik:
• In die donker kan 'n mens die sintel van sy sigaret sien gloei.
• 'n Atletiekbaan se oppervlak is gewoonlik met sintel of kunsstof oordek. - Uit: Supertaal.
Daar het jy dit. Miskien ken en gebruik jy al lankal die woord en ek was net te simpel om te weet van sintel.
Dit het my laat nadink aan die as en verbrande reste van ons menswees. Die neerslag wat agterbly soos vulkaniese as, die poeieragtige ekstrak van ons dae.

2025 se terreur – internasionaal en persoonlik – laat brokke en half-uitgebrande reste genaamd vulkaanslakke na; nog 'n woord waarop ek afgekom het in die soektog na sintel:
'n Vulkaanslak, of net slak, is 'n onreëlmatige en poreuse lawabrok met 'n skurwe, skuimagtige oppervlak wat kristalle kan bevat of nie. Dit is gewoonlik donkerkleurig (meestal donkerbruin, swart of rooipers) en basalties of andesities in sy samestelling. Dit het 'n relatief lae digtheid as gevolg van sy talle klein gasblasies - OpenTran.
Met die tyd verpoeier die steenkool, slakke en sintels in ons gemoed tot stof, 'n taai, duifgrys neerslag. Daarmee leef ons saam; die verdriet en die verbleikte vreugde wat kleef aan herinnering.
Vanoggend toe ek wou begin skryf, moes ek eers soek na my muis. Gelukkig is sy helderpienk. So totaal het ek afgeskakel en ontspan. Ons vet kat het gewig opgetel in die kattehotel.
As ek terugkyk en Desember se sintel deur my vingers laat glip, was die dae lui en traag soos stroop in die winter. Desember beteken familie, as jy gelukkig is. Met die naaste familie het jy leer saamleef en jy het hulle geite liefgekry. Maar daardie verlangse familie wat jy net een maal per jaar sien, aan tafel, is 'n turksvy. Jy sien hulle voor jou oë verouder, in jaarspronge. Jy besef wel dat mense tog kan verander, al is dit tydelik. Die swaer wat vorige jare 'n verleentheid was met sy rooi neus en immervol whiskeyglas, drink nou net twee biere en is skoon bedeesd en beleefd. Sy hoeveelste vrou is eintlik 'n liefie, al hou sy van deurskynende uitrustings wat kleef aan haar lyfie. Ons praat oor die weer.
My ma is nog in die lewe en vra 'n loopraam met wieletjies, 'n mandjie en sitplek. My dogters, wat ek ook nie veel meer as twee maal per jaar sien nie, floreer. Hulle herhaal nie my foute nie.
Daar gaan 'n nuwe papierkoerant in Afrikaans wees. Virginia Roberts Giuffre se outobiografie wat haar mishandeling deur Epstein en ander blootlê, het eers min kringe in die water veroorsaak, maar nou het bekendes soos Oprah die swaard opgeneem en hopelik sal onaantasbares spoedig aan die pen begin ry.
Oorlog het weer uitgebreek in al die gebiede waar skietstilstande was. Die Suid-Kaap is droog, maar Gauteng is groen soos 'n voetgangersprinkaan.
Hier is twee oomblikke wat uitstaan: Hartenbos se kroeg, Hoofkantoor, is so 'n skemerige ruimte met plakkate soos HOE GROOT IS JOU KLOKKE? Ja, dis alles Afrikaans en daar kleef tog 'n mate van ordentlikheid aan my volk, dit het ek self gesien. 'n Javel wat duidelik al lank op die stoep in die son sit en drink, kom binne en sê vir die kroegmoeder: "Ag tannie Joan, het jy asseblieftog vir my 'n jammerlappie dat ek net die tafel buite bietjie kan afvee."
En: 'n Niebinêre persoon is gekroon as Mej. Hartenbos Seefront. Boonop is hulle nie wit nie. Daar is 'n video. Die gehoor, amper uitsluitlik wit en binêr, het die elegante deelnemer luid aangemoedig.

Een van die grootste vreugdes van vakansie is immer die tuiskoms na die vertroude. Huis, haard en troeteldier. Die halfrond van die kopspeld. Ek het nog 'n nuwe woord geleer, in Engels: Snerdle.

Kom ons vee die verbrande reste, krummels en as bymekaar en marsjeer blymoedig voort, die nuwe jaar in. Nadat ons eers vir etlike minute snerdle in die vertroude warmte en troos van ons beddegoed.
Sintelende groete
Deborah

nieuwjaarsboodschap van Dali aan Venus
naakt slapend op haar rug
met een blos op haar gezicht
ontvangt ze de tijd van het nieuwjaar
in de schelp van haar open hand
gisteravond nog heeft de satijnen jurk
haar blote schouders in afscheid gekust
haar lichaam verlaten & is om haar enkels
beland als een stilgezette klok
toen heeft haar kale schouder
als een lege chromen hanger
tegen een andere hanger aangetikt
& is de tijd weer in gang gezet
het oudejaar was reeds ontkleed
gereed om een nieuwjaarsboodschap
in haar open hand te schrijven:
alle tijd is genummerd vlees
Carina van der Walt
Uit: Versindaba