Ko's praat kos

Ko's praat kos

Liewe tafelgenote

Vriend Gielie sê nou die dag vir my: "Deborah, jy is 'n eter." Dis waar. Kos maak my 'n paar keer per dag bly.

Die Feesseisoen het ons bekruip en tafels gaan weer kreun in die Eerste Wêreld. Die mens se idee van viering behels sonder uitsondering kos. Myne ook. Wat gaan ons eet? is op almal se lippe. Ek sien 'n swierige tafel onder bome, wit linne, kristal en silwer, soos in Antonia's Line. Kyk hoe kom die karre, Hannetjie verjaar.

Kos was vanaf die oggendskemering van die mensdom 'n prioriteit: Ons het nou eenmaal 'n mond, 'n keelgat en 'n maag. En 'n holletjie. Ek weet die geskiedenis van die aarde het lank voor Adam en Eva begin, maar dis die sprokie waarmee ek grootgeword het. Hulle het die verbode vrug geëet, want ons is skynbaar geneties geprogrammeer vir ongehoorsaamheid en geheimhouding. En vraatsugtigheid. Kaïn, die arme vegetariër, se offer was onaanneemlik terwyl Abel se brandende vleis guns gevind het voor die oog van die Heer.

Mariotto Albertinelli se Die offers van Kaïn en Abel. Foto © President and Fellows of Harvard College.

Die Bybel wemel van spyse: kwartels en manna, grannate, rosyne en appels, brode en vissies, saffraan en kaneel, melk en heuning, wyn en olie.

My eksentrieke tante wat lankal oorlede is, het haar outobiografie op 'n stokou rekenaar in Excel geskryf want dit was die enigste program daarop. Niemand kon dit later oopmaak nie. Sy het my vertel dat sy geskryf het die eerkamertafel was haar familie se altaar. My ouma het voor dagbreek al brood geknie, melktertkors gemaak voor dit te warm word, hoenders geslag, vleis gemarineer, boude gestop, ertjies uitgedop en bontgestaan. Daar was altyd ten minste drie soorte vleis op die tafel.

My ma het vertel sy het 'n oom en tante gehad wat kinderloos was en vretende tering opgedoen het. Dit was 'n erkende siekte in daardie dae. Hulle kon nie ophou eet nie. Hulle was later so spekvet dat hulle inhamme uit die tafel moes sny om hulle pense te akkommodeer. Hulle het hulle hele plaas opgeëet.

Dit laat my dink aan mukbang, 'n Oosterse gier wat oral kop uitsteek op die internet: Mense, gewone, skralerige mense sit voor 'n tafel en stop swerms hoenders, eende en ganse, skole visse, troppe kleinvee en gebraaide reptiele in hulle gesigte. Hulle lyk vir my soos zombies, soos slaapwandelaars, met leë oë. Soms staar my persoon met fassinering vir die afskuwelike na video's van 'n Oosterse vrou wat bakke vol kos verorber, met blink wange en glasige oë, asof besete deur 'n vreetgees. Mukbang maak my bang maar dit hipnotiseer my ook. Kom dit uit dieselfde kultuur waar nuuskierige motoriste stilhou om van naderby die volle grusaamheid van padongelukke te ervaar?

Daar is iets brutaal en wreed aan kook, soos in Babette's Feast. Dis nie vir sissies nie. Dis waarom ek al dekades lank nie vleis eet nie. Die eksentrieke tante van die Excel-outobiografie het eendag by 'n familie-ete langs my gesit en die oog van die gebakte skaapkop in haar mond geprop: "Mmm, die smaaklikste van die lot," het sy geprewel. My familie was lief vir andoelies: binnegoed en beesvleis gerook in 'n varkpens. Ek het dit op Wikipedia gevind: In Frankryk bestaan andouille uit varkbinnegoed, afval, wyn en speserye, gerook. Hulle het ook beestong, skaapstertjies, skaappeertjies, beesstert, pensvel, varkpootjies en wat nog verorber. Daardie suiertjies aan die afval laat my dink aan 'n rubbermatjie wat ons in die sestigs teen die badkamermuur laat vassuig het om die seep teen te plak.

Kinders doen ewe lustig mee aan mukbang; hulle ambisieuse ouers kureer dit. Daar is 'n honger Chinese kleuter op Facebook, Tiana. Haar ma plaas elke dag 'n video van Tiana se etenstyd. Sy het honderdeduisende volgelinge. Die kind is 'n flukse eter. Sy stop voor die voet alles in haar mond. Ek vermoed die video se tempo is effens vinniger gestel as in die werkikheid, of ek hoop so. Haar ma put genot daaruit om vreemde, grillerige disse vir haar op te skep: 'n hele omkrul-beestong, krewe en krappe, hoenderpote, eendtonge ('n verbasende lang orgaan wat lyk na 'n vlermuis wat platgery is), klein voëltjies (kwartels?) met nog snawels aan. Tiana laat my aan 'n robot dink. Sy het 'n vaste ritueel. Sy vra altyd dat haar ma haar borslap aansit, blaf amper militaristies-bevelend vir haar lepel en eet dan met haar volle fokus. Ná die tyd seg sy altyd: "Dankie Mamma, jy het hard gewerk." Sy is 'n stofsuiertjie. Sal die arme kind nie miskien later sukkel met porsiebeheer nie? En wat van die honger kindertjies in Afrika?

Ek was op 'n paar Afrika-feesvierings in my lewe. Daar word vir jou ingeskep: Vleis, pap en twee of drie groentes. Jy eet met die hand, fyntjies. Dis maar in nabootsing van voorheen bevoorregtes dat opkomende Afrikane hulle borde en mae oorlaai by buffets.

Dit onthou ek van Kersetes uit my verlede: Daardie ongemaklike gevoel van oorversadiging, waar jou hartklop galop en jy skaars kan asemhaal. Oordaad.

'n Mens se eetlus krimp natuurlik met die jare. Ek onthou die kerkbasaars van my kinderdae, hoeveel 'n mens op een oggend in jou mond kon stop: Pannekoek, vetkoeke, knypkoeke, melkkos, hot dogs, kerrie en rys, tjips, braaivleis, poeding, koek en spookasem. Hoedat al die suiker en verfynde stysel jou oorhoops, moedeloos en tot trane toe moeg en droef laat.

Bewaar ons van oordaad en seën ons met 'n gesonde aptyt. Kos bly een van die eenvoudigste vreugdes in die lewe, konstant. Segen, Vader.

Gesondheid!
Deborah

Eating together

In the steamer is the trout
seasoned with slivers of ginger,
two sprigs of green onion, and sesame oil.
We shall eat it with rice for lunch,
brothers, sister, my mother who will
taste the sweetest meat of the head,
holding it between her fingers
deftly, the way my father did
weeks ago. Then he lay down
to sleep like a snow-covered road
winding through pines older than him,
without any travellers, and lonely for no one.

Li-young Lee


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe