Jy was 'n popster in die kerk

Liewe vriende
Ons het in English Literature geleer van pathetic fallacy. Dit is wanneer jy menslike emosies aan lewelose dinge toedig, veral in kuns en letterkunde. Byvoorbeeld as jy skryf: Die hemele het saamgehuil op die begrafnis.

Maar Karin, jou gedenkdiens het op ’n sonnige Pretoriase wintersdag gebeur. Die soort dag waarvan jy gehou het, in jou groen truitjie of bont bloes en pienk serpie, met jou hare vlamrooi in die son.

Ek wens ek wens ons was al deur hierdie winter. Dis goed en wel as dit voel asof die natuur jou gevoelens weerspieël, soos hierdie grou, koue seisoen dit doen, maar dan raak jy moeg daarvoor en wens vir sagte reën en die wonderbaarlike liggroen van ’n nuwe varingblaar.
Rou in Afrikaans is ’n woord wat val waar dit moet. Dit rym met grou en kou, blou, vrou, trou, klou, nou, behou. Dit kan beteken om te treur of dat iets nog nie gaargemaak is nie, of onverfynd en onbeteueld is. Soos smart.
Ons het jou goedjies wat nog by ons was in jou groot swart tas gepak. Die tas wat ek geleen het vir die bootreis, waarvan die handvatsel gebreek het, wat ek nou nooit hoef te verduidelik nie. Vir hierdie reis het jy nie klere nodig nie. Vanoggend het jou sussie jou vliegkaartjie na George gekanselleer – die vakansie waarna jy so uitgesien het. Jy vlieg nou sonder tuig of vlerke. Jou bed was onopgemaak (iets wat geen bed van jou nog ooit was nie) omdat jy net gou wou gaan tee maak. Die elektriese kombers was nog aan. Jy gaan nooit weer koud kry nie.
Ek eet die plak sjokolade wat ons vir jou gekoop het in Waitrose. Ons brand jou kerse.
Ons slaap onrustig en skrik in die nagte ’n paar keer wakker, en elke keer is jy nog steeds dood. Ons oë is splete, met 'n epikantiese vou.
Ons loop al krommer van al die verlies. Daar is al hoe meer liefde, want die kring word kleiner. Ek klou nou aan traprelings vas en loop met my oë op die grond, bedag op elke boomwortel, klip, skeur en sloot. Vroeër, toe ek veiliger en minder weerloos was, het ek gehuppel soos ’n klipspringer.
Jy was ’n popster gister, jou gesig groter as lewensgrootte teen skerms geprojekteer voor en agter in die kerk wat na ’n teater lyk, met pers ligte en sagte stoele. Die hunkering in jou oë het ons almal ontwapen. Die man van wie jy geskei is toe jou kinders nog klein was, die man wat nooit oor jou kon kom nie, het jou kis huilend help dra na die lykswa. Jou volwasse kinders was verwese.

Jou foto-album is geprojekteer. Van plompgesig-baba en haasbek-graadeentjie tot beeldskone, buierige tiener en fyn vrou in haar vroeë sewentigs. Jou songs is gespeel; vir jou pa, ma, kinders en vir Robert. Vir jouself het jy, toegewyde kyker na die National Geographic-kanaal, "What a Wonderful World" gekies. And I say to myself, Lewis ...
Ek het uiteindelik verstaan dat mense begrafnisse nodig het om afskeid te neem. Die vertroude sussing van ritueel, die laaste liefdesblyk, die sagte kyk van vriende wat gekom het om ons by te staan. Troos. Die orrel en liedere oor ’n nuwe hemel en ’n aarde nuut en vry. En: Die Heer droog al die trane af. Die fyngebak, toebroodjies en gevulde eiers in die kerksaal. Askies. Tot siens.
Vandag is ons huis stil en leeg. Die familie het vertrek, ná veertig dae van bedags hospitaalbesoeke en saans uitgeput, wanhopig hopend te veel sjokolade eet in die sitkamer, soos kinders sonder toesig. Die fluweelsagtheid van wyn in die kelk. Die streling van jenewer. Nou moet ons weer ’n ritme vir ons dae bedink en rondom die gaping dans. Ek hoop ons kan leef soos jy geleef het; sodat ons eendag ’n groot gat los.
Sag reis, ons suster. Hulle sê daar is koue op pad vir Gauteng. Gisteraand reën dit in laat-Julie - uit pas vir ons provinsie. Lank en aanhoudend. Dis ons en nie die natuur nie, wat treur oor jou. Of is dit? Dié is die seisoen van mirakels en wondere.
Ons sal mooi kyk na jou vetplantjies.
Liefde
Deborah

Eterifisering
Vir 'n moeder is die dood
erger die aarde het 'n skoot
eng en droog van grond
daar lê u nou
versmoor in toegevou
die snuffelende hond
kom by die kombuisdrumpel soek
na u ek blaai in 'n resepteboek
agter u aan die boom se blare
ruis soos u rok u bly deurleef
in my chemikalieë bly volhardend kleef
aan 'n lap en aan gare
aan 'n bril en kam aan 'n postume
bestaan in sakdoek en parfume
T.T. Cloete