Januarie se skatkis

Januarie se skatkis
Foto deur Shubham Dhage / Unsplash
ANGELA TUCK

Sonder die afleiding van son, see en saffier is ek weer met onverdeelde aandag aan die lees. Ek het weggeval met 'n boek wat my bybly soos 'n oorwurm. The Dinner Party deur Viola van de Sandt is nogal 'n debuut! Ek wonder altyd hoe 'n skrywer so trefseker kan begin.

Franca woon in Londen saam met haar verloofde, Andrew. Hy is 'n catch; 'n aantreklike, welgestelde, en aanvanklik bedagsame Engelsman. Andrew moedig Franca aan om nie voltyds te werk nie, maar op haar skryfwerk te konsentreer. Die leser verneem van 'n ineenstorting vroeër, dat sy in 'n senukliniek opgeneem is, en van 'n verpletterende liefdesteleurstelling in Nederland, waar sy vandaan kom. In gesprekke met haar sielkundige en in briewe lees ons van haar studies in Utrecht, waar sy die aantreklike, briljante en sensitiewe Harry uit Engeland ontmoet het en hulle onafskeidbaar was. Harry wou meer hê, maar sy het haar haar toekoms anders voorgestel.

Nou is Franca weer opgeneem, nadat daar iets afgrysliks gebeur het by 'n aandete wat Andrew vir sy twee kollegas gereël het om 'n belangrike bekendstelling van hulle patent te vier, en wat sy moes voorsit. Sy moes bontstaan, skoonmaak, kook en voorberei. Die een kollega hou van haas en Franca, vegetaries, moet twee afgeslagte hase gaan koop - vierkantige voortande nog intakt, sodat die koper en die polisie kan weet dis nie katte nie. Sy gril haar in 'n ander bloedgroep in. Uiteindelik breek die yskas en die hase gaan af. Sy stop 'n hoenderhol vol vulsel. Terwyl sy swoeg en werskaf kom verkrag Andrew haar van agter af. Sy noem dit nie by die naam nie, maar "bad sex".

Een van Andrew se kollegas bring iemand saam - Harry, wat intussen uit Utrecht terug in Engeland is. Hulle is in die greep van 'n hittegolf, alkohol vloei en die aand raak toenemend surrealisties. Tussen die gebeure is daar terugflitse en gesprekke. Iets moet skietgee, dis duidelik.

Dis 'n fassinerende studie van verlies. Jy sal die einde nie sien kom nie. Of miskien sal jy, maar ek het nie. Dis 'n wonderlike huishoudelike noir vol nuanse. Jy kan nie ophou omblaai nie.

The Dinner Party deur Viola van de Sandt is deur Headline Publishing Group uitgegee en kos R440 by Exclusive Books.


The Token deur Sharon Bolton is soos 'n vaart op 'n seiljag in 'n verwoestende storm. Jy word heen en weer geslinger, hulpeloos. Sewe mense ontvang 'n naamlose brief wat hulle inlig dat hulle by die afsterwe van Logan Quick geregtig is op 'n gelyke deel van sy boedel. Quick is een van die rykste mense in Engeland. By die brief is 'n muntstuk met Romeinse bewoording en 'n syfer, een tot sewe.

Die ontvangers ken Quick van geen kant af nie en vermoed dis 'n bedrogspul. Blykbaar is dit noodsaaklik dat hulle by sy afsterwe die munt toon. Die houer van die munt kry die erfdeel, nie die geadresseerde nie. Dis duidelik dat die eksentrieke biljoenêr nie hulle belange op die hart dra nie.

Jy kan jou die pandemonium indink toe die pers die storie breek: Logan Quick is sterwend aan pankreaskanker en het sewe munte en briewe uitgestuur. 'n Joernalis onthul selfs die name van die ontvangers. Van toe af is hulle lewens chaos, gekenmerk deur inbrake en roof, mense wat geld vra, paparazzi wat agtervolg. Toevallig verkeer al sewe, wat heel uiteenlopende mense is, in ernstige geldnood.

Dan kom die uitnodiging: Hulle moet na sy eiland kom, per boot wat hy sal verskaf, en die munte wys. Al sewe moet kom, of niemand nie. Die seereis is 'n nagmerrie en opeens besef hulle wat die verband tussen hulle is. Jy moet maar self lees hoe dit uitspeel. En miskien besef dat skielike rykdom nie die antwoord op jou gebede is nie.

The Token deur Sharon Bolton is deur Orion Publishing Company uitgegee en kos R440 by Exclusive Books.


Broken Country deur Clare Leslie Hall is ook 'n boek wat homself lees. Jou vingers bly omblaai om agter die kap van die byl te kom. Dit speel op 'n plaas in Engeland af. Beth is 'n boervrou wat van sonop tot sononder swoeg saam met haar man, Frank. Hy is 'n toegewyde boer en 'n regverdige, liefdevolle man. Sy jonger broer, Jimmy, woon en werk ook saam met hulle. Daar hang egter 'n skadu oor die plaas. Beth en Frank se seuntjie, Bobby, het verongeluk. Die leser leer eers later hoe en waarom Frank homself verkwalik.

Alles word op die spits gedryf wanneer 'n beroemde skrywer, Gabriel Wolf, terugkeer na sy grootwordplaas, langs Frank en Beth s'n. Anders as hulle is hy skatryk. Beth en Gabriel het 'n geskiedenis. As kinders was hulle mekaar se eerste liefde. Die aantrekkingskrag is steeds daar. Beth begin omsien na Gabriel se seun, Leo, min of meer dieselfde ouderdom as haar oorlede seun. Sy ma woon in Amerika. Sy en Gabriel beweeg nader aan mekaar soos magnete.

Tussendeur lees ons van 'n hofsaak wat aan die gang is. Iemand het iemand anders doodgeskiet. Beth is elke dag in die hof. Meer wil ek nie weggee nie.

Dis atmosferies en aangrypend.

Broken Country deur Clare Leslie Hall is deur John Murray Press uitgegee en kos R405 by Exclusive Books.


May All Your Skies Be Blue deur Fiona Scarlett is iets heel anders. Dit begin in die 1960's: Dean, sonverbrand en taai van 'n suigroomys, kyk na die nuwe haarsalon. En die eienaar se dogtertjie. Sy staan agter haar ma, hy merk haar donker oë en teruggetrokke houding op.

Die eerste hoofstuk lees moeilik omdat dit in Ierse dialek of eerder segswyse geskryf is, bv:

But they were shooed away to fuck. The shutter pulled and locked when done - never got a proper goo at all. Yet they were getting a bit of a goo now, so they were, at a tiny woman with a great scattering of a laugh, joking with the removers, even though no removing was being done. Only adding.

Die storie ontvou oor verskillende tydvakke. In die sestigs het Shauna en haar ma, 'n haarkapper, na 'n klein dorpie in Ierland verhuis. Sy leer die ondeunde driemanskap Mark, Pamela en Dean ken. Sy en Dean sien mekaar van kleins af raak en hulle harte is verknog aan mekaar. Dean is 'n mooi seun wat na James Dean lyk, maar hy skaam hom vir sy dronk ouers.

Almal wil wegkom uit die dorpie, maar net Dean slaag daarin. Pamela sou saamgaan, maar haar ma is met vroeë Alzheimer gediagnoseer en sy wy haar lewe aan haar. Nou is Dean terug op die dorp, vir die eerste keer.

Dis 'n liefdesverhaal wat aan die hart gryp, onvolmaak en vol gate soos alle menseverhoudings, wat klop van verlies en verspeelde kanse. Moenie 'n gelukkige einde verwag nie. Dis lieflik geskryf, teen die tiende bladsy maak die Ierse idioom perfek sin en dis boonop hoogs poëties.

May All Your Skies Be Blue deur Fiona Scarlett is deur Faber & Faber uitgegee en kos R450 by Exclusive Books.

W.B. Yeats


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe