Is ek nog sy?

Is ek nog sy?
Foto deur yueying sun / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Dink jy ook soms terug aan Covid en die inperking en dit voel asof dit in 'n ander leeftyd met iemand anders gebeur het? Tog het sekere dinge vir altyd verander. Pre-coronavirus het ek soggens opgestaan, gewas, aangetrek en my mooigemaak om die dag tegemoet te gaan. In grendeltyd was daar min rede vir mooimaak: Ek het opgestaan en na my rekenaar gestrompel. Dit het die nuwe normaal geword. Wanneer 'n mens winkel toe gegaan het, was jy gemasker en het jou afstand gehou van ander mense. Soos skepe in die nag het ons tussen die rakke van Woolworths geseil.

Joan Mateu/AP.

Ná Covid werk ek van die huis af, meestal kaalvoet en in slaapklere. Nou stort ek dikwels eers in die namiddag. Tot dan is ek ongekam. Soms vang ek my oog in die spieël en herken myself nie. Soms moet ek dringend winkel toe, soos nou die dag. Soos 'n Walmart-mensie staan ek in die betaaltou en wag, hare ongewas en in 'n stywe poniestert agter die kop vasgemaak, in sweetpakbroek met bokknieë en die T-hemp waarin ek geslaap het, nie 'n smeersel grimering aan die gelaat nie. Iemand roep my naam. 'n Blonde vrou, goedversorg, keurig gegrimeer, deur 'n ring getrek, vertel my sy lees alles wat ek skryf. Sy is 'n fan, sê sy.

Iemand wat ek ken het iets erger oorgekom. Sy is 'n sanger en 'n openbare figuur. Sy vertel sy stap een keer voor 'n show by 'n openbare toilet in. Daar kyk 'n ouer vrou stip na haar. Sangeres moes 'n hele ruk verwyl om, soos sy dit uitdruk, 'n kleiduif te passeer – plankevrees, sien. Toe sy die onwelriekende hokkie oopmaak, staan die vrou reg voor die deur om haar te vertel sy is haar grootste fan.

Ek het 'n podcast geluister, op 'n vriend se aanbeveling en besef waarom ek nie van podcasts hou nie: 'n Vieslike ongeduld ry my bloots. Ek lees vinniger as wat mense praat. Die hele lange onderhoud sou ek eerder wou lees, gekondenseer in 'n paar paragrawe. Op Gielie se aanbeveling stel ek die spoed op 1.8 en toe is dit draaglik. Dit was 'n onderhoud met Mary L. Trump, Donald se broerskind. Sy het twee boeke geskryf wat soos soetkoek verkoop het, wat lig werp op sy problematiese psige. Toe hulle haar vra of haar oom dom is, antwoord sy onomwonde: Ja. Sy kwalifiseer dit: Hy is ongeleerd en ongeletterd in kuns en kultuur. Maar hy is nie 'n totale idioot nie, want sy likkewaanbrein weet goed hoe om mense te manipuleer. Ewenwel, waarom ek dit vertel: Sy trek sterk op Donald. Sy sê dis ironies dat sy meer na hom lyk as na haar ouers. Maar as mense haar van verneem en vra: "Are you related to ..." antwoord sy "No". Ek sou ook.

Mary L Trump. ABC News.

'n Mens moet ook waak teen luide opmerkings in restaurante. Mure het ore en die dorp is klein. Nou die dag sit ek en my mens in 'n koffiewinkel. Die vrou in die booth agter ons probeer om twee vroue wat buite wag se aandag te trek, tevergeefs. My hulpvaardige metgesel vang hulle oog en beduie na die vrou. Hulle kom ingestap. Die vrou kom bedank haar en sê dis die lede van haar biduurgroepie. Ek en my persoon gesels. Sy wonder oor iets en sê luid: "Waddefok?" Ek maak groot oë en beduie na die biddendes agter haar. Sy probeer korrigeer: "Wat sê Okkie?" En toe: "Waddehél, Okkie?" Ek sê:"Kom ons gaan liewer. Ons is nie vroom nie."

Ek onthou Milan Kundera het geskryf dat een karakter haar lewe leef asof voor 'n onsigbare gehoor. Ek dink mense doen dit toenemend, weens sosiale media. Die hele wêreld word ingenooi in jou eetkamer, jou badkamer, jou bed. Alles is 'n Instagram-oomblik. Jy maak seker dat die wit beddegoed kunstig verkreukel is en skop die afgeleefde teddie en die verlepte kussing weg voor jy kliek. Elke oomblik word gemeet aan fotografeerbaarheid. Jy beskou die lewe deur 'n klein skermpie. Foute en selfs mense kan uitgephotoshop word. Jy's stilis, choreograaf en kurator. Jou selfbeeld is afhanklik van likes en loves. Duimpies en hartjies. Dit het alles so dun geword.

Ek kyk in die spieël en wonder of ek nog sy is. Moet my mondhoeke afrem soos dié van die voormalige Prins wat nou net Andrew is? Waarheen het my ooglede verdwyn?

Ek dink nie gebrek aan privaatheid gaan een van my probleme word nie. Tog wend ek nou lipstif aan voor ek uitgaan, en kam my hare, vir die wis en die onwis. Miskien is daar nóg 'n fan daar buite.

Liefde
Deborah

Oh No!

Don't do love, don't do friends
I'm only after success
Don't need a relationship
I'll never soften my grip

Don't want cash, don't want card
Want it fast, want it hard
Don't need money, don't need fame
I just want to make a change
I just wanna change, I just wanna change
I just wanna change, I just wanna change
I just wanna change

I know exactly what I want and who I want to be
I know exactly why I walk and talk like a machine
I'm now becoming my own self-fulfilled prophecy
Oh! Oh, no! Oh, no! Oh, no!

One track mind, one track heart
If I fail, I'll fall apart
Maybe it is all a test
'Cause I feel like I'm the worst
So I always act like I'm the best

If you are not very careful
Your possessions will possess you
TV taught me how to feel
Now real life has no appeal
It has no appeal, it has no appeal
It has no appeal, it has no appeal
It has no appeal

Marina


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe