Hondeliefde en aflewerfietse

Read the article in English here.
Die wonder van lees mag nie onderskat of onderwaardeer word nie. In 'n jaar wat, soos elke jaar, te lank word, wanneer alles voete sleep en moeg lyk, is daar nog altyd boeke, én nuwe boeke wat elke dag verskyn.
Kom ek vertel jou van twee boeke wat my uit die alledaagse gelanseer en my met wonder vervul het.
When the Cranes Fly South deur Lisa Ridzén is uit Sweeds vertaal en volgens die voorblad 'n internasionale topverkoper. Ek kan sien waarom. Dis een van daardie stil, wonderbaarlike boeke wat jou aan die hart gryp, soos The Book Thief. Dis vol deernis en menslikheid, en die droefheid van verganklikheid.
Bo Andersson in 89. Hy woon in die huis waarin hy grootgeword het en wat hy later van sy ouers geërf het, saam met sy geliefde hond, Sixten – 'n Sweedse elkhond. Hulle is mooi diere wat 'n bietjie soos 'n husky lyk. Ek wys jou, want Sixten is 'n belangrike karakter in die boek.

Bo en sy vrou Fredrika was gelukkig getroud, op hulle manier. Hy het in die saagmeule gewerk en sy het groente geplant en verlang na haar tuisstreek en familie. Sy het demensie gekry en hulle seun, Hans, het haar in 'n inrigting laat opneem omdat Bo nie meer vir haar kon sorg nie. Hulle besoek haar soms, maar dis nie 'n aangename ervaring nie. Sy herken hulle nie meer nie, sy is nie meer teenwoordig agter haar oë nie en Bo reken sy is net 'n dop van haarself. Sy ruik nie eens meer na haarself nie maar na goedkoop seep en ontsmettingsmiddels. Bo hou haar geliefde serp in 'n fles op die kombuistafel en ruik soms daaraan. Sy rumatiekvingers kan nie meer die fles oopmaak nie, die versorgers draai dit vir hom oop.
Hy kan ook nie op die bed in hulle kamer slaap nie. Hy en Sixten slaap op die dagbed in die kombuis. Bo se balans is nie meer betroubaar nie, sy oë word dof en hy het allerlei pyne. Hy is nie meer honger nie; kos proe anders as vroeër, slymerig. Hy slaap deur die dae en skrik net wakker om Sixten 'n draai te laat loop. Die versorgers teken daagliks aan wat hy geëet het en hoe hy voel, soos die versorgers in Antjie Krog se Binnerym van bloed. Hulle dwing hom min of meer onder die stort in en hulle gee vir Sixten kos en water en gaan stap soms met hom, al is dit nie in hulle werksbeskrywing nie.
Bo se seun Hans is in sy vyftigs en ongelukkig. Hy is geskei, eensaam en uitgestres weens sy werk. Hulle verhouding was nooit optimaal nie en nou is hy die baas. Hy voel Bo is te oud om na Sixten te kyk en soek vir hom 'n ander huis. Hy wil nie hê Bo moet vuurmaakhout in die skuur gaan haal nie, want hy mag op die ys gly en val. Hy laat die dagbed, 'n erfstuk van Fredrika se ouers, wegkarwei pandjieswinkel toe en installeer 'n hospitaalbed met allerlei verstellings in die kombuis. Die bed is te sag vir Bo.
'n Mens wil Hans as die vyand sien wat Bo se geluk bedreig, maar telkens gebeur iets wat hom reg bewys: Bo val in die woud en kan nie opkom nie; Sixten se waterbak is leeg. Die einde is onafwendbaar soos die dood, soos verval.
Die hoofstukke in die hede word afgewissel deur herinneringe: Bo leef toenemend in sy kop en in helder drome oor die verlede. Hoedat hy dit as vanselfsprekend ervaar het om jonk en sterk te wees, met 'n goeie, mooi vrou. Hoedat hy en Hans graag gaan visvang het toe die seun klein was.
Verder terug ook, sy onverbiddellike, wrede pa. Sy sagte ma – die eerste vyf jaar van sy lewe, voordat hy skool toe is, toe hy en sy ma alleen op die plaas was en sy pa net soms teenwoordig was, was die gelukkigste van sy lewe. Ander honde wat hy liefgehad het.
Dit word sonder omhaal of smuk vertel, eenvoudig. Dis eenvoudig hartverskeurend en betowerend. Die leser besef opnuut hoe kort 'n lewe is. Ons maak Bo se hele lewensloop gekondenseerd mee en sien hom in verskillende fases; nie net die kwasterige ou man vol woede en skete nie. Hou die snesies gereed. Dis die ideale geskenk.
When the Cranes Fly South deur Lisa Ridzén is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R390 by Exclusive Books.

Nog 'n boek vir die Kerskous is One Minute Away deur Mark Watson. Watson is 'n Londense skrywer en komediant. Hierdie roman roer eweneens die hartsnare.
Damir het sy vriend Goran van Kroasië af Brittanje toe gevolg om 'n beter lewe te soek. Hulle is afleweraars; Goran op 'n motorfiets, Damir op 'n trapfiets. Hulle woon saam in 'n karige woonstel en jaag heeldag van een aflewering na die ander, in wind en reënweer. Hulle het te make met ontevrede klante - die restaurant laat dit altyd klink asof die bestelling gereed is, terwyl die joggies moet staan en wag dat dit voltooi word. Dan word hulle blameer vir die koue kos. Hulle wil graag spaar, maar Goran betaal nog af aan sy motorfiets en Dimar stuur elke maand geld huis toe vir sy bejaarde pa en werklose suster.
Hulle is konstant moeg en honger. Dan gebeur daar iets wat die koers van Damir se lewe verander. Die restaurant is weer laat en gee boonop die verkeerde bestelling. Toe Damir daarmee opdaag, by 'n luukse huis in 'n gegoede area, storm die eienaar uit, verskree hom en gooi die sak met edamame-bone in die vullisblik.
Op 'n ander dag slaan hy water af in 'n doodloopstraat – hulle mag nie die restaurante se badkamers gebruik nie – toe 'n tiener hom dophou uit 'n huis. Dieselfde huis met die buffelagtige bone-weggooier. 'n Mooi vrou kom uit en praat vriendelik met hom. Hy vra om verskoning en sy dring daarop aan om vir hom 'n fooitjie te gee om te vergoed vir haar man se ongepoetste gedrag.
Daar verskyn 'n fooitjie van duisend pond in sy rekening. Dis ongehoord. Hy daag weer by haar huis op om te hoor of dit 'n fout was. Dit was nie. Sy nooi hom in vir 'n bier en hulle raak aan die gesels. Daarna teks hulle gereeld. Net nog 'n verveelde, jagse middeljarige vrou, dink die leser. Maar tog nie. Daar is iets mooi en breekbaar tussen hulle, maar alles dui daarop dat dit op 'n fiasko gaan uitloop.
Lees maar self wat gebeur. Dis 'n roman wat 'n mens tweedehands laat ervaar hoe dit is om jou voete te vind as vreemdeling in 'n onbekende land met 'n taal wat jy sukkel om baas te raak. Dit laat jou nadink oor eensaamheid en aantrekking. Ek beveel dit hoog aan.
One Minute Away deur Mark Watson is deur HarperCollins uitgegee en kos R455 by Exclusive Books.


My Old Dog’s Eyes
Do you know where the time has gone?
My dog’s eyes ask of me
beyond her cloudy cataracts
I wonder what she sees
Do you dog-dream in memories
of ancient puppy days?
A thousand sticks, a million licks
A zillion words of praise
Do you remember all the smiles
you painted on my face?
Our favourite walks in Amsterdam
Our secret, special place
Do you recall that old park bench?
You’d fetch and I would throw
Through daffodils, through summer lakes
Through fallen leaves, through snow
Do you know, with your weak back legs
as seconds slip away
through your blind eyes and deafened ears?
I see and hear each day